13 Mei 2026 Ons is gesels vandag verder oor, MY REIS VANUIT DIE DUISTERNIS (die…
DIE WAARHEID oor die KRUISIGING en die SIMBOOL van die KRUIS, Deel 22: Koning Hiskia – wat ons leer oor die GEESTELIKE WORTELS van siektes en die verwydering daarvan
27 Augustus 2025
Ons gesels verder oor die TWYFEL wat onder gelowiges ontstaan het gedurende die laaste aantal jare oor die metode van KRUISIGING van YESHUA ons MESSIAS asook die SIMBOOL van die KRUIS.
Ons gesels nog oor die konings van die SUIDRYK (Judah en Benjamin vandag bekend as die Jode) vanaf die jaar 924 tot 597 voor die geboorte van Yeshua die Messias. En as deel van ons gesprek oor wat ons leer vanuit die lewe en regering van koning Hiskia, die 13de koning van die SUIDRYK en spesifiek in 2 Kronieke 30:18-19 dat Hiskia vir die mense wat die PASGA kom vier het GEBID het (dus vir hulle ingetree het voor Abba Vader) en gevra het dat God VERSOENING DOEN (die vrede herstel met Hom) vir elkeen wat sy HART (sy SIEL, gedagtes en emosies en vrye wil) daarop gerig het om God, YHVH, die God van sy vaders, te SOEK, al was dit nie volgens die REINHEID van die heiligdom nie (al was dit nie soos voorgeskryf in die wette vir reinheid nie). En YHVH het Hiskia (se gebed) verhoor (beantwoord) en die volk genees het.
Ons het verlede week gesels oor die BLOUDRUK van die TABERNAKEL/ TEMPEL en hoe dit vergelyk kan word met die mens se GEES, SIEL en LIGGAAM.
En ons het die volgende belangrike dinge geleer:
- Die SIEL (verstand/ gedagtes) en GEES (hart/ emosies) waarin ons VRYE WIL geleë is, is ONSKEIBAAR en het ‘n effek op die LIGGAAM se DADE, WOORDE en GESONDHEID en ja ook op jou en my EWIGE EINDBESTEMMING!
Ons word GEWAARSKU en AANGEMOEDIG in die Woord om die HART (ons emosies), maar omdat GEES en SIEL EEN is, ook ons DENKE (gedagtes) meer te bewaar (met meer sorg op te pas) as enige iets anders want daaruit word ALLES bepaal wat ons DOEN en PRAAT met ons LIGGAME. DUS is die mens se GEES en SIEL en die BESLUITE wat jy neem met jou VRYE WIL op grond van jou DENKE en EMOSIES die DRYFVEER van WAT ons sal KIES om met ons LIGGAAM, oë (dit waarna ons kyk), ore (waarna ons luister), monde (wat ons eet, drink en sê), hande (waarmee ons, ons besig hou) en voete (waarheen ons gaan), te DOEN! En dit sal die kwaliteit (gehalte) en aard van jou VERHOUDING met GOD, JOUSELF en ANDER MENSE bepaal asook ‘n groot rol speel in jou GESONDHEID en ja ook jou EWIGE EINDBESTEMMING! (Lees 2 Korinthiërs 4:16-18).
Dus kan ons sê daar is ‘n DIREKTE VERWANTSKAP tussen hoe dit met jou GEES en SIEL gaan (jou verstand/ gedagtes en hart/emosies) en HOE dit met jou LEWE en jou GESONDHEID gaan. Hoe weet ons dit? Abba Vader sê in Sy Woord by monde van Johannes in 3 Johannes 1:2: “Geliefdes, ek wens dat dit met jou in ALLES GOED mag gaan en dat jy (so) GESOND is, soos (wat) dit met jou SIEL (jou verstand/ gedagtes en jou hart/emosies en die besluite wat jy neem) GOED GAAN;…” En dan koppel Johannes hierdie “goed gaan” en “gesondheid” in vers 3-4 aan mense wat van die WAARHEID (die Woord van God) GETUIG en daarin WANDEL (daarvolgens LEEF)!
Dit beteken dus dat ‘n mens se SIEL (gedagtes, emosies en vermoë om goeie keuses te maak) GESOND GEHOU word deur die WOORD van GOD! En dit word bevestig in Spreuke 4:20-23 “My seun, LUISTER na wat ek sê, neig jou oor tot my WOORDE, laat hulle nie wyk (weggaan) uit jou oë nie (lees die WOORD), BEWAAR hulle (die WOORD) binne-in jou HART (binne in die Allerheiligste Gedeelte van jou Tempel, binne die VERBONDSARK waarin YHVH se WET opgeskryf staan in jou HART). Want hulle (my WOORDE) is die LEWE vir die wat hulle VIND, en ‘n GENESING vir hulle HELE LIGGAAM. Bewaak (beskerm) jou HART (jou gedagtes en emosies) meer as ALLES wat bewaar (opgepas) moet word want daaruit is die OORSPRONG van die LEWE.” Die NLV sê: “Bo alles, wees VERSIGTIG met wat in jou HART aangaan. Wat jy DINK, BEPAAL ALLES wat jy DOEN.” En dan gee Spreuke 4:24-27 ook vir ons die RIGLYNE oor HOE ons, ons HARTE bewaak sodat ons LIGGAME sal DINK en DOEN en PRAAT wat vir YHVH ons God aaneemlik sal wees naamlik:
- “Verwyder van jou die VALSHEID van jou mond (leuens/ vals getuienis en misleiding van jouself of jou naaste), en hou ver van jou af die VERKEERDHEID van lippe (kwaadspreek, laster, woede teen jouself en ander)”.
- “Laat jou oë REGUIT KYK en jou OOGLEDE hulle reguit voor jou uit hou (waak teen ontrouheid en die gees van wellus sowel as ‘n kritiese, veroordelende oog).”
- “Maak die PAD van jou VOET GELYK en laat AL jou WEË VAS wees (leef volgens Abba Vader se wette, bevele en riglyne)”.
- “Wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid” Die NLV sê: “Bly weg van wat verkeerd is”.
Al hierdie dinge is in lyn met Abba Vader se LIEFDESWET, die TIEN GEBOOIE en Yeshua ons Messias se verduideliking daarvan n Mattheus 5:17-48.
Hierdie Skrif gedeeltes sê dus duidelik aan ons, ‘n mens sal so GESOND WEES as wat dit met jou SIEL (dit wat jy DINK en VOEL) goed gaan – dus WEET ONS, die GEHEIM van GENESING lê in die SIEL van die mens – m.a.w DIT WAT JY DINK en VOEL!
Die Bybel in Praktyk sê die volgende hieroor: Ons emosies en gevoelens van liefde en begeerte bepaal in ‘n groot mate hoe ons lewe, want ons maak tyd vir dit wat ons geniet. Spreuke 4:20-27 raai ons aan om ons emsies onder beheer te hou en te konsentreer op gedrag wat ons sal help om op die regte pad te bly. Maak dus seker dat dit wat jy dink en jou gepaardgaande emosies jou op die regte pad stuur (Abba se small weg). Een van die vrugte van die HEILGE GEES is SELFBEHEERSING. Dus kan ons met die krag en leiding van die Heilige Gees in ons, ons begeertes beheer en nie alles wat ons sien te wil hê nie want dit is soos Paulus verduidelik in 1 Korinthiërs 13:11 toe ons kinders was het ons GEPRAAT, GEDINK en GEREDENEER soos kinders, maar wanneer ons volwasse mans en vrouens in Yehsua ons Messias word hou ons ons nie meer besig met die dinge van ‘n kind nie. Ons kyk met die hulp van die Heilige Gees voor ons en ons hou koers met ons oë gerig op die PAD na Abba se Vaderhuis en ons volg op hierdie pad van GEHOORSAAMHEID aan SY WOORD in die voetspore van ons REDDER en VELROSSER, Yehsua die Messias.
Paulus verduidelik dit in 2 Korinthiërs 10:4 dat ons ELKE GEDAGTE wat ons DINK aan Yeshua ons Messias (dus aan wat in die Woord van God ons Vader opgeskryf staan) GEHOORSAAM moet maak. So HOE sal ons dit regkry? Ons moet die Woord daagliks eet (inneem deur ons oë en ore) sodat dit die basis kan word waarop ons DINK en VOEL en dus waarvolgens ons BESLUITE sal neem en KIES om op te TREE.
So omdat ons dit weet, het ons mos nou duidelikheid oor HOE om ons LEWENS en GESONDHEDE te VERBETER! Ons moet BEGIN deur vas te stel wat aangaan in ons GEDAGTES en EMOSIES! En dan moet ons van AL die GEDAGTES en EMOSIES ontslae raak wat nie in lyn met die WOORD van YHVH ons God is nie. En hoe meer ons in lyn DINK met wat die WOORD aan ons sê, hoe meer sal ons WOORDE wat ons teenoor onsself en ander mense spreek, gevul wees met die GENESINGSKRAG van die WOORD!
- Wat ons egter ook in gedagte moet hou is dat ons GESONDHEDE nie net bepaal word deur ons GEESTELIKE toestand nie, wat ook ons LEEFSTYL KEUSES sal beinvloed nie, maar ook deur dit waaraan ons in die wêreld blootgestel word soos virusse, bakterieë en ongelukke, maar selfs daarteen word ons beter beskerm waneer ons binne Abba se WIL leef deur GEHOORSAAMHEID aan Hom.
- En dan moet ons ook aanvaar dat elkeen van ons net ‘n BEPAALDE TYD op aarde het. Ons weet dat mense voor die vloed honderde jare oud geword het – Adam was 930 jaar toe hy gesterf het en Metusalag was 969 jaar, dus het hy byna ‘n 1000 jaar geleef (lees Genesis hoofstuk 5). Onthou die Woord sê aan ons vir Abba Vader is ‘n 1000 jaar soos ‘n dag en ‘n dag soos ‘n duisend jaar (Psalm 90:4 en 2 Petrus 3:8)! En ons weet in die DUISENDJARIGE VREDESRYK, wat deur die FEES van TABERNAKELS (Abba Vader se sewende fees) en die SEWENDE DAG SABBATRUS uitbeeld word, sal mense weer baie oud word (lees Jesaja 65:20).
Maar SONDE het die mens se lewe kom VERKORT. Adam en Eva het na die sondeval kort duskant ‘n duisend jaar oud geword. En nadat die gevalle engele hulle orde wat God vir hulle vasgestel het, oortree het en aardse vroue vir hulle geneem het, en kinders by hule gehad het, het Abba gesê die mens sal voortaan net 120 jaar oud word (Genesis 6: 1-4 en 2 Petrus 2:4). En na die uittog uit Egipe en die veertig jaar in die woestyn het Abba Vader die mens se jare beperk na 70 en as ons sterk is 80 (Psalm 90:10). Ons weet ook dat ‘n lang lewe gekoppel word aan spesifieke GEHOORSAAMHEID in die Woord, soos byvoorbeeld gehoorsaamheid aan ons ouers (dus aan gesag oor ons). Eksodus 20:12 en Mattheus 15:4-9.
Die wêreld probeer vandag om deur medikasie en allerhande ander wyses hierdie perk op ouderdom te verbreek maar alhoewel daar heelwat mense vandag 80 jaar oorskry, is die meeste mense wat 80 jaar vebysteek se liggame baie broos en benodig hulle versorging. En so sal dit wees want die Skepper van hemel en aarde en alles daarin het so besluit weens die sondige toestand van die mens waarin die mens geweldige skade kan doen aan homself, ander mense en die aarde as God sou toelaat dat die mens vir ‘n duisend jaar daarin kon voortleef want onthou sonde, net soos die vader daarvan, die Satan, word beskryf as ‘n dief wat steel, slag en moor!
Maar daar is hoop vir elke mens op die EWIGE LEWE by YHVH ons God. So wat ons dus weet is dat die mens OUD word en ons LIGGAME dus verswak en ons ALMAL die EERSTE DOOD sal STERF as deel van die vloek van die sonde. Sommige van ons sal 80 jaar en selfs ouer word en ander mag op ‘n vroeër ouderdom sterf omdat ons bepaalde tyd op aarde verby is en soms mag ‘n siekte ons lewens opeis weens verkeerde besluite. ‘n Voorbeeld hiervan is koning Hiskia.
So kom ons gesels oor wat met hom gebeur het na die PASGA viering waarvan ons gelees het in 2 Kronieke hoofstuk 30.
In 2 Kronieke hoofstuk 31 toe die PASGA klaar gevier is het die ISRAELIETE (die mense van die Noordryk, die tien stamme onder Efraim) wat dit bygewoon het na die stede van JUDA (die Suidryk) uitgetrek en die afgodsaanbiddings pilare, heilige boomstamme, hoogtes en altare in die hele JUDA en BENJAMIN (die Suidryk) en in Efraim en Manasse (afstammelinge van Josef se twee seuns wat deel gevorm het van die Noordryk) AFGEBREEK en VERNIETIG. En daarna het die kinders van Israel (die Noordryk) teruggegaan na hulle eie stede toe.
En Hiskia het voortgegaan om die tempeldiens met die Leviete en priesters in te stel om brandoffers en dankoffers aan YHVH te bring en Hom te DIEN en te LOOF en te PRYS in die poorte van die laers (kampe) van YHVH. En koning Hiskia het bydraes gemaak vir die MÔRE en AANDOFFERS (Numeri 28:3-8) en die brandoffers vir die SABATTE (Numeri 28:9-10) en die NUWE MANE (Numeri 28:11-15) en die FEESTYE soos voorgeskryf in die WET (die Torah, Genesis tot Deuternomium, opgesom in die Tien Gebooie) van YHVH (Levitikus 23 en Numeri 28:16-29:40).
Koning Hiskia het dus, soos koning David, die priesters se werk opnuut georganiseer en die werk in die tempel laat voortgaan (lees 1 Kronieke 23:6-23) en soos koning Salomo die tempel weer oopgestel (lees 2 Kronieke hoofstuk 8). Verder het hy gereël dat die volk sorg vir die onderhoud van die priesters en Leviete deur hulle TIENDES te gee van die eerste deel van al hulle inkomste sodat die priesters en Leviete hulle volle aandag daaraan kon wy om God te dien en die mense kon help (baie soos ons predikante en pastore vandag). Die volk het onmiddelik daarop gereageer en die eerste deel van hulle oeste gegee. En daar moes ekstra personeel aangestel word en stoorkamers gemaak word om alles wat ingekom het te kon hanteer. Die hoëpriester Asarja het daarop gereageer deur te sê: “YHVH het Sy volk geseën.” (2 Kronieke 31:10). Hierdie voorspoed het direk verband gehou met koning Hiskia se GEHOORSAAMHEID, omdat hy soos koning David, met sy HELE HART gevra het na die WIL van GOD (lees 2 Kronieke 31:21) en in GEHOORSAAMHEID aan God se WET die diens aan God by die tempel bevorder het.
En dan lees ons in 2 Kronieke 32:1-23 na hierdie dinge en Hiskia se bewys van GETROUHEID aan God het Sanherib, die koning van Assirië, die stede van JUDA (die Suidryk) binnegeval en hulle beleër (die gesag/ outoriteit in die stede is deur sy weermag oorgeneem) met die doel om die inwoners te dwing om aan hom oor te gee. Assirië was in koning Hiskia se tyd ‘n sterk land en het die grootste deel van die Midde-Ooste beheer. Assirië was geleë in die area waar IRAK vandag is. Hulle het hulle grense mettertyd to by ISRAEL uitgebrei en en was een van die grootste ryke in die antieke geskiedenis. Nadat Sanherib verskillende kleiner dorpe in JUDA (die Suidryk) onderwerp het en met die VESTINGSTAD Lakis (hulle versterkte stad) afgereken het, het hy na die HOOFSTAD JERUSALEM opgeruk. Jerusalem het hulle drink water uit fonteine gekry. Hiskia het met ‘n goeie plan vorendag gekom om die Gihonfontein buite Jerusalem toe te bou en die water met ‘n ondergrondse tonnel tot in die stad te laat vloei wat aan hulle genoeg water sou gee tydens die beleg van koning Sanherib. Hiskia se tonnel bekend as die Siloam tonnel bestaan vandag nog.
En dan sien ons ‘n bewys van YHVH se ALMAG. Sanherib het Hiskia en die inwoners van Jerusalem probeer intimideer deur daarop te roem (te spog) dat geen (kleinletter) gode van enige nasie wat hy aangeval het, hom nog ooit kon keer nie en dus sal Hiskia se God dit ook nie kan doen nie. Hiskia het egter met sy GELOOF in YHVH die ALMAGTIGE GOD, na Sanherib se bravade (uittartende grootpraat en spottery) geluister. (Dit was ‘n gevaarlike bravade want Sanherib het in werklikheid opgestaan teen die LEWENDE GOD self en Hom uitgetart). Dit het nie saak gemaak vir Hiskia hoeveel soldate Sanherib het nie – al wat saak gemaak het is dat hy en sy mense op YHVH hulle God bly VERTROU het. Sanherib het wel menslike mag aan sy kant gehad, maar Hiskia en die volk het God se mag aan hulle kant gehad (lees 2 Kronieke 32:6) en daarom kon Hiskia sy manskappe met volle vertoue bemoedig.
En ons lees dan in 2 Kronieke 32:20 dat koning Hiskia en die PROFEET JESAJA en sy seun AMOS oor die saak GEBID het en uitgeroep het na GOD en dan gebeur ‘n wonderwerk, YHVH, die ALMAGTIGE GOD van ISRAEL, stuur ‘n engel wat al die dapper manskappe, bevelvoerders en owerstes (aanvoerders/ hoofde) in die laer (die kamp) van die Assiriese koning Sanherib, verdelg (uitgeroei, vernietig) het sodat hy in skaamte na sy land moes teruggaan en toe hy by die huis kom het sy eie seuns hom met die swaard doodgemaak.YHVH ons God laat nie met Hom spot nie en Hy veg beslis vir Sy kinders (lees ook Galasiërs 6:7, Eksodus 6:12, Deuternomium 20:4, 2 Kronieke 20:17 en Openbaring 19:11).
En dan lees ons in 2 Kronieke 32:22-23 “en YHVH het Hiskia en die inwoners van Jerusalem VERLOS uit die hand van Sanherib, die koning van Assirië, en uit die hand van ALMAL (al sy vyande), en hulle rondom tot RUS gebring. En baie het GESKENKE aan YHVH na Jersalem gebring en kosbare geskenke aan Hiskia, die koning van Juda (die Suirdryk), sodat hy in die oë van die nasies hoof gestaan het (die NLV sê: sy aansien onder die volke het toegeneem).“
Maar dan sien ons in 2 Kronieke 32:24-33 ‘n HARTSEER WENDING. Soos baie van die konings voor hom, raak koning Hiskia ongelukkig ingenome met homself, hy word TROTS en HOOGMOEDIG. En so maak hy vir God kwaad. Ons lees in vers 24-25 In dié dae het Hiskia DODEDLIK SIEK geword, maar hy het tot YHVH GEBID, en Hy (YHVH) het met hom gespreek en (aan) hom ‘n wonderteken gegee. Maar Hiskia het die weldaad wat aan hom bewys is, nie vergeld (vergoed) nie (die NLV sê: Hiskia het nie toepaslik geantwoord op die GOEDHEID wat aan hom bewys is nie) want sy HART (sy gedagtes en emosies) het HOOGMOEDIG geword. Daarom was daar ‘n toorn (‘n verskriklike woede) oor hom en oor Juda (die Suidryk waarvan hy die koning was) en Jerusalem.” Maar dan sien ons in vers 26: Hiskia het hom verootmoedig (nederig geword voor God) – ons lees in die NLV: “Hiskia het BEROU gehad oor sy tots”.
Hierdie verootmoediging het in Hiskia se guns getel. Ons lees meer breedvoerig van Hiskia se SIEKTE in 2 Konings 20:1-21 dat Hiskia se siekte so ernstig was dat die profeet jesaja na hom gekom het en gesê het dat hy sy sake in orde moet kry want hy gaan sterf. Maar Hiskia het GEBID tot YHVH en aan Hom gese: “Ag, YHVH, dink tog daaraan dat ek voor U aangesig in trou en met volkome hart gewandel (geleef) het en GEDOEN het wat GOED is in U oë. En Hiskia het bitterlik geween (gehuil).” Vers 3. En Jesaja wat oppad uit was, het ‘n woord van God ontvang om aan Hiskia te gaan sê: “So spreek YHVH, die God van jou vader David: Ek het jou GEBED gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou GESOND MAAK; op die derde dag sal jy opgaan na die huis van YHVH (die tempel). Vers 4-6. Jesaja plaas dan ‘n vyekoek op Hiskia se sweer en Hiskia vra ‘n teken van God af dat hy gesond sal word. En in hierdie tyd hoor die koning van Babel dat Hiskia siek is en hy stuur ‘n brief en ‘n geskenk aan Hiskia. En ons lees in 2 Kronieke 32:27-29 Hiskia het buitegewoon baie rykdom en eer besit: silwer, goud, edelgesteentes, speserye, skilde, allerhande kosbare voorwerpe, koring, mos (ongegiste druiewsap), olie en allerhande soorte vee insluitend kleinvee en beeste in menigte en hy het ook stede gebou want God het hom baie goed gegee. En met hierdie skatte het hy gespog voor die koning van Babel en sy gesante soos ons lees in 2 Konings 20:13 naamlik: “…en hy het hulle sy hele skathuis laat sien, die silver en goud en die speserye en die kosbare olie en sy wapenhuis en ALLES wat in sy skatkamers te vinde was…”
En Jesaja het na Hiskia gegaan en hom gevra wat die manne gesê het en waarvandaan hulle gekom het en wat hulle in sy huis gesien het. En Hiskia se antwoord was: “Alles wat in my huis is, het hulle gesien; daar is niks in my skatkamers wat ek hulle nie laat sien het nie.” En ons lees in 2 Kronieke 32:31 dat die besoek van die koning van Babel en sy gesante juis ‘n TOETS was vir Hiskia, want ons lees hier dat God hom tydens hierdie besoek: “…net verlaat het om hom op die PROEF te stel, om te weet ALLES wat in sy HART was.” En ongelukkig bewys hierdie besoek dan die HOOGMOED in Hiskia se hart. (Ons weet dat YHVH, ‘n God is wat mense se HARTE TOETS, ons lees dit in Genesis 22:1-2, Eksodus 16:4 & 20:20, Deuternomium 8:2-3 & 16, Sagaria 13:9, Maleagi 3:3, Job 7:17-18 & 23:10, Psalm 11:5, Johannes 6:5-6, Hebreërs hoofstuk 12, Jakobus 1:2-3 & 12, 1 Petrus 1:7 en Openbaring 2:23 & 3:10 om maar net ‘n paar te noem).
EN dan gee Jesaja vir koning Hiskia die volgende boodskap van God af: “Kyk, daar kom dae dat ALLES wat in jou huis is en wat jou vaders tot vandag toe opgehoop het, na Babel weggevoer sal word; daar sal NIKS oorbly nie, sêYHVH. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars (werkers) word in die paleis van die koning van Babel.” (2 Konings 20:17-18).
En dan lees ons koning Hiskia sterf en sy seun MANASSE het in sy plek koning geword (2 Konings 20:21 en 2 Kronieke 32:33).
- Daar is ook soms ‘n rede waarom ons nie GENEES word nie, wat nie verband hou met ons GEESTELIKE toestand of selfs ons LEEFSTYL of blootstelling aan virusse, organismes of ongelukke nie en dit is wanneer God so BESLUIT vir ‘n GOEIE REDE en ons sien hierdie voorbeeld in die lewe van Paulus. Ons lees daarvan in:.2 Korinthiërs 12:1-10 waarin Paulus vertel dat YHVH besondere GESIGTE (visioene) en OPENBARINGE aan hom gegee het en dan lees ons in vers 7: “En dat ek my oor die VOORTREFLIKHEID van die OPENBARINGE nie sou verhef nie (nie trots en hoogmoedig daaroor sou word nie) Dit is inderdaat ‘n gevaar – ons sien dikwels dat mense weens spesiale kennis wat Abba Vader deur Sy Heilge Gees aan hulle oor die Woord openbaar of deur leringe begin optree asof hulle al die antwoorde het en ander mense/ bedienigs lings en regs begin aftakel en so skade doen aan medegelowiges se karakters en die bediening van God se Woord en dus die LIGGAAM (die Gemeente) van ons MESSIAS onder verdenking plaas. Om werklik die WAARHEID te verkondig is dit dus van uiterse belang om NEDERIG te bly. Ons moet besef Yehsua ons Messias is die Druiwestok en ons is net die rankies en ons kan NIKS sonder Hom doen nie, en ALLES wat ons weet is deur Sy Heilige Gees aan ons geopenbaar (Johannes 15:1-7). So, soos hier in die geval van Paulus, sien ons dat God soms ‘n maatreël in plek plaas (‘n doring in ons vlees, soos met Paulus), om ons te beskerm teen onsself – veral teen hoogmoed wanneer Hy baie dinge aan ons geopenbaar.
- En laastens, is dit dalk ook moontlik dat ons ‘n toestand opgedoen het toe ons nog ‘n sondige lewe gelei het, want soos Paulus ook verduidelik in Efesiërs 2:1-3 en 5:8, ons ALMAL WAS sondaars en ons lewens was nag (gevul met duisternis/ sondes/ slang saad). ‘n Mens kan dus reeds ‘n siektetoestand opgedoen het wat al baie skade aan jou liggaam gedoen het en natuurlik kan Abba wonderwerke en wondergenesings doen as ons ons sonde bely en Hom vra om ons liggame te genees, maar soms doen Hy dit nie en dan sal dit met GOEIE REDE wees. Dalk om ‘n mens te HERINNER daaraan wanneer jy na die betrokke liggaamsdeel kyk of die pyn daarvan ervaar en dat dit dan juis DIT is wat jou sal help om jou te weerhou daarvan om jou aan die geestelike wortels van daardie siekte skuldig te maak, soos byvoorbeeld VREES of KWADSPREEK, TWIS (stryery/ verdeeltheid) of BITERHEID.
Wat ons dus moet besef is om BAIE VERSIGTIG te wees om ENKELVOUDIG na jou eie siektes en die van ander mense te kyk en sommer te BESLUIT hulle het hierdie of daardie WORTEL (geestelike oorsaak) nie. Dinge is baie meer kompleks en daarom moet ons eerder biddend na Abba Vader gaan oor ons siektes en by Hom die antwoorde gaan soek asook die pad van genesing wat ons moet volg.
So met dit in gedagte, kom ons gesels oor die GEESTELIKE WORTELS wat bydraend kan wees met betrekking tot die volgende algemene kwale:
Allergieë
Natuurlik weet ons allergieë is seisoenaal en met die draai van seisoene en groot hoeveelhede stof en stuifmeel in die lig het byna almal loop neuse en ‘n hoesie. Maar as jy reg deur die jaar sukkel met allergieë en of vir vele dinge allergies is, mag dit wees dat daar GEESTELIKE WORELS teenwoordig is soos:
- Vrees, angs en stres weens ‘n gebroke hart, veral veroorsaak deur verbrokkeling van verhoudings binne familie verband wat daartoe kan lei dat jy mense nie maklik vertrou nie.
- Vrees vir verwerping en verlatenheid. Vrees en angs akomstig van verbale, fisiese, emosionele/ seksuele teistering, en
- Vrees vir mislukking wat aanleiding gee tot oormatige prestasie gedrewenheid.
Ons bespreek aan die einde van hierdie boodskap ‘n voorbeeld van hoe ons hierdie geestelike wortels kan gaan afkap met die SWAARD van die GEES (Abba Vader se Woord) volgens Efesiërs 6:17. Die idee is om al die verse en beloftes in die WOORD te gaan opsoek oor die betrokke geestelike wortels soos VREES in die geval van ALLERGIEË en dan hierdie verse en beloftes neer te skryf en te memoriseer sodat jy dit kan gebruik om VREES wat die Woord ‘n “gees” noem (2 Timotheus 1:7), in jou lewe te verslaan.
Depressie
Weereens mag daar ander oorsake vir depressie wees soos ‘n chemiese wanbalans in die brein of ongebalanseerde hormone, vitamien en mineraal tekorte en so meer. Maar daar is dikwels ‘n geestelike komponent ter sprake by depressie lyers. En ja almal van ons voel van tyd tot tyd af en ontmoedig. Maar as jy gedurig so voel mag die volgende GEESTELIKE WORTELS dalk die oorsaak wees:
- Skuldgevoelens, verwerping en woede.
- ‘n Lae selfbeeld, lae eiewaarde, ‘n gevoel van verwerping, selfhaat, kritiese ingesteldheid teenoor jouself, skuldgevoelens, skaamte/ skande en selfveroordeling.
- Moontlik nie aanvaarding en liefde van ‘n pa of pa figuur ontvang nie of die pa was hard/ afbrekend en ontoeganklik.
Hoë Bloeddruk
Hoë bloeddruk het dikwels nie ‘n spesifieke oorsaak nie alhoewel dit gekoppel word aan leefstyl en ouer mense geneig is om dit te ontwikkel. Die GEESTELIKE WORTELS daarvan is:
- Langtermyn vrees, angs en stress, veral met betrekking tot die toekoms.
- Langtermyn emosionele probleme of geestelike wonde wat nie uitgesorteer is nie, en
- Die persoon dra sy of haar eie bekomernisse en gee dit nie oor aan Abba Vader nie.
Hoë Kolesterol
‘n ongebalanseerde dieet hoog in versadigde vette en suikers en min vessel, groente en vrugte mag aanleiding gee to die verhoging van LDL vlakke van kolesterol wat bekend staan as sogenaamde “slegte” kolesterol wat aanleiding kan gee tot hartsiektes en beroertes. En dan is daar ook redelike aanduidings van oorgeerfde kolesterol. Die GEESTELIKE WORTELS is:
- Verbrokkeling van die verhouding met jouself.
- ‘n Lae selfbeeld, lae eiewaarde, verwerping, selfhaat, kritiese ingesteldheid teenoor jouself, skuldgevoelens, skaamte/ skande en selfveroordeling.
- Die persoon het moontlik nie aanvaarding en liefde van ‘n pa of pa figuur ontvang nie of die pa was hard/ afbrekend en ontoeganklik.
- Die persoon mag ook baie woede teenoor hom/ haarself ervaar.
- En ja soos reeds genoem mag dit binne families voorkom wat aandui dat dit ‘n genetiese oorsprong het in die generasies wat onstaan weens onbelyde selfhaat en woede teen die self. Onthou om jouself nie lief te hê nie, is net so ‘n groot oortreding as om ander mense nie lief te hê nie.
Kolonprobleme/ (dikderm probleme) wat kan omsit in kolonkanker
Weereens is daar baie tipes kolonprobleme soos hardlywigheid wat verskeie oorsake kan hê wat dieet en ensiem gekoppel is. Dan is daar ook prikkelbare dermsindroom wat wortels van VREES, ANGS en STRES kan hê. Maar in die geval van kolon problem wat omsit in kolonkanker mag die volgende GEESTELIKE WORTELS bydreand wees:
- Die spreek van negatiewe woorde van dood: skinder, laster, veroordelende, harde woorde teenoor ander agter hulle rug.
- ‘n Kritiese, foutvinderige benadering tot mense, geneig om ander mense af te kraak en neerhalende grappies te maak oor hulle agter hulle rug.
- Oneerbiedig (gebrek aan respek) vir ander mense met jou tong.
- Weereens is hier dikwels ‘n sterk generasie konneksie ter sprake wanneer hierdie sondes nooit bely is nie en oorspoel na die volgende generasie.
Spanningshoofpyn
Spanningshoofpyn kan oorsake hê soos byvoorbeeld ure voor ‘n rekenaar of ander aktiwiteit wat aanleiding kan gee to spierspasmas en nekprobleme mag ook hoofpyne meebring. Maar soos die naam aandui kan daar GEESTELIKE WORTELS teenwoordig wees soos:
- Langtermyn vrees, angs en stress en
- Die persoon dra sy of haar eie bekomernisse en gee dit nie oor aan Abba Vader nie.
So kom ons kyk na ‘n VOORBEELD van die STAPPE VAN OORWINNING oor die GEETELIKE WORTELS wat deur ‘n persoon oorweeg kan word. Ons gaan spesifiek hier die voorbeeld gebruik van hoë bloeddruk sonder ‘n spesifieke oorsaak:
1.Begin met GEBED – vra aan Abba om jou bewus te maak deur Sy Heilige Gees van die teenwoordigheid van enige van die WORTELS (toksiese emosies wat deur ons denke veroorsaak word) wat by jou aanwesig is en WAAR dit vandaan kom.
As ander mense daarby betrokke is, sal dit ook behels dat jy ‘n pad van VERGIFNIS sal moet stap. Weet egter verseker, Abba Vader sal jou self die WAARHEID wys deur Sy Heilige Gees en jou die krag en insig gee om te VERGEWE. Dit is ook belangrik om verhoudings met mense te heroorweeg. Soms het ons verhoudings (algemeen bekend as “sielsbande/ soul ties” in Engels), met iemand wat nie in lyn met Abba se wil en riglyne leef nie, en wat jy dus in die heilige gedeelte van jou tabernakel toegelaat het, daar waar jou SIEL, jou gedagtes en emosies en vrye will gesetel is. En jy die persoon laat aansit het by die tafel van toonbrode waar Abba jou met SY LEWENDE WOORD en SY LEWENDE WATER wil voed, maar hierdie persoon jou voed met dooie wêreldse gemorskos en waar Abba Sy WARE LIG van die Menorah op jou wil skyn, maar die persoon vals lig van die wêreld na jou bring om jou daarmee te betower en waar jy vir Abba wierook/ GEBEDE moet laat opgaan en LOF OFFERS bring, oortuig die persoon jou om vir afgode offerrook op te laat gaan en op vals gode soos geld en sukses te vertou vir jou toekoms! En daarom is dit nodig om die vir Abba Vader te vra om jou LOS te SNY van hierdie sielsbande/ verhouding met die persoon en oorweeg om dalk geen of dan minder tyd saam met hierdie persoon te spandeer of ten minste jou antwoorde in die WOORD te gaan soek en DIT te glo en nie jou antwoorde by hierdie persoon te gaan soek en vol vrese te word nie. Dit mag ook wees dat ons te veel op wêreld bronne van inligtging soos Nuus of ander media staatmaak en ons op die manier vrees vir die toekoms opdoen. Weereens sal dit dan belydenis hiervan verg en om jou vertroue te begin rig op wat ons hemelse Vader vir jou in Sy WOORD sê en belowe.
Ons kan nie mense verander nie, ons kan net onsself verander, maar ons kan KIES hoeveel ons toelaat dat hulle ons beïnvloed tot denke en geloofsisteme wat nie in lyn met Abba Vader se Woord is nie. Onthou ook, al KIES ons om minder tyd saaam met iemand te spandeer, hou ons nooit op om vir mense te BID dat hulle Abba Vader sal soek en Hom sal vind en op die SMAL WEG sal stap in die voetspore van Yeshua ons Messias met die Heilige Gees in hulle om hulle daagliks te leer en te lei.
2.Dan is dit BAIE BELANGRIK om aan te hou om jou medikasie te gebruik want hoë bloeddruk is gevaarlik. Volg die geestelike pad van genesing saam met die Heilige Gees en wees verantwoordelik deur jou bloeddruk gereeld te monitor en saam met jou mediese dokter besluite te neem oor jou medikasie.
3.Veg intussen ‘n GEESTELIKE GEVEG teen hoë bloeddruk met Abba Vader se wapens wat Hy aan ons gee deur:
- Die WORTEL van VREES vir die TOEKOMS te ondersoek en as dit teenwoordig is, te erken as die REDE vir die VRUG van hoë bloeddruk in jou lewe.
- Maak ‘n studie van VREES in die WOORD – Abba Vader sê 365 keer in die Woord, eenkeer vir elke dag van die jaar aan ons: “Moenie vrees nie!” Hoekom? Want Hy beskryf VREES as ‘n (kleinletter) gees wat Hy nie aan ons gegee het nie. Vrees in die vorm van angs en spanning kom dus nie van Hom af nie en is deel van die (kleinletter) vader van die leuen se mannekrag van demone wat ons treiter. Maar let wel: ons het ook nou al geleer dat hulle ons nie kan treiter as ons leef in GEHOORSAAMHEID aan Abba se wet, bevele/ riglyne en verordeninge nie. Abba Vader sê verder aan ons Hy het ons Sy Gees, die Heilige Gees gegee van KRAG, LIEFDE en SELFBEHEERSING (2 Timotheus 1:7). En Yeshua ons Messias leer ons in die Nuwe Testament in Mattheus 6:25-34 die GEHEIM van die OORWINNING van BEKOMMERNIS. Hierin sê Hy aan ons om ons nie oor die daaglikse dinge van die lewe te bekommer nie want God ons Vader weet dat ons dit nodig het en sal dit aan ons voorsien. Onnodige bekommernis kan ons liggame afbreek, ons gedagtes oorheers, ons produktiwiteit benadeel en ‘n negatiewe effek op ons verhoudings hê. As ons aan God die EERSTE PLEK in ons lewens gee, sal ons EERSTE na Hom toe gaan as ons hulp nodig het, SY wil sal deurlopend in ons gedagtes wees, Sy liefde en genade sal ons voorbeeld wees en ons sal Hom in alles dien en in ALLES aan Hom GEHOORSAAM wees. Mense, materiële dinge, ons eie behoeftes en begeertes wedywer om die belangrikste plek in ons lewens in te neem. As ons dus nie DOELBEWUS vir God EERSTE stel op elke gebied van ons lewens nie, gaan iets anders die eerse plek in ons lewens inneem.
- Bely aan Abba Vader en vra Sy VERGIFNIS dat jy Hom nie vertrou het vir Sy voorsiening vir die toekoms nie, gekies het om op mense te vertrou wat ‘n mens kan teleurstel, gekies het om op die wêreld te vertrou ensomeer. KIES ook om jouself te VERGEWE asook enige iemand anders wat betrokke is by jou vrese vir die toekoms.
- AANVAAR dan Abba Vader se VERGIFNIS, VRA SY GENESING en KIES om met die hulp van die HEILIGE GEES, die “gees van vrees vir die toekoms” te verslaan – doen dit deur ELKE DAG vir jou SKRIF/ verse uit die Woord neer te skryf en dit soos ‘n SWAARD te gebruik TEEN die gees van vrees. Byvoorbeeld om Psalm 103:1-5 hardop te lees. Gee al jou vrese oor die toekoms vir Abba Vader – VERTROU Hom soos ‘n kind sy pa vertrou wat goed is vir hom en elke dag vir hom sorg selfs al het jy nie ‘n goieie voorbeeld as ‘n pa gehad nie. Abba Vader sê in Sy Woord in Psalm 27:10 “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar YHVH sal my aanneem.” En Hy sal my nooit in die steek laat en my nooit verlaat nie (Deuternomium 31:6 & 8 en Hebreërs 13:5).
- Othou ook die WOORD leer ons die TEENMIDEEL vir die “slangif” van VREES is YHVH se LIEFDE, daai soort wat beskryf word in 1 Korinthiers 13 wat Paulus later soos volg verduidelik in Kolossense 3:14 “En beklee julle bo ALLES met die LIEFDE wat die band van VOLMAAKTHEID is.” Die NLV sê: “Die heel belangrikste wat julle moet aantrek is LIEFDE. Die LIEFDE bind ALLES VOLMAAK saam.” En dit is natuurlik omdat God SELF LIEFDE IS (1 Johannes 4:16).
Maar voordat jy hierdie LIEFDE sal kan aantrek/ toepas, moet jy dit eers SELF AANVAAR en ERVAAR – gaan maak dus ‘n DEEGLIKE STUDIE in Abba se Woord sodat jy kan besef HOE LIEF HY JOU HET en HOE NIKS JOU KAN SKEI VAN SY LIEFDE NIE, nie eers jou sonde nie, alhoewel dit jou van SY teenwoordigheid kan skei, maar nie van die breedte en diepte en hoogte van Sy LIEFDE vir jou nie (lees Romeine 8:37-39 en Efesiërs 3:18). EN daarna moet jy ook ELKE DAG die VOLLE WAPENRUSTING in Efesiërs 6:10-18 gaan aantrek sodat jou GEDAGTES en HART ten volle beskerm kan wees.
- Nou kan jy die “gees van vrees vir die toekoms” die trekpas gee in Yeshua ons Messias se Naam want jy het die “reg” wat hy gehad het om jou te teister weg geneem en jy is vergewe – die aanklag teen jou is uitgewis.
- En as die bose weer probeer terug kom en jou kom teister met VREES vir die TOEKOMS in die hoop dat jy weer die deur van jou huis/ jou TEMPEL vir hom gaan oopmaak, waarin slegs YHVH se Heilige Gees welkom is, veg dan met die hulp van die Heilige Gees en die SWAARD van die GEES, die Woord (volgens Efesiërs 6:17) teen hom, presies soos Yeshua ons Messias ons geleer het in Lukas 4:1-13 tydens Sy veertig dae versoeking in die woestyn na Sy doop.
En soos wat ons DAG-vir-DAG hierdie stryd stry en stadig maar seker OORWIN, kan ons BLY wees soos ons ook lees in 2 Kronieke 30:25-27 Hiskia en die mense van die volk BLY was: “En die HELE VERGADERING (gemeente) van JUDA (insluitend die stam van Benjamin, die Suidryk, vandag bekend as die Jode) was BLY, ook die priesters en die Leviete, en die HELE VERGADERING (gemeente) van die wat uit ISRAEL (die Tien Stamme onder Efraim, die Noordryk wat vandag tussen die nasies versprei en onherkenbaar is) gekom het; ook die VREEMDELINGE wat uit die land van ISRAEL gekom het (mense uit die nasies wat by Israel, die Noordryk gebly het en YHVH as hulle God aanvaar en gedien het), en die (vreemdelinge) wat in Juda woonagtig was (mense uit die nasies wat by Juda, die Suidryk gebly het en YHVH as hulle God aanvaar en gedien het). En daar was GROOT BLYDSKAP in JERUSALEM; want sedert die dae van Salomo, die seun van David, die koning van ISRAEL (al twaalf stamme, voor die verdeling van die koningkryk vaan ISRAEL in ‘n Suid- en Noordryk), het so iets in Jerusalem nie voorgekom nie. Toe staan die Levitiese priesters op en seën die volk; en hulle stem is verhoor, en hulle GEBED het gekom tot in Sy (YHVH) se HEILIGE WONING, tot in DIE HEMEL.”
4.Dus is die laaste stap: Loof Abba Vader in die Naam van Yeshua ons Messias vir jou genesing selfs al ervaar jy nog simptome. Kies om te LEEF in GELOOF – en nie deur wat jy met jou oë kan sien nie (2 Korinthiers 5:7) en hou aan totdat jy volkome VRY is!
