Skip to content

DIE WAARHEID oor die KRUISIGING en die SIMBOOL van die KRUIS, Deel 8: Die Boek Numeri

23 April 2025

Ons gesels verder oor die TWYFEL wat onder gelowiges ontstaan het gedurende die laaste aantal jare oor die metode van KRUSIGING van YESHUA ons MESSIAS asook die SIMBOOL van die KRUIS.

Ons ondersoek vandag DIE VIERDE BOEK van die TORAH naamlik NUMERI vir enige bewyse van die KRUISIGING en die SIMBOOL VAN DIE KRUIS.

Die Boek Numeri dek die meeste van ISRAEL se woestyn tog – ongeveer 38 jaar en 9 maande (lees Numeri 1:1, 33:38, 36:13 en Deuternomium 1:3). En dit is waarskynlik klaar geskryf naby aan die einde van hierdie priode – ongeveer 1400 jaar voor die Messias.

Die DOEL van die Boek is:

  • Om inligting vas te lê oor die 40 jaar swerftog van ISRAEL in die woestyn as gevolg van hulle ONGELOOF (Numeri 14:32-34) en
  • Om die sensus (die telling) van die TWEE GENERASIES aan te teken en hulle in die geksiedenis te koppel. (Numeri 1:2-3 en 26:2).

In Numeri hoofstuk 1 sien ons dat YHVH vir Moses opdrag gee in die Sinai woestyn, in die tweede maand van die tweede jaar nadat hulle uit Egipte getrek het om die manlike ISRAELIETE bo 20 jaar oud te tel volgens hulle stamme, familiegroepe en name, almal wat op KOMMANDO vir oorlog moet uittrek volgens hulle LEËRAFDELINGS (weermag afdelings).

Die NAAM van die BOEK NUMERI hou verband met die TELLING van die ISRAELIETE – voordat hulle weggetrek het van die Berg Sinai en voordat hulle in die land Kanaan ingetrek het. In die Hebreuse Skrif is die titel Ba’midbar en dit beteken: “In die woestyn.” (Numeri 1:1).

Die BOEK NUMERI handel oor God se mense wat deur Hom GEDISSIPLINEER word weens hulle ONGEHOORSAAMHEID. Hulle het 430 jaar in EGIPTE geleef in SLAWERNY onder die EGIPTENAARS en hulle maniere van dink en doen, hulle leefwyse, en nou moes YHVH hulle God, hulle weer SY WEË en SY WIL en SY INSTRUKSIES LEER (lees Genesis 15:13, Eksodus 12:40-41 en Duternomium 8:3). En dan moes Hy hulle TOETS of hulle GEHOORSAAM sou wees aan Sy gebooie. (Lees Deuternomium 8:2).

Die skrywer van die BOEK HEBREËRS in die Nuwe Testament verduidelik dit in hoofstuk 3:7-11 soos volg: “Daarom, soos die HEILIGE GEES spreek: Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering (onaangename omstandighede), in die DAG VAN DIE VERSOEKING (toe hulle God se geduld getoets het) in die WOESTYN nie, waar julle vaders MY VERSOEK (uitgetart), MY BEPROEF het (ten spyte daarvan dat hulle) MY WERKE VEERTIG JAAR lank gesien het. Daarom het Ek vertoornd geword op (kwaad geword vir) daardie geslag en gesê: ALTYD DWAAL HULLE MET DIE HART (wyk hulle af van God se weg, beweeg op ‘n verkeerde pad). Maar hulle het MY WEË NIE LEER KEN NIE, sodat EK GESWEER het: Hulle sal in MY RUS NIE INGAAN NIE.”

Baie belangrike lesse moes dus deur die ISRAELIETE geleer word, maar hulle kon hierdie pynlike ervarings vermy het indien hulle gewillig was om vanaf die begin vir YHVH hulle God in GELOOF te volg (gehoorsaam aan Hom te wees en Hom te vertrou). Hulle moes deur die woestyn gaan om die BELOODE LAND in te gaan maar dit was nie nodig om 40 jaar in die woestyn te spandeer nie.

En ons sien in Numeri hoofstuk 14 omdat die Israeliete, nadat die verspieders uit die beloofde land, Kanaan teruggekom het en weens vrees vir die reuse en dus ongeloof in die KRAG VAN YHVH hulle God, wou teruggaan na Egipte, lees ons in Numeri 14:26-35 die SLEUTELVERSE naamlik “Daarna het YHVH met Moses en Aaron gespreek en gesê: Hoe lank sal hierdie bose vergadering (byeenkoms van slegte mense) aanhou dat hulle TEEN MY MURMUREER (kla, mor, ontevredenheid uitspreek)? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My murmureer. Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek YHVH, waarlik, soos julle voor My ore gespreek het, SO SAL EK AAN JULLE DOEN. Julle lyke sal in die WOESTYN lê, naamlik al julle GETELDES, volgens julle VOLLE GETAL, van TWINTIG JAAR OUD en DAARBO, julle wat teen My gemurmureer het. Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, BEHALWE KALEB, die seun van Jefunne (Kaleb was van die stam Juda, lees Numeri 13:6) en JOSUA seun van Nun (van die stam Efraim, lees Numeri 13:8 en 16). En julle kinders waarvan julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word (geroof of verower word deur oorlog) – dié sal Ek inbring en dié sal die LAND LEER KEN wat julle verwerp het. Maar júlle lyke sal in HIERDIE WOESTYN lê. EN julle KINDERS sal soos herders (nomades) rondtrek in die woestyn, VEERTIG JAAR LANK, en so sal die GEVOLGE VAN JULLE HOERERY (ontrouheid aan YHVH hulle God), dra totdat julle lyke in die woestyn verteer is. Volgens die getal dae wat julle die land verken het, VEERTIG DAE, vir elke dag EEN JAAR, moet julle jul ONGEREDTIGHEDE DRA, VEERTIG JAAR LANK, en MY TEESTAND gewaar word (daarvan bewus word, dit sien).”

En die SLEUTELWOORD wat 45 keer in Numeri voorkom is: WOESTYN.

Numeri hoofstuk 1-9 geskied oor ‘n periode van 20 dae en handel oor die VOORBEREIDING vir die REIS deur die WOESTYN deur:

  • Die TELLING van die ISRAELIETE (hoofstuk 1), en
  • Die ORGANISERING van die LAERORDE/ KAMP (hoofstuk 2),

Die getalle van mans bo 20 jaar oud was soos volg:

RUBEN: 46,500, SIMEON: 59,300, GAD: 45650, JUDA: 74,600, ISSASKAR: 54,400, SEBULON 57,400, EFRAIM (Josef se seun): 40,500, MANASSE (Josef se seun): 32,200, BENJAMIN: 35,400, DAN 62,700, ASER: 41,500 en NAFTALI: 53,400. In TOTAAL: 603,550 weerbare mans (mans wat geskik was om te veg) bo 20 jaar oud.

Die LEVIETE is nie getel nie – hulle het nie gaan veg nie maar is aangestel oor die TABERNAKEL van die GETUIENIS en oor AL SY GEREEDSKAP en oor alles wat daarby behoort. En hulle moes RONDOM die TABERNAKEL laer opslaan. En net hulle was toegelaat om die TABERNAKEL af te breek wanneer die Israeliete getrek het, en dit weer OP TE RIG. En hulle moes DIENS DOEN by die TABERNAKEL (Lees Numeri 1:50-53).

En die KINDERS van ISRAEL moes LAER (of KAMP) opslaan ELKEEN by sy VAANDEL (die banier of vlag van ‘n leër), volgens hulle LEËRAFDELINGS (hulle weermag afdelings) Numeri 1:52.

Ons lees ook in Numeri 2:2, YHVH beveel Moses dat die KINDERS van ISRAEL LAER moet opslaan ELKEEN by sy VAANDEL (banier of vlag) by die VELDTEKENS van hulle families.

Die wat aan die OOSTEKANT (by die INGANG VAN DIE TABERNAKEL), teen SONOP LAER moes opslaan was:

Die LAER van JUDA met die VAANDEL (banier of vlag) met ‘n LEEU op (ons lees in Genesis 49:9-10 Jakob seën vir JUDA as ‘n JONG LEEU en hy sal heers totdat SILO kom – ‘n verwysing na YESHUA die MESSIAS. Ons weet ook dat Yehsua ons Messias wat in die Juda stam gebore is, vanuit die lyn van David, bekend gestaan het as die LEEU van JUDA (lees Openbaring 5:5). En JUDA het aan die hoof gestaan van die groep wat aan die OOSTEKANT van die TABERNAKEL moes kamp in opdrag van YHVH.

Eerstens moes die LAER van JUDA van 74,600 man kamp opslaan met hoof oor hulle Nagson, die seun van Amminadab en langs hom die LAER van ISSASKAR, 54,400 manne met hoof oor hulle Nataneel, seun van Suar en langs hulle die LAER van SEBULON, 57,400 manne met hoof oor hulle Eliab, seun van Helon.

In TOTAAL was hierdie LAER bekend as JUDA: 186,400 weerbare manne. Die grootste groep.

  • Wanneer daar getrek word moes hulle EERSTE OPBREEK en dus vooruit trek.

Nou net vir interessantheid – die ALLERHEILIGSTE GEDEELTE van die TABERNAKEL beeld die TROONKAMER van ABBA VADER op aarde uit. En kyk ons na die beskrywing in Openbaring hoofstuk 4 van die HEMELSE TROONKAMER dan sien ons ook VIER LEWENDE WESENS wat die TROON omring waarvan die eerste die GESIG van ‘n LEEU het (Ons lees soortgelyke beskrywings in Esegiël hoofstuk 1 en 10).

VOLGENDE moes die volgende STAMME aan die SUIDEKANT (VAN DIE TABERNAKEL) kamp oplsaan onder die DIE VAANDEL van die LAER van RUBEN wat ‘n MAN as simbool gehad het (weereens in lyn met Genesis 49:3 want RUBEN was die EERSGEBORENE van JAKOB wat sy eersgeborene reg verloor het weens sy sonde teen sy pa met sy byvrou Bilha).

Eerstens moes die LAER van RUBEN van 46,500 manne kamp opslaan met hoof oor hulle Elisur, seun van Sedeur en langs hulle die LAER van SIMEON van 59,300 manne met hoof oor hulle Selumiel, seun van Surisaddai) en langs hulle die LAER van GAD, 45,650 manne met hoof oor hulle Eljasaf, seun van Rehuel.

TOTAAL was hierdie LAER bekend as RUBEN: 151,450 weerbare manne. Die tweede grootste groep.

  • Wanneer daar getrek word moes hulle TWEEDE OPBREEK en trek.

En kyk ons na die beskrywing in Openbaring hoofstuk 4 van die HEMELSE TROONKAMER dan sien ons die DERDE LEWENDE WESEN wat die TROON omring het die GESIG van ‘n MAN (sommige weergawes se ‘n MENS).

DAARNA MOES DIE TENT VAN SAMEKOMS (die TABERNAKEL) OPBREEK wat verteenwoordig is deur die LAER (KAMP) van die LEVIETE wat natuurlik die PRIESTERS was.

Kyk ons na die prentjie van die TROONKAMER in Openbaring hoofstuk 4 sien ons die 24 OUDERLINGE gekleed met wit klere en met goue krone op hulle koppe wat in alle waarskynlikheid ‘n beeld is van die 24 PRIESTER ORDES soos deur David ingestel in opdrag van Abba Vader aan Äaron (Lees 1 Kronieke 24:1-19).

Volgende moes die STAMME aan die WESTEKANT van die Tabernakel kamp opslaan volgens opdrag van YHVH onder die VAANDEL van die LAER van EFRAIM volgens hulle LEËRAFDELINGS. Hulle VAANDEL was ‘n BUL met horings soos die van ‘n BUFFEL. Lees die seëninge van Efraim in Deuternomium 33:17 wat hom beskryf as ‘n jong bul met krag soos horings van ‘n buffel waarmee hy die veraf nasies gaffel en hulle verdryf tot aan die einde van die aarde.

Eerstens moes die LAER van EFRAIM van 40,500 manne kamp opslaan met hoof oor hulle Elisama (seun van Ammihud) en langs hulle die LAER van MANASSE van 32,200 manne met hoof oor hulle Gamliel, seun van Pedasur en langs hulle die LAER van BENJAMIN met 35,400 manne met hoof oor hulle Abidan, seun van Gideoni.

Wat ons hier in gedagte moet hou is dat hierdie KAMP uitleg plaasgevind het toe AL TWAALF STAMME nog saam in ‘n EENHEID was in EEN KONINGKRYK genaamd ISRAEL. Na die verdeling van die koningkryk in ‘n Suid- en Noordryk in die tyd van koning Salomo se seun Rehabeam, het Juda en Benjamin saam gesmelt en die ander tien stamme onder Efraim verening (lees 1 Konings hoofstuk 11-12).

In TOTAAL was die LAER VAN EFRAIM: 108,100 weerbare manne. Die kleinste groep van almal. En wanneer daar getrek moes word moes hulle DERDE OPBREEK en trek.

En kyk ons na die beskrywing in Openbaring hoofstuk 4 van die HEMELSE TROONKAMER dan sien ons die TWEEDE LEWENDE WESEN wat die TROON omring het die GESIG van ‘n KALF/ BEES/ BUL (verskillende Bybel weergawes noem dit verskillend maar dit kom neer op die GESIG van ‘n manlike bees/ bul).

Volgende moes die STAMME aan die NOORDEKANT van die Tabernakel kamp opslaan onder die VAANDEL van die LAER van DAN volgens hulle LEËRAFDELINGS.  DIE VAANDEL van die LAER van DAN van 62,700 manne was ‘n arend (in Genesis 49:16 word Dan geseën met dat hy sal regspreek oor mense). Die hoof oor DAN was Ahieser, seun van Ammisaddai. Lang hulle was die LAER van ASER, 41,500 manne met hoof oor hulle Pagiel, seun van Ogran en langs hulle was die LAER van NAFTALI, 53,400 manne met hoof oor hulle Ahira, seun van Enan. In TOTAAL was die LAER VAN DAN: 157,600 weerbare manne. Wanneer daar getrek word moes hulle laaste OPBREEK en trek.

En kyk ons na die beskrywing in Openbaring hoofstuk 4 van die HEMELSE TROONKAMER dan sien ons die VIERDE LEWENDE WESEN wat die TROON omring het die gesig van ‘n AREND.

En wanneer ‘n mens hierdie KAMP UITLEG volgens YHVH se INSTRUKSIES gaan teken, VORM dit die TAV, ‘n teken van YHVH se VERBOND wat baie duidelik ‘n KRUIS is soos die een waarop ons Messias, DIE ALEF (die EERSTE) en DIE TAV (die LAASTE), namens ons gesterf het!

Verder word die VERHAAL van die PASGA soos opgeteken in Levitikus 23 weer aangeteken in Numeri hoofstuk 9.

In hoofstuk 10-12 beweeg die ISRAELIETE vanaf Sinai na Kadesh-Barnea en die reis duur 11 dae (lees Numeri 10:11-28 en Deutrnomium 1:1-2).

En dan begin die reis en die volk kla by Tabera en word geslaan deur YHVH vir hulle gekerm en lus na die vleispotte van Egipte en Hy stuur vir hulle kwartels en oordeel by Kibrot-Hattaavah want daar het YHVH se woede teen die volk uitgebars en is die mense dood aan ‘n groot siekte en begrawe wat so begerig was (die NLV se wat so lus vir vleis geword het). Lees Numeri hoofstuk 11. En Miriam en Äaron kom in OPSTAND teen Moses en praat sleg oor sy KUSIETIESE VROU, Sippora (‘n afstammelinge van die Noag se seun Gam volgens Genesis 10:6 wat in Midian gebly het (wat vandag beskou word as Etiopie) en wat Moses daar by ‘n put raakgeloop het nadat hy uit Egipte gevlug het as jong man. Lees Eksodus hoofstuk 2. En Äaron en Miriam het ook geskinder en moontlik uit  jaloesie aan mekaar gesê dat YHVH nie net deur Moses praat nie maar ook deur hulle en YHVH het dit gehoor en Miriam word dan getref met MELAATSHEID. Ons sien egter hier sondebelydenis en vergifnis wat plaasvind en God genees vir Miram na ‘n periode van afsondering van sewe dae. Melaatsheid word in die woord gekoppel aan SONDE. Ons lees in Mattheus 8:1-4 Yehsua het ‘n melaatse man GEREINIG wat volgens die HAT Woordeboek beteken skoongemaak, bevry uit ‘n toestand van sonde en skuld, gesuiwer. Lees ook die riglyne oor die hantering van melaatheid in Levitikus 14:8-9.

In hoofstuk 13-20 by KADES vind die JARE van SWERF deur die WOESTYN plaas en weer terug na KADES. Die tydsduur is 40 dae en daarna 38 jaar (Numeri 14:34).

Verspieders word uitgestuur na die BELOOFDE LAND en hulle bring ‘n slegte verslag terug. Die mense WEIER om in die BELOOFDE LAND in te gaan weens ONGELOOF en hulle word deur God VEROORDEEL tot 40 jaar in die WOESTYN. Die volk ontvang INSTRUKSIES wat nagekom moet word wanneer hulle die BELOOFDE LAND ingaan. God se DOEL bly ONVERANDERD. Ons lees ook van die OPSTAND van Korag en sy volgelinge in Numeri hoofstuk 16 en in hoofstuk 17 van Äaron se STAF wat blom met AMANDEL BLOEISELS om aan te toon dat hy God se uitverkose priester is. Die volk kry later opdrag om hierdie staf in die ARK te bêre as bewys van GOD SE AANSTELING van OUTORITEIT (lees Hebreërs 9:4). Geen OUTORITEIT kan bestaan as Hy dit nie aanstel nie (Deuternomium 17:14-15, Jeremia 30:21, Kolossense 2:15-17 en Openbaring 19:16). Yeshua gee dan ook outrotiteit aan Sy dissipels in Lukas 10 oor die bose magte en met Sy HEMELVAART aan AL SY VOGELINGE. Lees Markus 16:15-20.

In Numeri hoofstuk 18 volg verdere INSTRUKSIES vir Äaron en die LEVIETE. Dan sien ons die VERORDENINGE / REGULASIES/ VOORSKRIFTE vir die ROOI HEFFER (die rooi koei) in hoofstuk 19. Dit is ‘n prentjie van die SKOONMAAK van DAAGLIKSE ONREINHEID of SONDES. En dan terug in KADES sondig Moses deur in frustrasie die ROTS ‘n tweede keer te slaan. En dan sterf Äaron (Lees Numeri hoofstuk 20).

En in Numeri hoofstuk 21 lees ons, soos soveel kere tevore, verwyt die volk vir God en vir Moses dat hulle bevry is uit Egipte met kwade bedoelings. YHVH STRAF hulle dan vir hierdie OPSTAND met GIFTIGE SLANGE en baie van hulle sterf. Hulle BELY dat hulle verkeerd is en pleit dat God hulle moet help. En ons lees dan in Numeri 21:8-9Daarop se YHVH vir Moses: Maak vir jou ‘n GIFTIGE SLANG en sit dit op ‘n PAAL (‘n langwerpige stewige stuk hout wat in die grond geplant is); dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. Toe het Moses ‘n KOPERSLANG gemaak en dit op ‘n paal gesit; en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy bly lewe.”

Die Bybel in Praktyk verduidelik: Hulle moes eers weer leer om na God op te kyk soos hulle letterlik na die KOPERSLANG moes opkyk wat Moses laat maak het op bevel van God. Hulle moes weer leer om hulle HOOP te vestig op YHVH en wat Hy kan doen.

Yeshua ons Messias onderrig Nikodemus oor die belangrikheid van WEDERGEBOORTE en dan sê Hy aan hom in Johannes 3:14-21En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die SEUN van die mens VERHOOG word, sodat ELKEEN wat in HOM GLO, NIE VERLORE mag gaan nie, maar die EWIGE LEWE kan hê. Want so LIEF het GOD (die VADER), die wêreld gehad, dat Hy Sy ENIGGEBORE SEUN gegee het, sodat ELKEEN WAT IN HOM GLO, nie verlore mag gaan nie, maar die EWIGE LEWE kan hê. (Dit is ‘n duidleike heenwysing na Yeshua ons Messias wat sou kom sterf aan ‘n hout kruis en die SONDE en die DOOD wat deur die SLANG se versoekings in die wereld ingebring is, te OORWIN en die mense wat dit in GELOOF aanvaar en OPKYK na HOM, sal EWIG LEWE). Want God (die VADER) het Sy SEUN in die wêreld gestuur NIE om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die WÊRELD DEUR HOM GERED KAN WORD. Hy wat IN HOM GLO, word NIE VEROORDEEL NIE; maar hy wat NIE GLO NIE, is ALREEDS VEROORDEEL omdat hy NIE GEGLO HET in DIE NAAM van die ENIGGEBORE SEUN van GOD (die VADER) nie. En DIT IS DIE OORDEEL: dat DIE LIG in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as DIE LIG; WANT HULLE WERKE (dade) WAS BOOS. Want ELKEEN wat KWAAD DOEN, HAAT DIE LIG en kom NIE na DIE LIG nie, dat sy WERKE (dade) NIE BESTRAF MAG WORD NIE. Maar hy wat DIE WAARHEID DOEN, KOM NA DIE LIG, sodat sy WERKE (dade) OPENBAAR kan word, dat hulle IN GOD GEDOEN IS (in GEHOORSAAMHEID aan GOD GEDOEN is).”

Hierdie paal waarop Moses die KOPERSLANG moes plaas het later ‘n AFGOD geword wat koning Hiskia opdrag gegee het verbrand moes word. Ons lees in 2 Konings hoofstuk 18 dat Hiska, die koning van Juda (die Suidryk) vroeg in sy bewind die Kanaanietiese afgodsaanbiddings simbole en praktyke wat uit sy voorganger koning Agas se tyd gekom het, vewyder het. Die KOPERSLANG van Moses (genoem die Negustan) wat destyds deur God gebruik is om die Israeliete wat daarheen opgekyk het te genees, het ‘n voorwerp van afgods aanbidding geword en daarom het koning Hiskia dit laat vernietig (Lees 2 Konings 18:4).

Ons sien egter hierdie KOPERSLANG op ‘n paal of STAF ook in die GRIESE tyd as MEDIESE TEKEN van Asclepius, die (kleinletter) god van medisyne genoem die staf van Asclepius in die 2de eeu voor die Messias wat ooreenkomste toon met die KOPERSLANG wat op die paal geplaas was en aanbid is. Die GRIEKE word gesien as afstammelinge van Noag se seun Jafet se vierde seun Jawan (Lees Genesis 10:2-5). Ons weet dat die GRIEKE groot afgodsaanbidders was. Paulus praat hieroor in sy besoek aan Athene (lees Handelinge 17:15-34).

En ons sien die afbeelding van die KOPERSLANG op ‘n paal steeds in ons tyd as die mediese teken insluitend op die simbool van die wêreld gesondheid organisasie.

In Numeri hoofstuk 22 lees ons van Balaam en sy profesiëe. Balak die koning van Moab, probeer hom huur om ISRAEL te VERVLOEK maar instede daarvan dwing God hom om die ISRAELIETE te SEËN.

In Numeri 27:12-23 lees ons oor Josua (afkomstig van die stam van EFRAIM) word aangewys as Moses se opvolger.

En in Numeri 28:16-31 en NUMERI hoofstuk 29 vind ons weer ‘n beskrywing van die WETTE oor die JAARLIKSE FEESTE van YHVH.

He-Brews-Coffee-Roastery-Logo

Stay In Touch