13 Mei 2026 Ons is gesels vandag verder oor, MY REIS VANUIT DIE DUISTERNIS (die…
DIE WAARHEID oor die KRUISIGING en die SIMBOOL van die KRUIS, Deel 24: Koning Josia – die belangrikheid van GETROUHEID aan die VERBOND met YHVH
17 September 2025
Ons gesels verder oor die TWYFEL wat onder gelowiges ontstaan het gedurende die laaste aantal jare oor die metode van KRUISIGING van YESHUA ons MESSIAS asook die SIMBOOL van die KRUIS.
Teks gedeeltes wat in hierdie boodskap aangehaal word kom hoofsaaklik vanuit die 1933 vertaling in Afrikaans behalwe waar anders aangedui. Verder word die HEBREEUSE LETTERS vir die NAAM van God die Vader soos aangedui in die oorspronklike vertalings as YHVH (Yod-Heh-Vav-Heh) gebruik waar die woord HERE in ons AFRIKAANSE BYBEL VERTALINGS voorkom. Die rede hiervoor is dat daar onsekerheid heers oor die uitspraak van die Naam van God die Vader omdat die klinkers in die Hebreeuse geskrifte weggelaat is weens vrees vir die misbruik van Sy Naam en gevolglike oortreding van die derde gebod van God. Ons verwys ook na Hom as Abba Vader en die Hebreeuse vertaling Yeshua die Messias word gebruik, in plaas van die Afrikaanse Bybel vertalings van Sy Naam, Jesus Christus wat uit die Grieks vertaal is.
Ons gesels verder oor die konings van die SUIDRYK (Juda en Benjamin vandag bekend as die Jode), vanaf die jaar 924 tot 597 voor die geboorte van Yeshua die Messias. En ons gesels vandag oor die 15de en 16de konings van die Suidryk, in 2 Konings 21:19 tot hoofstuk 23:30 en 2 Kronieke 33:21 tot hoofstuk 35.
Amon, Manasse se seun was 22 jaar oud toe hy in sy pa se plek koning geword het en hy het twee jaar in Jerusalem regeer en die naam van sy ma was Mesullémet, ‘n dogter van Harus uit Jotba. En hy het GEDOEN wat VERKEERD was in die oë van YHVH, soos sy pa Manasse gedoen het. Hy het die drekgode (die vals afgode) wat sy pa Manasse gedien het, ook gedien en hom voor hulle neergebuig en hy het YHVH die God van sy vaders verlaat en nie in die WEG van YHVH gewandel (geleef) nie. En hy het hom nie verootmoedig voor die aangesig van YHVH soos sy pa Manasse gedoen het nie, en so het Amon die skuld vermeerder. Amon het dus nie berou oor sy sonde gehad en dit nie bely en weggedraai daarvan nie.
Paulus vertel vir ons ook van hierdie probleem in die tyd wat ons lewe in Romeine 2:1-11 waarin hy waarsku dat ons ander mense oordeel maar dan ons skuldig maak aan soortgelyke dinge en in vers 3-11 sê hy dan: “En meen jy, o mens wat hulle OORDEEL wat sulke dinge doen, en dit SELF DOEN, dat jy die OORDEEL van GOD sal ontvlug? Of verag (minag) jy die RYKDOM van SY GOEDERTIERENHEID (genadige barmhartigheid) en VERDRAAGSAAMHEID, en LANKMOEDIGHEID (geduldigheid) omdat jy nie besef dat die GOEDERTIERENHEID van God jou tot BEKERING (verandering van hart, afkering/ wegdraai van sonde, “repentance in Engels, en teshuva in Hebreeus) wil lei nie? Maar ooreenkomstig jou VERHARDHEID en ONBEKEERLIKE HART (‘n hart wat nie wil verander en nie wil wegrdraai van sonde nie) vergader jy vir jou toorn (gaar woede op teen jou) as ‘n skat in die DAG van die TOORN (op die OORDEELSDAG) en die openbaring van die REGVERDIGE OORDEEL van God wat elkeen sal vergeld (aan elkeen sal gee) na sy werke (volgens dit wat hy GEDOEN het): aan die wat deur VOLHARDING in goeie werke (goeie dade) heerlikheid en eer en onverganklikheid SOEK – die EWIGE LEWE; maar aan die wat EIESINNIG (koppig) en aan DIE WAARHEID (die Woord van God) ONGEHOORSAAM is – grimmigheid en toorn (woede), verdrukking en benoudheid oor die siel van ELKE mens wat KWAAD DOEN. , oor die Jood (mense van die stam van Juda en Benjamin, bekend as die Suidryk) eerste en ook oor die Griek (die nie-Jood, mense wat nie van die stam van Juda en Benjamin is nie); maar heerlikheid en eer en vrede vir ELKEEN wat GOED DOEN, vir die Jood eerste en ook vir die Griek. Want daar is nie aaneming van die persoon by God nie”. Dit beteken dit gaan nie oor wie ‘n persoon is en van watter afkoms nie, al wat saakmaak is of jy GOED DOEN in God se oë (volgens Sy gebooie, bepalings en verordeninge) en dus in GEHOORSAAMHEID daaraan lewe.
Terloops die WEG van YHVH waarvan hier gepraat word is dieselfde WEG wat Yeshua ons Messias later beskryf as die SMAL WEG of NOU POORT in Lukas 13:22-30 waarin ons lees: “En onderwyl Hy geleer het en op reis was na Jerusalem, het Hy stede en dorpe deurgegaan. Toe se iemand vir Hom: Meester, is die wat GERED word, MIN? En Hy antwoord hulle: STRY HARD om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie. Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Meester, Meester, maak vir ons oop – sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Dan sal julle begin sê: Ons het in U teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer. En Hy sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan WEG van MY, al julle werkers van die ongeregtigheid! (in Engels is dit “lawlessness” dus “wetteloosheid”/ mense wat sonder of in opstand teen die wet van God leef, ongehoorsaamheid aan God die Vader). Daar sal geween wees en gekners van tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koningkryk van God sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe. EN hulle sal kom van oos en wes en van noord en suid en aansit in die koningkryk van God. En daar is laastes wat eerste sal wees, en daar is eerstes wat laaste sal wees (Lees ook Mattheus 7:13-14 & 21-23). Spreuke 12:28 sê: “Op die PAD van GEREGTIGHEID is LEWE, en die rigting van dié PAD is ONSTEFLIKHEID.”
En ons weet ook in Johannes 14:6 sê Yeshua: “Ek is die WEG, en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader, behalwe deur My nie. Ons lees van hierdie WEG in Hebreers 10:19-20 waarin ons lees dat ons vrymoedigheid het om in die heilgdom (die tempel van God) in te gaan deur die BLOED van YESHUA op die NUWE en LEWENDE WEG wat Hy vir ons ingewy het deur die VOORHANGSEL heen, dit is Sy vlees.”
Die Bybel in Praktyk verduidelik: Jy is nou self “priester” (lees ook Openbaring 1:6) en jy word opgeroep om in die heiligdom in te gaan wat ‘n beeld is van intieme, persoonlike kontak met God die Vader. Ons het vrye toegang tot God die Vader omdat Yeshua ons Messias die vol prys vir die sonde aan die kruis op Golgota betaal het en ons verhouding met God die Vader herstel het en ons nou vrye toegang het tot God die Vader – daar is nie meer ‘n swaar gordyn wat ons van Hom skei soos voorheen in die geval van die aardse tempel was nie. Hierdie gordyn het geskeer toe Yeshua ons Messias gesterf het (lees Mattheus 27:51 & Lukas 23:45) en die WEG na die Vader is nou oop vir ELKE mens wat kies om Yeshua die Messias as VERLOSSER te aanvaar en Hom te VOLG in GEHOORSAAMHEID aan die VADER met die hulp van die HEILIGE GEES.
In Psalm 25:4-5 sê David “YHVH, maak my U WEË bekend: leer My U PAAIE. LEI my in U WAARHEID en LEER my want U is die God van my heil (REDDING en VERLOSSING en geluksaligheid/ welsyn en veiligheid).” Lees ook Psalm 16:11.
En Paulus verwys ook later daarna wanneer hy getuienis lewer voor goewerneur Felix in Handelinge 24:14 “Maar dit erken ek voor u dat ek volgens DIE (hoofletter) WEG wat hulle ‘n sekte (‘n geloofsgroep wat afgesplinter het) noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek ALLES glo wat in die WET (volgens die Joodse Studie Bybel is die woord wat hier gebruik word: Torah, dus verwys Paulus hier na Genesis tot Deuternomium en sê hy verder:) en die PROFETE geskrywe staan.
En ons lees verder in 2 Konings 21:19-26, die dienaars (ondergeskiktes) van Amon het ‘n sameswering teen hom gesmee en hy is in sy huis doodgemaak. Maar die volk het almal doodgeslaan wat teen koning Amon saamgesweer het. En Amon is begrawe in ‘n graf in die tuin van Ussa (die 10de koning van Juda endus voorgeslg van Amon). Lees 2 Konings 21:19-26 en 2 Kronieke 33:21-25.
Nahum was die profeet gedurende sy regerings periode.
Josia, die seun van Amon was agt jaar oud toe hy koning geword het en hy het 31 jaar in Jerusalem regeer. En hy het GEDOEN wat REG was in die oë van YHVH, soos sy voorvader DAWID gedoen het en soos Dawid geheel en al in die WEG van YHVH gewandel (geleef) en daarvan nie regs of links afgewyk nie.
Hierdie uitdrukking wat die skrywers van die Konings en Kronieke gebruik, kom op verskeie plekke in die Woord voor, soos in Deuternomium 5:31-33 waarin God vir Moses sê: “…bly hier by My staan, dat Ek jou kan meedeel AL die GEBOOIE en die INSETTINGE (instelings) en die VERORDENINGE (voorskrifte, bevele, wetlike bepalings) wat jy hulle moet LEER, dat hulle dit kan DOEN in die land wat Ek hulle sal gee om dit in besit te neem. Sorg dan dat julle DOEN soos YHVH julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie. In AL die WEË wat YHVH julle God julle BEVEEL het, moet julle wandel (leef), sodat julle kan LEWE en dit met julle GOED kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem”. Lees ook Josua 23:6.
En ons lees in 2 Kronieke 34:3-7, in die 8ste jaar van koning Josia se regering, m.a.w toe hy 16 jaar oud was, het hy begin om die God van sy (voor) vader David te SOEK, en in die 12de jaar van sy regering (m.a.w toe hy 20 jaar oud was), het hy begin om Juda en Jerusalem re REINIG (skoon te maak, te suiwer) van die hoogtes en heilige boomstamme (die Asjera pale) en die gesnede beelde en die gegote beelde.
Ons sien dus koning Josia word met David vergelyk en hy word beskou as die vroomste koning van Juda, die Suidryk (wat volgens God se voorskrifte gelewe het). Ons lees in 2 Konings 23:25 “En voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot YHVH bekeer het met sy HELE HART en met sy HELE SIEL en met AL sy KRAG volgens die HELE WET (volgens die Joodse Studie Bybel is die woord wat hier gebruik word: Torah) van Moses (dus verwys dit na Genesis tot Deuternomium wat in opdrag van YHVH deur Moses neergeskryf moes word), en na hom (na Josia) het nie een opgestaan soos hy nie (daar was dus nie weer ‘n koning soos Josia in Juda, die Suirdyk nie).
Die woorde van hierdie vers herinner ons aan ons Messias se woorde in Mattheus 22:37-40 oor die GROOT GEBOD, naamlik: “En Yeshua antwoord hom: “Jy moet YHVH jou God liefhê met jou HELE HART en met jou HELE SIEL en met jou HELE VERSTAND. Dit is die EERSTE en GROOT GEBOD. En die TWEEDE wat hiermee gelykstaan: jy moet jou NAASTE liefhê soos JOUSELF. Aan hierdie TWEE GEBOOIE hang die HELE WET (volgens die Joodse Studie Bybel is die woord wat hier gebruik word: Torah, dus verwys Yeshua hier na Genesis to Deuternomium opgesom in die Tien Gebooie) en die PROFETE (Lees ook Deuternomium 6:5, Eksodus 20, Mattheus 5:17-48 en Paulus se verduideliking in Romeine 13:8-14).
Ons sien die TERM van “SOEK na GOD” dikwels in die Woord soos in Deuternomium 4:29 “Dan sal julle daarvandaan YHVH julle God SOEK en VIND as jy Hom met jou HELE HART en jou HELE SIEL SOEK.” Jesaja se ook in Jesaja 55:6-7 “SOEK YHVH terwyl Hy nog te vinde is; ROEP Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot YHVH BEKEER (‘n verandering van hart ondergaan en wegdraai van sonde, teshuva in Hebreeus), dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot ons God want Hy VERGEEF menigvuldiglik.” Lees ook Jeremia 29:13, Spreuke 8:17, Mattheus 6:33 en 7:7-8 om maar net ‘n paar te noem).
En ons lees verder in 2 Kronieke 34:4-5 hulle het voor sy oë (onder sy toesig) die altare van die Baäls omgegooi; en die sonpilare (die obeslike) wat daar bo-op was stukkend gekap en die heilige boomstamme (Asjera pale) en die gesnede beelde en die gegote beelde verbreek (stukkend gemaak) en gemaal en dit oor die grafte gestrooi van die wat aan hulle geoffer het (hulle aanbid het). En die beendere van die priesters het hy op die altare verbrand en Juda en Jerusalem gereining.
Die Bybel in Praktyk verduidelik dat die mensbene van die priesters verbrand is van die wat afgode aanbid het om so te keer dat dit nie vir afgodsdiens rituele gebruik word nie.
En in die stede van MANASSE en EFRAIM en SIMEON en tot by NAFTALI (dit is die nageslagte van die stamme van ISRAEL, die Noordryk onder leiding van Efraim), in hule puinhope (ruines, bouvalle) rondom het hy die altare omgegooi en die heilige boomstamme (Asjera pale) en genesde beelde tot stof vergruis en al die sonpilare (obeliske) in die HELE LAND van ISRAEL omgekap (onthou dat die Noordryk toe reeds in ballingskap weggevoer is deur die Assiriërs in 722 voor die Messias en Josia was eers ongeveer ‘n 120 jaar later koning in die jaar 602 voor die Messias maar dit blyk dat daar ‘n oorblyfsel van mense van Israel nog daar gewoon het en hulle afgodsaanbiddings plekke was steeds in hulle bouvallige stede). Daarna het Josia na Jerusalem teruggekom.
En in Josia se 18de regeringsjaar, m.a.w toe hy 26 jaar oud was het sekretaris Safan, die owerste (hoof, die NLV sê: die staatsekretaris) van die stad gesê koning Josia moet vir Hilkia die hoëpriester vra om die geld wat ingsamel is van die volk om die huis (die tempel) van YHVH te herstel te oorhandig aan die mense wat die herstelwerk doen. Die hoëpriester Hilkia het aan Safan, gesê: “Ek het die WETBOEK (die Joodse Studie Bybel verwys na “die boekrol van die Torah” – dus verwys dit na Genesis tot Deuternomium opgesom in die Tien Gebooie) in die huis (tempel) van YHVH gevind, en Hilkia het die BOEK (of boekrol) aan Safan gegee en hy het dit gelees. En Safan het vir koning Josia terugvoer gaan gee dat die geld vir die herstelwerk aan die huis van YHVH aan die mense oorhandig is wat die werk moet doen. En hy het vir koning Josia van die BOEK wat Hilkia aan hom gegee het gesê en dit vir koning Josia voorgelees. En ons lees in 2 Konings 22:11-14 “En toe die koning die woorde van die WETBOEK (die Torah boekrol) hoor, het hy sy klere geskeur (dit was in die ou Testament ‘n teken van berou).” En hy het opdrag gegee aan Hilika en die priester Ahikam en Safan en ‘n paar ander mense van belang en gesê: Gaan RAADPLEEG YHVH vir my en vir die volk en vir die HELE JUDA oor die WOORDE van hierdie BOEK wat gevind is; want die grimmigheid (die woede) van YHVH is GROOT wat teen ons ONTVLAM het omdat ons vaders NIE GELUISTER het na die WOORDE van HIERDIE BOEK om te handel (te DOEN en OP te TREE) volgens ALLES wat ons VOORGESKRYWE is nie. Toe gaan die hoëpriester en die ander manne na die PROFEET Hulda, die vrou van Sallum, die klerebewaarder, sy het in JERUSALEM in die NUWE STAD gewoon, en hulle het met haar gepraat.
Die Bybel in Praktyk verduidelik: Die hooggeplaasde afvaardiging wat koning Josia na die profeet Hulda stuur is ‘n teken van die erns waarmee hy die oordeel oor die ongehoorsaamheid van die volk beskou het. Sy was die vrou van ‘n vooraanstaande persoon en alhoewel sy ‘n vrou is was daar geen huiwering of weerstand om haar te raadpleeg oor duidelikheid oor sy lot en die van die volk nie. Ander vroue profete wat in die Woord gemeld word is Mirjam, Moses en Äaron se suster (Eksodus 15:20), Debora (Rigters 4:4-5) en Jesaja se vrou (Jesaja 8:3-3). Dan is daar ook in die Nuwe Tesament verwysings na Anna (Lukas 2:36-38) en die vier dogters van Filippus (Handelinge 21:8-9).
En ons lees dan in 2 Konings 22:15-20 meld Hulda dat YHVH aan koning Josia sê dat Hy onheil oor die volk gaan bring omdat hulle Hom verlaat het en afgode gedien het en Hom geterg (probeer kwaadmaak) het. Daarom sal Sy WOEDE ONTVLAM teen Jerusalem end it sal nie uitgeblus kan word nie. Maar aan koning Josia van Juda moet hulle sê: omdat jou HART week (sag) is en jy jou voor die aangesig van YHVH verneder (verootmoedig/ nederig gemaak het) toe jy hoor wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners gespreek het, dat hulle ‘n voorwerp van verbasing en vervloeking sal word, en omdat jy jou kleure geskeur het (berou getoon het) en voor My aangesig geween (gehuil) het daarom het Ek ook verhoor, spreek YHVH.” En dan belowe YHVH daarom sal Josia in vrede sterf en sy oë sal nie die onheil (ramp, groot ongeluk) sien wat YHVH oor Jerusalem sal bring nie.
Die Bybel in Praktyk verduidelik: Deur die profeet Hulda bevestig YHVH dat die volk se ONTROUHIED Hom kwaadgemaak het. Hy gaan hulle straf en NIKS sal dit kan keer nie. Maar weens Josia se verootmoediging en sy poging om die aanbidding van God te herstel en te suiwer sal God nie hierdie straf oor die volk laat kom terwyl Josia nog lewe nie.
Ons sien hier die VERBOND met YHVH gerugsteun deur die VERBONDSBOEK (die Torah, Genesis tot Deuternomium, opgesom in die Tien Gebooie) is van GROOT BELANG. Die Bybel in Praktyk verduidelik: In Deuternomium hooftuk 27 tot 28 lees ons oor die vloek wat vanself in werking tree wanneer die VERBOND met God verbreek word. As ‘n mens joueslf buite die beskerming van die VERBOND plaas deur nie aan die eise daarvan te voldoen nie, plaas jy jouself deur jou eie besluite BUITE die VERBOND en dus in gevaar van VLOEK. Dit geld ook vir die NUWE VERBOND in YESHUA die MESSIAS. Lees Johannes 15:5-8.
En dan lees ons in 2 Konings hoofstuk 23:1-3 het koning Josia die oudstes (die leiers) van Juda en Jerusalem na hom laat kom. En koning Josia, het opgegaan na die huis (die tempel) van YHVH, en al die manne van Juda en al die inwoners van Jerusalem en die priesters en die profete en die hele volk, klein en groot en hy het AL DIE WOORDE van die VERBONDSBOEK (die Torah, Genesis tot Deuternomium, opgesom in die Tien Gebooie) wat in die huis (die tempel) van YHVH gevind is vir hulle voorgelees. En koning Josia het op die verhoog gaan staan en die VERBOND voor die aangesig van YHVH gesluit om YHVH te VOLG en SY GEBOOIE en SY GETUIENISSE en SY INSETTINGE met die HELE HART en met die HELE SIEL te ONDERHOU, om die WOORDE van HIERDIE VERBOND wat in HIERDIE BOEK geksrywe is, te BEVESTIG. En die HELE VOLK het TOEGETREE (hulle verbind) tot die VERBOND.
Die Bybel in Praktyk verduidelik: Konings en die volk word gemeet aan die mate waarin hulle die eise van die VERBOND met YHVH hulle God nagekom het. Jerusalem en die tempel is vernietig en die volk het in ballingskap ingegaan omdat hulle die VERBOND verbreek het. Ons sien ook die hernuwing van die VERBOND in Josua 24. In koning Josia se lewe is daar voorbeelde van belang vir gelowiges vandag. Josia het van jongs af YHVH die God van sy vaders gedien en ALLES verwyder wat tussen hom en God gestaan het. Niks was belangriker vir hom as om GETROU aan God te wees nie en hy het alles spore van afgodsdiens uit sy eie en die volk se lewens verwyder. Hy het hom ook laat ernstig waarsku deur YHVH se Woord en nie gehuiwer om volgens Sy Woord te lewe nie en ook die volk se lewens in ooreenstemming met die Woord te bring. Hy was bewus van al die sondes in die volk se gekiedenis maar het nie meodeloos geword nie, maar dit het hom eerder aangespoor om sy saak met YHVH reg te maak en opnuut ‘n verbintenis met Hom aan te gaan en die pad saam met Hom te loop. God se uitstel van OORDEEL is ‘n teken van SY GENADE vir ons om tot BEKERING te kom.
Beide Paulus en Petrus verduidelik hierdie beginsel later. Paulus sê in Romeine 2:4 “Of verag (minag) jy die RYKDOM van SY GOEDERTIERENHEID (genade en barmhartigheid) en VERDRAAGSAAMHEID, en LANKMOEDIGHEID (geduld) omdat jy nie besef dat die GOEDERTIERENHEID van God jou tot BEKERING (verandering van hart ondergaan en wegdraai van sonde, teshuva in Hebreeus) wil lei nie? En Petrus sê in 2 Petrus 3:9 “YHVH vertraag nie die belofte (van Sy wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is LANMOEDIG (geduldig) oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat ALMAL tot BEKERING moet kom.”
Ons lees in 2 Kronieke 34:32-33 “En hy het amal wat in Jerusalem en in Benjamin te vinde was (dit is die SUIDRYK, vandag bekend as die JODE), laat toetree tot die VERBOND; en die inwoners van Jerusalem het gehandel (GEDOEN) volgens die VERBOND van God, die God van hulle vaders. Josia het toe al die gruwels uit al die landstreke van die kinders van ISRAEL (die NOORDRYK, die tien stamme onder Efraim waarvan die meeste reeds in ballingskap weggevoer was deur die Assiriërs), verwyder en almal wat in ISRAEL te vinde was (die oorblyfsel), diensbaar gemaak, om YHVH hulle God te dien; al sy dae (terwyl Josia koing was) het hulle nie van YHVH, die God van hulle vaders afgewyk nie. So hierdie woorde dui aan dat ISRAEL (die Noordryk, die tien stamme onder Efraim wat tot vandag toe onder die nasies versprei is en dus nie meer uitgeken kan word nie), maar ongelukkig weer afgewyk het van God se weë na Josia se dood.
So nou verstaan ons waarom SLEGS die stam van Juda en Benjamin (die SUIDRYK, later bekend as die Jode), Abba Vader se GEBOOIE en FEESTE bly onderhou het tot vandag toe! Terloops, ons weet Paulus was van die stam van Benjamin (dus vanuit die SUIDRYK, later bekend as die Jode). Daarom was hy goed bekend met YHVH die God van sy vaders en SY VERBOND en daarom kon hy die waarheid oor die NUWE VERBOND waarvan ons lees in Jeremia 31:31-34 verduidelik aan die gemeentes van gelowiges wat gevorm het na die dood en opstanding en hemelvaart van Yeshua die Messias. Daar is onsekerheid oor wie die skrywer van die Boek Hebreërs is, maar dit is in alle waarskynlikheid Paulus en ons lees in Hebreërs 8:10 van hierdie NUWE VERBOND wat YHVH na hierdie dae sal sluit met die HUIS van ISRAEL: Hy sal Sy WETTE in hulle VERSTAND gee en dit op hulle HART SKRYWE (net soos dit nog altyd SY bedoeling was); en Hy sal vir hulle ‘n God wees en hulle sal vir Hom ‘n volk wees. Lees ook Hebreërs 10:16.
Maar waarom het die volk wat deel is van die Suidryk (Juda en Benjamin, vandag bekend as die Jode) dan later aan weer die VERBOND verbreek en is hulle toe tog in ballingskap weggeneem. Die Bybel in Praktyk verduidelik: Want VERBONDSLUITING sonder die HERSTEL van die VERHOUDING met YHVH is LEEG en kan nie standhou nie. Dit geld ook vir ons as GELOWIGES. Sondebelydenis en ‘n veranderde lewenswyse moet voortvloei vanuit ‘n nuwe verhouding met God. Sy WOORD en RIGLYNE moet nie meer net iets op papier wees nie, maar moet deel word van ons HARTE en GEDATES juis omdat ons Hom liefhet.
En dan tree Josia op volgens YHVH se opdrag in Deuternomium 7:5 en 12:2-14 om al die Kanaänietiese afgodsbeelde te vernietig.
En die SKOONMAAK van die HUIS (TEMPEL) van YHVH vind plaas soos beskryf word in 2 Konigs 23:4-20 en 24. Koning Josia gee opdrag aan die hoëpreister Hilkia, die priesters en die drumpelwagters (mense wat wagstaan by die tempel om veiligheid te verseker) om:
- All die voorwerpe uit die tempel van YHVH te bring wat gemaak is vir Baäl en Asjera en die hele leër van die hemel (die son, maan en sterre) en dit buitekant Jerusalem in die velde van Kidron te verbrand en die as daarvan na Bet-el te laat dra. Die Nelson’s Foundational Bible Dictionary verduidelik: Bet-El was toegeken aan Benjamin en was op die grens tussen die stam van Benjaim wat deel was van Juda (en dus die Suidryk) en van Efraim (deel van die Noordryk) en dit het ‘n sentrum vir afgodsaanbidding geword tydens Jerobeam se koningskap oor die Noordryk (Lees 1 Konings 12:29-22 & 13:1-32). En daarom het die profete dit veroordeel (Lees Jeremia 48:13, Hosea 10:15 en Amos 3:14 & 4:4) En dit is hier waar Josia die afgodsaltare vernieig het.
- En hy het die afgodspriesters uitgeroei wat deur die konings van Juda aangestel was om op die hoogtes van die stede van Juda en in die omgewing van Jerusalem rook te laat opgaan, en ook die wat vir Baäl, vir die son en die maan en die sterrebeelde en die hele leër van die hemel offerook laat opgaan het (hulle aanbid het).
- En hy het die Asjera (die heilige boomstam of paal) uit die huis van YHVH buitekekant Jerusalem uitgebring na die Kidron spruit en dit VERBRAND en tot STOF gemaal en op die algemene begraafplaas gegooi.
- En hy het die huis van die skandseuns (die manlike tempelprostitute) afgebreek wat in die huis (die tempel) van YHVH was, waar die vroue tente geweef het vir Asjera. (Die betekenis hiervan is onseker maar word aangedui in die Joodse Studie Bybel as afskortings wat vir die Asjera beelde gemaak is, maar as ons kyk na die konteks kon dit ook moontlik areas gewees het waar seksuele gemeenskap in die tempel bedryf is).
- En Josia het die hoogtes laat afbreek.
- Hy het ook Tofet (‘n plek in die Hinnom valei waar hoë plekke gebou is en kinder offers gebring is) verontreining, sodat niemand sy seuns of dogters vir Moleg deur die vuur kon laat gaan nie (nie offer nie).
- En hy het die perde uitgeroei wat die konings van Juda gegee het tot die verering van die son, by die INGANG van die huis (tempel) van YHVH en die waens van die son het hy met vuur verbrand.
- Die altare wat op die dak van die bokamer van Agas (die 12de koning van Juda) was, wat die konings van Juda gemaak het (ons sien in Jeremia 19:13 dat die konings op hulle huise se dakke die leërs van die hemel en ander kleinletter gode aanbid het), en die altare van Manasse in die twee voorhowe van die huis (tempel) van YHVH wat hy gemaak het, het koning Josia afgebreek en tot stof gemaal en in die Kidron spruit gegooi.
- En die hoogtes wat oos van Jerusalem was, suid van die Berg van Bederf wat Salomo, die koning van ISRAEL (voor die verdeling van die koningkryk in ‘n Suid- en Noordryk), gebou het vir Astarte, die verfoeisel (gruwelike ding) van die Sidoniërs en vir Kamos die verfoeisel van die Moabiete, en vir Milkom die gruwel van die kinders van Ammon, het die koning verontreining.
- En hy het die hoogtes van Jerobeam wat vir ISRAEL (die Noordryk, die tien stamme onder Efraim), laat sondig het afgebreek en verbrand en die heilige boomstam/ Asjera paal verbrand.
- En hy het die afgodstempels wat in Samaria (die hoofstad van Israel), die Noordryk gebou was afgeskaf (‘n einde is daaraan gemaak).
- En hy het die dodebesweerders (mense wat geeste raadpleeg) en die waarseêrs en die huisgode (afgode wat aangehou is om huise te beskerm) en die drekgode (vals gode) en al die verfoeisels (gruwels) wat in die land van Juda en in Jerusalem te sien was, uitgeroei.
En nadat die tempel van YHVH en die land van Juda en Israel gereining is, lees ons gee koning Josia in 2 Konigs 23:21-22 opdrag om die PASGA vir YHVH hulle God te hou soos geskrywe in die VERBONDSBOEK (die Torah, Genesis tot Deuternomium, opgesom in die Tien Gebooie).
- Die Pasga lammers is geslag op die 14de van die eerste maand (14 Abib, Maart/April op ons kalender), soos voorgeskryf in Eksodus 12:6 en Levitikus 23:4-5);
- Die priesters het hulle dienspligte waargeneem en hulle versterk vir die diens in die huis (tempel) van YHVH,
- Josia het aan die Leviete, die onderwysers van die HELE ISRAEL, wat heilig (afgesonderd) was vir YHVH gesê: “Sit die heilge ark (die verbondsark) in die huis (die tempel) wat Salomo, die seun van David, die koning van ISRAEL, gebou het. En daarna sien ons die prosedures wat gevolg is vir die Pasga soos opgeteken deur Moses in die Torah (Genesis tot Deuternomium).
En dan lees ons in 2 Kronieke 35:16-18 “En die kinders van ISRAEL wat aanwesig was, het die PASGA (dit is die 1ste Fees YHVH) gehou in dié tyd, en ook die FEES van ONGESUURDE BRODE, SEWE DAE LANK (dit is die 2de Fees van YHVH wat deel vorm van die Pasga Fees – lees Levitikus 23:1-14). So ‘n PASGA soos dié is in ISRAEL nie gehou van die dae van die profeet Samuel af nie, en al die konings van ISRAEL het nie so ‘n PASGA gehou as wat Josia en die priesters en die Leviete en die HELE JUDA en ISRAEL (die oorblyfsel van die wat in ballingskap weggevoer is deur die Assiriërs) wat aanwesig was, en die inwoners van Jerusalem gehou het nie.
Die Bybel in Praktyk verduidelik dat die PASGA FEES ‘n openbare teken was van die uitwissing van Manasse se afgodspraktyke asook ‘n uidrukking van die volk se trou aan YHVH. In Salomo se tyd is hierdie SEWEDAG FEES gehou toe die nuut geboude tempel ingewy is (Lees 2 Kronieke hofstuk 7). Hiskia het met die terugkom van die volk uit afgodery die volk die PASGA FEES laat vier (2 Kronieke hoofstuk 30) en nou sien ons Josia volg in sy voetspore.
Ons sien dus die EERSTE STAP om terug te kom na YHVH, die Skepper van hemel en aarde en alles daarin, insluitend elke mens, is ALTYD om ons sondes te bely, van ons afgode ontslae te raak en terug te draai na YHVH die Vader en die PASGA te hou – vervul in die NUWE TESTAMENT in die KRUISIGING van YESHUA ons MESSIAS die LAM van GOD vir ons sondes en SY OPSTANDING en DAARNA leef ons, ons lewens in GETROUHEID aan die VERBOND met God die Vader wat geskryf staan op ons HARTE en in ons GEDAGTES.
En dan lees ons van die BELOFTE van YHVH in 2 Koning 22:18-20 wat aan Josia gemaak is en gekommunikeer is deur die profeet Hulda, in 2 Konings 23:29-30 voltrek word. Faroa Nego, die koning van Egipte (hy het regeer in 610 tot 595 voor die Messias) het teen die koning van Assirië opgetrek na die EUFRAATRIVIER; en koning Josia het hom tegemoet getrek. Ons lees dan in 2 Kronieke 35:21-23 Faroa Nego het ‘n boodskapper na Josia gestuur om aan hom te sê dat hy nie opgetrek het teen hom nie, maar teen Assirië wat gedurig teen hom oorlog maak en hy sê verder aan Josia: “…en God het gesê ek moet gou maak. Verset jou nie teen God wat met my is, dat Hy jou nie vernietig nie.”
Maar Josia wou nie luister nie en het homself onherkenbaar gemaak om teen Faroa Nego te veg in die laagte van MEGIDDO (dit is dieselfde plek waar Sagaria geprofeteer het die slag van Armagedon sal plaasvind waarvan ons ook lees in Openabring 16:13-16. Armagedon is ‘n Hebreeuse woord vir die “berg van Megiddo” en dit is hier waar God die weermag van die antichrist/ antimessias en die vals profeet sal verslaan. Lees ook Openbaring 19:11-21). En die (boog) skutters het koning Josia raakgeskiet. En hy is terugvervoer deur sy soldate na Jerusalem en hy het gesterf.
Die Bybel in Praktyk verduidelik: Hierdie gebeure het in 609 voor die Messias plaasgevind. Nineve, die hoofstad van Assirië is drie jaar tevore deur Babilonië oorompel. Die Arimiërs het hulle magte by Haran en Karkemis hergroepeer, maar Babel se magte het hulle verslaan. Faroa Nego wat graag wou hê dat Egipte ‘n wêreldmag moes word, was bekommerd omdat Babel besig was om baie sterk te word. Daarom het hy deur Juda na Karkemis opgeruk om die Assiriërs te help. Koning Josia wou hom verhinder en het hom by MEGGIDO voorgelê om teen hom te veg. Faroa Nego het vir Josia laat weet dat YHVH hom gestuur het om teen Babel te gaan veg en dat Josia hom moes uitlos, maar Josia het hom geïgnoreer – waarskynlik omdat hy gedink het dat Faroa Nego ‘n heidense koning was en dat hy nie deel kon wees van God se plan nie. Maar hier maak Josia ‘n groot fout want in God se wysheid en almag kan Hy enige mens in sy diens gebruik om Sy doelwitte uit te voer, ongeag van of hulle Hom dien of nie. Koning Josia is dus deur Faroa Nego doodgemaak en Juda is aan Egipte onderwerp. Faroa Nego het na Karkemis gegaan en die Babiloniërs vier jaar lank afgeweer, maar is in 605 voor die Messias verpletter en verslaan die Babiloniërs hom. Daarna was Babel die heersende WÊRELDMAG.
So hier sien ons Abba Vader het vir koning Josia laat sterf om hom, soos Hy belowe het, die ONHEIL (ramp, groot ongeluk) wat oor Juda sou kom te spaar!
Sefanja en Jeremia was die profete gedurende sy regerings periode en ons lees dan in 2 Kronieke 35:25 “En Jeremia het ‘n klaaglied oor Josia geskryf, en al die sangers en sangeresse het in hulle klaagliedere van Josia gespreek tot vandag toe en dit tot inseting in ISRAEL gemaak. Lees Klaagliedere 4:20
Die Bybel in Praktyk veruidelik: JUDA en ISRAEL word met mekaar vergelyk soos Manassse (koning van Juda, die Suidryk) met Agab (koning van Israel, die Noordryk) en die slotsom is JUDA, soos ISRAEL het die VERBOND van God verbreek en die OORDEEL (Deuternomium hoofstuk 27-28) oor hulself gebring. God se OORDEEL is NOOIT VERGELDING nie, maar iets wat ons oor onsself bring deur die KEUSES wat ons self maak. Dit is goed as ons die OORDEEL van God met erns bejeen, maar die BELANGRIKSTE is dat ons HARTE in ons BEKERING tot Hom moet wees. En dit blyk wat verkeerd was met die volk volgens Jeremia 44:15-19. Ons kan God nie bluf met ‘n skynbekering en dan in die geheim met ons ou sondige praktyke probeer voortgaan nie. Die WOORD van God is bedoel om ons AAN TE GRYP en dan tot LEWENSVERANDERINDE OPTREDE aan te spoor.
