13 Mei 2026 Ons is gesels vandag verder oor, MY REIS VANUIT DIE DUISTERNIS (die…
DIE BOEK OPENBARING – ‘n Koningkryk van Priesters, Openbaring 1:6
7 Maart 2024
Ons gaan voort met die bestudering van die Boek Openbaring.
Ons gebruik hoofsaaklik die 1933 vertaling vir studie doeleindes met kruisverwysings na ander Bybel weergawes. En ons gebruik die HEBREEUSE NAME van God die Vader, naamlik YHVH (Yod-Heh-Vav-Heh) waar die word HERE in hoofletters voorkom uitgespreek as Yahveh en Yeshua die Messias in plaas van die Griekse vertaling Jesus Christus.
Ons gesels nog oor Openbaring 1:6. Ons is besig om te gesels oor wat dit beteken dat Yeshua die Messias gelowiges gemaak het ‘n KONINGKRYK VAN PRIESTERS vir YHVH, die Vader.
Soos julle weet is ons besig om saam deur Levitikus 19 te werk om te verstaan en te leer hoe Abba Vader vereis dat Sy volk, wat beskryf word as KONINGS en PRIESTERS van SY KONINGKRYK, HEILIG MOET LEWE – volgens SY VOORSKRIFTE sodat gelowiges HEILIG KAN WEES SOOS HY HEILIG IS. (Lees Eksodus 19:6, Levitikus 19:2 en 1 Petrus 1:15-16). Paulus beskryf dit soos volg in 1 Thessalonicense 4:7 “Want YHVH ons God het ons nie tot ONREINHEID geroep nie, maar tot HEILIGMAKING (geestelike reininging).” En in vers 8 sê hy as ons dit verwerp, verwerp ons die HEILIGE GEES!
Maar voordat ons verder gaan, kom ons bid eers.
Abba Vader, dankie dat U ons in U Woord leer hoe om HEILIG te LEEF volgens U voorskrifte. Dankie dat Yeshua ons Messias wat ons regverdig maak en heilige priesters vir U maak vir ons die voorbeeld kom stel het hoe om in GEHOORSAAMHEID aan U te leef.
Abba Vader, beskerm ons asseblief teen ons bose vyand wanneer ons vandag meer leer hieroor uit U Woord sodat hy en sy bose magte nie in staat sal wees om ons met TROTS, AANSTOOT en SELFBEJAMMERING te verslaan en ons met REBELLIE en WOEDE te laat struikel en ons harte soos KLIP verhard nie. Abba gee asseblief vir ons SAGTE BEROU volle HARTE met goeie grond waarin die SAAD van U WOORD GEPLANT kan word, ontkiem en ‘n VEELVULDIGE oes kan oplewer vir U Koningkryk.
Abba ons wêreld is vol leuens en bedrog en ons moet erken dat ons onsself dikwels skuldig maak aan die meedoen aan skinder stories oor ander wat nie altyd die waarheid is nie, omdat nie een van ons alles verstaan van wat in iemand anders se siel en sy of haar lewe aangaan nie, en daarom inligting of waarnemings oor ander verkeerd kan verstaan, opsom en oordra. Help ons vandag Abba Vader, om te verstaan dat LEUENS een van die ses dinge is wat U HAAT en wat daartoe kan lei dat ons in die poel van vuur kan beland as ons dit nie bely en daarvan wegdraai nie. Baie dankie dat U ons in U WOORD baie duidelik oor die ERNS van LEUENS waarsku en dat U ons weer vandag daaraan herinner.
Dankie Abba dat U Seun, Yeshua ons Messias ons kom leer het in John 8:32 dat WANNEER ons U WAARHEID ken, dit ons ons VRYMAAK.
Abba help ons asseblief om te verstaan wat HEILIGHEID en SONDEBELYDENIS beteken en die WAARDE daarvan te besef sodat ons dit nie verder sal verwerp nie, maar dit sal VERWELKOM met ope arms omdat ons SAL ERVAAR wat die HELENDE KRAG daarvan is.
Ons vra dan nou ook Abba Vader, lei ons deur U Gees deur hierdie boodskap vandag. Maak ons toe in U skuilplek en plant ons op ons Rots Yeshua ons Messias, vul ons met U Heilige Gees en gee ons helderheid van verstand en begrip vir U Woord. Abba omring ons ook asseblief met ‘n muur van vuur en U weermag van engele, sodat geen bose magte ons op enige wyse kan bereik nie.
Baie dankie Abba Vader. Ons loof en prys en eer U in die hoogste hemel in die Naam bo alle Name van ons kosbare en kragtige Verlosser en Redder, Yeshua U Seun. Amen.
Ons het reeds begin gesels oor Levitikus 19:11 waarin ons gelees het: “Julle mag nie STEEL nie en julle mag nie LIEG en julle mag mekaar nie BEDREIG nie.” Al DRIE hierdie dinge is nou verwant en het almal te make met VALSHEID maar omdat die WOORD ons soveel daaroor waarsku praat ons in verskillende boodskappe daaroor. Ons het in die vorige boodskap gesels oor STEEL en vandag fokus ons dan op wat die Woord ons leer oor LEUENS.
Ons lees in Eksodus 20:16 die NEGENDE gebod: “Jy mag GEEN vals getuienis teen jou naaste spreek nie” In Eksodus 23:1 staan: “Jy mag geen vals gerig (‘n verklaring of uitspraak) rondstrooi nie (die ’83 vertaling sê: JY MAG NIE SKINDER STORIES VERSPREI NIE). En ons lees verder in die ’33 vertaling: “Verbind jou nie met die skuldige (m.a.w met die een wat skinderstories verprei nie), om ‘n KWAADWILLIGE getuie te wees nie. Lees ook Psalm 35:11-12 waar David sê die KWAADWILLIGE getuie vergeld hom KWAAD vir GOED en gebruik elke geleentheid om hom by te kom (m.a.w dis iemand waaraan goed gedoen word maar steeds ‘n kwaadwillige gesindheid het en kwaad doen aan die persoon wat goed aan hulle doen). En Abba Vader noem dan ook inderdaat LEUENS as een van die SES dinge wat Hy HAAT (lees Spreuke 6:16-17).
In Mattheus 19:17-18 bevestig Yeshua ons Messias, die belangrikheid daarvan om nie vals getuienis teen ander te gee nie (nie te LIEG nie), as deel van die Tien Gebooie om die EWIG LEWE te mag ingaan. En ons lees ook in die laaste hoofstuk van die Woord – Openbaring 22:14-15 “Salig (gelukkig en geseënd) is die wat Sy (YHVH die Vader) se GEBOOIE DOEN, sodat hulle reg kan hê op die BOOM VAN DIE LEWE en INGAAN deur die POORTE in die STAD. Maar buite is die honed (dit is ‘n term wat in die Woord vir ONGELOWIGES gebruik word) en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en ELKEEN wat LEUENS liefhet en DOEN (leuens vertel en ander mense bedrieg met hulle aksies). “
Die 1983 vertaling praat van: Geseënd is die wat hulle KLERE WAS, sodat hulle reg kan hê op die Boom van die Lewe. En die Bybel in Praktyk verduidelik hier: “Almal wat hullself REINIG van hulle ou, sondige lewe, is besig om hulle KLERE te was. Hulle streef daagliks daarna om gertou te bly en gereed te wees vir ons Messias se terugkeer.” Dit verwys na die KOPER WASBAK voor die ingang van die Heilige Gedeelte van die Tabernakel/ Tempel wat daagikse sondebelydenis behels NADAT ons NUWE WIT KLERE van redding ontvang het deur die prys betaal deur Yeshua ons Messias aan die KRUIS (uitgebeeld as die BRONS ALTAAR) by die hek van die Tabernakel/ Tempel in die voorhof.
En Openbaring 21:8 vertel dan ook aan ons dat “…leuenaars saam met die vreesagtiges, die ongelowiges, die gruwelikes, die moordenaars, die hoereerders, die towenaars en die afgodedienaars in die poel van vuur en swael gegooi sal word waar die vals profeet, die antichrist/ antimessias en die duiwel dan ook reeds teen daardie tyd gegooi sal wees (lees Openbaring 18:20-21 en Openbaring 20:10).
Ons lees in Openbaring 21 van die NUWE JERUSALEM wat uit die hemel sal neerdaal en in vers 27 staan: “En daarin sal nie inkom iets wat VERONTREINIG en GRUWELIKHEID en LEUENS doen nie; maar net die wat geskrywe is in die BOEK van die LEWE van die LAM.”
Ons lees in Spreuke 14:5 “’n BETROUBARE GETUIE LIEG NIE. ‘n Vals getuie loop oor van leuens” en in vers 25 “ ’n EERBARE GETUIE RED LEWENS, ‘n VALS GETUIE STEEK ANDER IN DIE RUG” En Spreuke 25:18 sê: “Iemand wat vals getuienisse (LEUENS of SKINDERSTORIES wat onwaar is) oor ‘n ander (mens) versprei is net so GEVAARLIK soos ‘n knuppel (of ‘n knopkierie), ‘n SWAARD en ‘n SKERP BYL. ‘n Gebreekte tand, ‘n voet wat swik, so is dit om in gevaar staat te maak op ‘n ONBETROUBARE mens.”
So DUIDELIK het LEUENS niks met LIEFDE te doen nie, maar is dit eerder ‘n vorm van HAAT. Die Bybel in praktyk verduidelik dat dit wreed is om LEUENS te vertel – dit kan ernstige gevolge hê en emosionele letsels agterlaat.
Die WOORD verseker ons dat dit ONMOONTLIK is vir YHVH, die God van Israel om te LIEG (lees Numeri 23:19, 1 Sameul 15:29, Hebrews 6:18, 2 Timotheüs 2:13, Titus 1:2). Juis dit gee aan ons die versekering dat ons TEN VOLLE op YHVH ons God kan vertrou.
Die WOORD maak ‘n BAIE DUIDELIKE ONDERSKEID tussen die WAARHEID en LEUENS en dat die WAARHEID deel van YHVH die Vader se aard is en die LEUEN die aard van die Satan is.
Yeshua ons Messias vertel aan ons in Johannes 8:44 die volgende oor die Satan se karakter: “…hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom GEEN waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie (die NLV sê: uit sy innerlike oortuiging), omdat hy ‘n LEUENAAR is en die vader daarvan.”
Ons weet ook vanuit 2 Korinthiërs 11:14-15, die Satan en die wat hom volg kan hulle VOORDOEN soos engele van die lig m.a.w asof hulle die WAARHEID praat en dis juis hoekom hulle dit regkry om mense te BEDRIEG met hulle leuens. Dit is soos wanneer jy ‘n glas vol gefiltreerde, gesonde water het en iemand gooi net 5ml gif in die 250ml water kan jy steeds baie siek daarvan word en selfs sterf. En dit is dikwels hoe ons gevang word deur die Satan en sy bose magte – dit wat hulle sê mag 98% die waarheid wees, maar die 2% LEUENS wat dit insluit, mag daartoe lei dat iemand se siel verlore gaan en dit is die rede waarom ons die WAARHEID van YHVH ons God se Woord 100% met die ledinig van Sy Heilige Gees moet ken sodat ons NIE mislei kan word deur mense wat hulle voordoen asof hulle die WAARHEID praat nie.
Die Woord vertel ons verder:
Dat daar LEUEN GEESTE is – ons lees van hulle in 1 Konings 22:21-23 en 2 Kronieke 18:19-22 en let wel dat ABBA VADER hulle kan gebruik om Sy wil uit te voer. So alhoewel Hy nie kan LIEG nie, kan Hy wel LEUEN GEESTE gebruik om mense te dissiplineer of om die Sy VYANDE te vernietig – voorbeelde hiervan is koning Saul en koning Agab.
En nog ‘n SKRIKWEKKENDE voorbeeld waar bose geeste gebruik kan word om mense te teister is wanneer ons verwag dat Abba Vader ons moet vergewe maar ons WEIER om ander te vergewe – Yeshua verduidelik dit vir ons in die gelykenis van die ONBARMHARTIGE SKULDEISER in Mattheus 18:15-35 waarin ons lees van ‘n persoon wat die koning gevra het om sy skuld af te skryf, maar nie bereid was om iemand wat aan hom geld geskuld het se skuld af te skryf nie. Die koning was SO kwaad toe hy dit hoor dat hy die man laat vang het, opgesluit het in die tronk en hom oorgegee het aan die PYNIGERS totdat hy ALLES betaal het wat hy aan die koning verskuldig was. En Yeshua sê dan in vers 35: “So sal ook My HEMELSE VADER aan julle doen as julle nie ELKEEN sy broeder (m.a.w sy naaste, ander mense) van harte sy oortredinge vergewe nie.”
Dit mag vir ons baie VREEMD klink maar ons moet besef, YHVH is die SKEPPER en KONING van die hemel en die aarde en Hy regeer daaroor met WETTE, ‘n WEERMAG en ‘n HOF waar besluite geneem word (lees byvoorbeeld Job 1:6-12 & 2:1-7, 1 Konings 22:19-22 en 2 Kronieke 18:19-22, Psalm 82:1, Daniel 7:9-10, Romene 2 en Openbaring 20:4 & 11-13). En net soos in ons wêreld is daar in Sy hof ‘n ADVOKAAT (lees 1 Johnnes 2:1-2 waarin Yeshua beskryf word as VOORSPRAAK vir GELOWIGES by die Vader) en daar is ‘n AANKLAER (dit is die Satan/ duiwel lees Openbaring 12:10), en wanneer ons SKULDIG bevind word is daar ook tronkbewaarders (ook beskryf as folteraars en pynigers wat dui op bose geeste/ demone – lees ook 1 Korinthiers 5:5) soos ons lees in Mattheus 18:35. Lees ook Deuternomium 19:14-19.
Ons lees in Spreuke 15:9-10 “YHVH verafsku die manier waarop goddelose mense leef. Hy het die mens LIEF wat VOLGENS SY WIL LEWE. Wie die regte pad verlaat sal SWAAR GESTRAF word. Hy wat berisping (tereg wysing) haat sal sterf.”
So net soos in ons land waar ons as GOEIE LANDSBURGERS uit die moeilikheid uit bly deur ons aan die land se wette te onderwerp en die reëls en regulasies gehoorsaam, kan ons uit die moeilikheid uit bly as GOEIE BURGERS van die HEMEL en ‘n GELUKKIGE en RUSTIGE LEWE, reeds hier op aarde lei, deur ons aan Abba Vader se wette te onderwerp en Sy reëls en regulasies te gehoorsaam.
Ons moet ALTYD onthou, ALLES is GESKEP deur Hom en daarom werk ELKE SISTEEM, ook die mens in lyn met hoe Hy dink. Daar is NIKS wat die mens kan uitdink onafhanklik van YHVH die SKEPPER en KONING nie. Nou nes ons land aksie moet neem teen WETTELOSE MISDADIGERS, so moet YHVH ook aksie neem teen mense wat Sy wette oortree en voortspoed na die ewige verderf wat eintlik gemaak is vir die Satan en sy gevalle engele – ook as gevolg van die feit dat hulle geweier het om hulle aan YHVH se gesag en koningsheerskappy te onderwerp, en die mense wat hulle gewillig volg die duisternis in, sal dan natuurlik hulle ook volg in die poel van vuur in deur die TWEEDE DOOD te sterf na die GROOT WITTROON OORDEEL waarvan ons lees in Daniel 7:9-10 en Openbaring 20:11-13.
Dit is van hierdie mense, die wat die DUISTERNIS liefhet en vrywillig volg, waarteen die WOORD ons waarsku in 2 Korinthiërs 11:14-15, die wat hulle voordoen as mense van die LIG, die wolwe in skaapsklere, die VALS PROFETE. En daar is BAIE waarskuwings oor hulle in beide die OU en NUWE TESTAMENT – doen seblief jou eie studie hieroor – lees byvoorbeeld Deuternomium 18:20, Esegiel 13:9, Jeremia 14:14 & 23:9-40, Hosea 4, Mattheues 7:15-20 & 24;24, 2 Timotheus 4:3-4, Handelinge 20:28-30, 2 Petrus 3:14-18, 1 Johannes 4:1-6 en vele meer.
In Miga 6 lees ons oor die BOOSHEID van Israel (dit is die 10 stamme van die Noordryk onder Efraim) en ons lees in vers 12: “Want die RYKES in die stad is vol geweld en die inwoners daarvan spreek LEUENTAAL, en hulle tong is BEDROG in hulle mond (lees ook Hosea 12:9 en Openbaring 3:17-19).
Psalm 58 praat van onregverdige regters en ons lees in vers 3-6 “julle bedryf ONGEREGTIGHEDE in die hart (die NLV sê: in julle gedagtes beplan julle reeds boosheid); julle weeg op aarde die GEWELD van julle hande af (dit beteken hulle versprei geweld met hulle hande in die land deur korrupsie). AFVALLIG (dit beteken ONTROU), is die goddelose mense; die LEUEN SPREKERS dwaal van die moederskoot af (die 83 vertaling verduidelik dit is slegte mense wat van geboorte af loop op ‘n verkeerde pad, vandat hulle in die wêreld gekom het, dwaal hierdie bedrieërs af). hulle het GIF soos die gif van ‘n SLANG; soos ‘n DOWE ADDER wat sy oor toestop; wat nie LUISTER na die STEM van die BESWEERDERS al is hulle hoe vernuftig. Hulle wil met ander woorde nie luister nie, hulle hou hulle doof.
Paulus verduidelik in 1 Timothy 4:1-4 “Die (Heilige) Gees se uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die GELOOF afvallig sal word (m.a.w ONTROU sal word aan die WOORD van YHVH) en VERLEIDENDE GEESTE en LERINGE VAN DUIWELS sal aanhang deur die geveinsdheid (skynheiligheid, voorgee), van LEUENAARS wat gebrandmerk is in hulle eie gewete…”
Spreuke 17:4 sê: “Die KWAAD DOENER gee ag op ‘n BEDRIEGLIKE LIP (m.a.w luister na leuens), ‘n LEUENAAR LUISTER na ‘n tong wat ONHEIL stig (m.a.w groot ramp, ongeluk of kwaad veroorsaak).
Spreuke 21:6 sê: “Skatte met LEUENS verwerf beteken niks (die ’83 vertaling sê dit verdwyn in die wind) en bring net die dood (die ‘33 vertaling sê: dit is ‘n dodeike valstrik).”
Johannes waarsku ons 1 John 1:6 “As ons sê da tons met Hom gemeenskap het, (m.a.w deel aan Hom het) en in die DUISTERNIS wandel (leef), dan LIEG ons en DOEN nie die WAARHEID nie.”
In 1 Johannes 2:4 praat JOHANNES met GELOWIGES wat nie die GEBOOIE van YHVH die Vader wil onderhou nie en ons lees hier: “En hieraan weet ons dat ons HOM KEN: as ons SY GEBOOIE BEWAAR (GEHOORSAAM). Hy wat sê: Ek KEN HOM – en Sy GEBOOIE nie bewaar nie – is ‘n LEUENAAR en in hom is die WAARHEID nie.
DE GEVOLGE VAN LEUENS en HOE YHVH dit hanteer
Ons lees in Psalm 5:7 YHVH VERNIETIG die wat LEUENS VERTEL.
Psalm 34:13-15 word aangehaal deur Petrus in 1 Peter 3:10 en ons lees hier: “Want die Skrif sê: “As jy die lewe liefhet en goeie dae wil beleef moet jy jou TONG WEGHOU van KWAADPRAAT en jou LIPPE VAN LEUENS. Bly weg van die kwaad af, ja DOEN wat GOED is. SOEK VREDE, ja JAAG dit na. YHVH die Vader sorg vir DIE wat REG DOEN en Hy LUISTER na hulle GEBEDE. Maar YHVH die Vader is TEEN DIE wat KWAAD DOEN.”
Spreuke 10:31 se: “’n Tong wat KWAAD saai sal afgesny word.”
En in Spreuke 19:5-6 word gewaarsku: “ ’n VALS GETUIE bly nie ongestraf nie, en hy wat LEUENS uitstrooi (of versprei), sal nie vrykom nie.”
LEUENS is dus VERSKRIKLIK GEVAARLIK, en ek aanvaar dit is omdat dit die HOOF KARAKTERTREK van die SATAN is – dus is daar GEEN TWYFEL nie – as ons ons doelbewus besig hou met ‘n lewe vol LEUENS, is ons onmiskenbaar besig om die DUISTERNIS LIEF te hê en te VOLG en maak dit van ons ‘n seker VYAND van YHVH die VADER. Dit kan ons lewens verkort en dit kan lei tot die TWEEDE DOOD in die POEL van SWAEL EN VUUR wat ons reeds weet ook die uiteinde van die vader van leuens naamlik die Satan is, soos Yeshua hom noem in Johannes 8:44.
Daar is TWEE dele van die liggaam wat direk in die WOORD in verband gebring word met LEUENS en dit is die LIPPE en die HART.
So kom ons kyk eers na die LIPPE wat natuurlik deel vorm van die LIGGAAM van die mens.
In Psalm 31:19 vra David aan Abba Vader: “Laat die valse LIPPE stom word (m.a.w nie in staat wees om te praat nie), wat in trotsheid en veragting onbeskaamd (brutaal, uittartend, sonder skaamte), teen die regverdige praat.”
In Spreuke 12:19 & 22 lees ons: ‘n BETROUBRE LIP bestaan vir atyd, maar ‘n VALS TONG is vir ‘n OOMBLIK… valse LIPPE is vir YHVH ‘n GRUWEL, maar Hy het ‘n WELBEHAE in die wat GETROU handel.”
Spreuke 24:28-29 “Moenie teen iemand getuig as hy jou nie rede daarvoor gegee het nie. Moenie mense mislei met wat jy sê nie. Moenie sê: Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen nie. Ek sal hom in gelyke munt trerugbetaal.”
In Psalm 109:2-3 praat David oor woorde van vervloeking soos volg: “Want hulle het die MOND van die GODDELOSE en die MOND van BEDROG teen my oopgemaak; hulle het met my gespreek met ‘n LEUENAGTIGE TONG, en my met WOORDE van HAAT omring..”
En daarom het ons as GELOWIGES ‘n BELOFTE van Abba Vader in die WOORD van in Jesaja 54:17 naamlik: “Elke wapen wat teen jou gesmee word SAL NIKS UITRIG NIE; en ELKE TONG wat teen jou optaan in die gereg (met ander woorde ELKE AANKLAG teen jou in die hof), sal jy weerlê. Dit is die erflating van die dienaars van YHVH die Vader. Aan hulle laat Ek reg geskied, verklaar YHVH.” Maar onthou, ons leer ook in die Woord wat ons SAAI sal ons MAAI/ OES (Galasiërs 6:7-9), so ons moet EERS ons EIE LIPPE en TONG onder beheer kry. Jakobus vertel ons in hoofstuk 1:26 “As jy dink dat jy GODSDIENSTIG is, maar jy hou nie jou TONG in toom nie, BEDRIEG jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie.” Lees ook Jakobus 3:1-11.
En wat ons verder moet verstaan is dat die LIPPE wat deel is van die LIGGAAM net kan DOEN en dus net WOORDE kan GEBRUIK wat in die SIEL van die mens is – julle onthou mos die SIEL is die VERSTAND waaring die GEDAGTES vorm aanneem en die HART waarin die emosies vorm aanneem en die VRYE wil waarmee ons BESLUITE neem. En dit wat in ons GEDAGTES en HART is kom by ons MONDE uit – Yeshua ons Messias sê in Mattheus 15:18-19 “…SLEGTE WOORDE kom uit ‘n SLEGTE HART en maak die persoon wat hulle uitspreek VUIL. Wat uit die hart kom is SLEGTE GEDAGTES soos om moord te pleeg, ontrou te wees in die huwelik, onsedelikheid te bedryf, te steel, leuens te vertel en mense te belaster. Dit is hierdie dinge wat jou ONREIN maak.”
En dit is dan ook die REDE waaom ons VERANTWOORDELIK gehou sal word op die OORDEELSDAG vir ELKE WOORD wat ons SPREEK en ELKE DAAD wat ons DOEN want dit kom uit die GEDAGTES wat ons KIES om in ons VERSTAND toe te laat om daar te groei tot bome en die GEVOELENS in ons HARTE te bepaal en so ons WOORDE te word wat ons SPREEK en ons aksies wat ons DOEN. (Lees Mattheus 12:36-37)
En daarom vertel ABBA Vader en Yeshua vir ons dikwels in die Woord oor die gevaar en belangrikheid om ons harte (wat deel vorm van die SIEL), en om BAIE versigtig te wees met wat ons daarin toelaat.
Ons lees in Psalm 44:21 YHVH KEN die GEHEIME van die HART (die SIEL) – so Hy weet wat in die HART van elke mens aangaan.
Spreuke 15:11 sê: “YHVH die Vader weet wat gebeur in die doderyk en in die onderaardse dieptes. Hoeveel te meer weet Hy wat aangaan in MENSE se HARTE.”
In Psalm 59:12 vra David hulp van YHVH om hom van Saul en sy manne te red en sê hy in vers 13: “Sonde van hulle mond is die WOORD van hulle LIPPE; laat hulle dan gevang word in hul TROTS, en vanwee die VLOEK en die LEUEN wat hulle vertel.” Ons sien dus hier dat EMOSIES soos TROTS ‘n VANGNET kan word, want TROTS kan ons WOORDE en ons HOUDING bepaal teen YHVH die God van Israel sowel as teen ons naaste.
Spreuke 10:8 sê: “Hy wat wys van hart is, neem die GEBOOIE aan, maar hy wat DWAAS van LIPPE is kom tot ‘n val.
Spreuke 13:5 sê: “Regverdige mense haat LEUENS, goddelose mense bring skade en skande oor hulleself.”
Sefanja 3 handel oor die OORDEEL oor JUDA en die nasies en die REDDING wat sal kom, ons lees in vers 13: “Die OORBLYFSEL (die REMNANT in Engels) van ISRAEL sal GEEN onreg DOEN en GEEN LEUENTAAL spreek nie, en in hulle mond sal GEEN begrieglike TONG gevind word nie, maar hulle sal wei en neerlê en niemand sal hulle verkrik nie.”
Sagaria 8 handel oor die WEDERKOMS en in vers 16-17 lees ons: “Dit is wat julle moet doen: Praat die WAARHEID met mekaar. Maak seker dat die regspraak in julle howe regverdig is en tot VREDE lei. Moenie bose planne maak om mekaar KWAAD aan te doen nie. Hou op om vals te sweer. Ek HAAT all hierdie soort ding se YHVH die Vader.”
En dan sien ons in Handelinge 5:1-16 die DODELIKE gevaar wanneer ons LIEG vir die HEILIGE GEES wanneer beide Annanias en sy vrou Saffira dood neer val. Petrus vra in vers 3 vir Anannias: “…waarom het die Satan jou HART GEVUL om vir die Heilige Gees te LIEG…en ons lees verder in vers 4-5: ”Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense GELIEG nie maar vir God (m.a.w. vir YHVH die Vader). En toe Annanias hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe…En daarna sien ons dieselfde gebeur met Saffira.
Die Bybel in Praktyk verduidelik: Ananias en Saffira se sonde was dat hulle vir God en Sy mense ‘n leuen vertel het – dat hulle wou voorgee dat hulle meer vryewig was as wat die waarheid was. Die soort oneerlikheid kom dikwels voor wanneer mense wil VOORGEE dat hulle goeie gelowiges is terwyl hulle dit nie is nie. Op die wyse verhinder ons die Heilige Gees se werk. As ons mense probeer BEDRIEG deur te LIEG oor ons verhouding met Abba Vader, vernietig ons ons getuienis vir Yeshua ons Messias.
Paulus vat dit mooi saam in Effesiërs 4:17-25 “Dit sê en betuig ek dan in YHVH die Vader dat julle nie meer moet wandel (of leef) soos die ander heidene (ongelowiges) wandel (of leef) in die VERDWAASDHEID (dwaasheid, gekheid, sotheid), van hulle GEMOED (die binneste van die mens, die setel van sy gevoel, stemming en gewete) nie – mense wat VERDUISTERD is in die VERSTAND en VERVREEMD van die lewe van God (YHVH die Vader), deur die onkunde wat in hulle is vanwee die VERHARDING van hulle harte; wat ONGEVOELIG geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande ONREINHEID te bedrywe.
Ons lees verder in Effesiërs 4: Maar julle het Yeshua die Messias nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig, is soos die waarheid is in Yeshua dat julle, wat die vorige lewenswandel (m.a.w wyse waarop julle geleef het) betref die OU MENS moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleidging ten gronde gaan, en dat julle VERNUWE moet word in die gees van julle gemoed (die binneste van die mens, die setel van sy gevoel, stemming en gewete), en julle met die NUWE MENS moet beklee wat na God (YHVH se BEELD) geskape is in WARE GEREGTIGHEID en HEILIGHEID. Daarom, le die LEUEN AF en spreek die WAARHEID, elkeen met sy naaste want ons is mekaar se lede.”
LEUENS doen twee dinge – dit maak die mense waarvoor LEUENS vertel word seer en dit beskadig ook die REPETASIE van die persoon wat die leuens vertel en vebreuk VERTROUE – iets wat nie maklik weer opgebou kan word nie – so dit is DUIDELIK waarom ABBA VADER leuens haat want leuens vernietig ons VERHOUDINGE met HOM, ONSSELF en met ander MENSE. Daar is dus niks GOEDS daaraan nie, SLEGS BOOSHEID en ons weet dan ook uit Yeshua se woorde in Johannes 8:44 die bose een, die Satan is die vader van ALLE LEUENS en ons onthou mos sy doelwit is om van on te STEEL, ons te SLAG en ons te VERNIETIG. So hoekom sal ek en jy verder inkoop in sy strategie van LEUENS?
Paulus vermaan die gelowiges tot heiligmaking en broederlike liefde in Kolosense 3 en in vers: 9-10 sê hy: “Lieg nie vir mekaar nie omdat julle die OU MENS met sy werke (sy manier van doen), afgelê het en julle met die NUWE mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die BEELD van SY SKEPPER.”
Die Bybel in Praktyk verduidelik: Die gelowige leer deurgaans uit die WOORD en die voorbeeld van Yeshua ons Messias en hoe meer ons verander hoe meer word ons soos Hy. Hierdie proses duur dwarsdeer ons lewens, daarom moet ons nooit ophou om aan Hom gehoorsaam te wees nie. Om God (YHVH die Vader) se WIL te DOEN verg OEFENING en om ons DENKE te verander in LYN met SY WOORD en VOLHARDING met die leiding van Sy Heilige Gees.
So as jy VANDAG die STEM van die HEILIGE GEES in Abba Vader se Woord hoor en daar ENIGE VORM van LEUENS in jou lewe is wat jy wil bely en KIES om weg te draai daarvan kan jy van die volgende voorstelle oorweeg:
- Praat met Abba Vader en vra Hom dat die Heilige Gees jou gedagtes en hart sal deursoek met Sy soeklig en jou sal bewus maak van al die LEUENS in jou lewe sodat jy dit kan bely. Een van die wyses om dit te doen is om die GEBOOIE van ABBA deur te lees en te oorweeg of daar iets is wat bely moet word. David vra in Psalm 119:29-30 “Verwyder van my die WEG van LEUENS, en verleen (gee, skenk) my GENADIGLIK U WET (hier verwys dit na die TORAH – Genesis to Deuternomium opgesom in die TIEN GEBOOIE wat as die HART van die Torah beskou word). Ek het die WEG van WAARHEID VERKIES; U verordeninge (voorskrifte, wetlike bepalings, bevele) het ek voor my gestel.”
- Skryf dit neer waarvan die HEILIGE GEES jou oortuig. En kyk of jy die REDE kan vasstel waarom jy LEUENS praat oor spesifieke aspekte in jou lewe. Soms hou LEUENS verband met VREES vir STRAF of VERWERPING of ‘n MOEILIKE SITUASIE wat jy probeer vermy. En dan is dit die BRON van die probleem waaraan jy sal moet werk om die LEUENS uit jou LEWE te verwyder.
- ONTHOU ons het bepaal LEUENS ontstaan in die GEDAGTES en wek EMOSIES in die hart wat dan die LIPPE mobiliseer om woorde van leuens te spreek. Dus is dit hierdie ROETE, hierdie VOETPAD waarop ‘n mens moet terugstap om die LEUENS te verwyder. Vra jouself af watter EMOSIES tot jou leuens lei – is dit byvoorbeeld die VREES vir VERWERPING of dalk JALOESIE of AFGUNS? Vra dan jouself af wat is die GEDAGTES wat daarmee saamgaan – wat dink jy oor die persoon waarvoor jy LEUENS vertel? Doen alles BIDDEND – onthou Paulus se advies in Fillipense 4:6-7: BID OOR ALLES. Vra dus vir Abba Vader dat Sy Heilige Gees jou in hierdie proses moet lei en en die WAARHEID vir jou wys sodat jy dit kan aanspreek.
- Bely enige LEUENS aan Abba Vader, ontvang Sy vergifnis en vra aan Hom om jou te lei met die hantering daarvan met die mense waarvoor jy leuens vertel en hoe om dit reg te maak met hulle en LEUENS in die toekoms te vermy.
- Die Bybel in Praktyk gee herdie advies om leuens te vermy: As jy ‘n volgende keer weer in die versoekng kom om ‘n skinderstorie oor te vertel, verbeel jou dat JY die een is waaroor geskinder word en dus met ‘n knopkierie, ‘n swaard of ‘n byl bygekom word volgens die vergelyking in Spreuke 25:18 om sodoende die GEVAAR en WREEDHEID van leuens te verstaan. Dit mag ons dalk help om stil te bly en vir Abba vergifnis te vra oor wat ons aan ander mense met ons woorde doen.
- Omdat ALLE slegte gedrag uit ons GEDAGTES en HART (emosies) kom is dit nodig om doelbewus ons gedagtes te ondersoek oor die probleem areas wat ons elkeen ondervind en daarop fokus om ons gedagtes te verander. Kyk na Abba se maniere hoe om dinge te doen want dit is mos hoe ons ons gedagtes vernuwe deur Sy Woord.
- En maak Spreuke 30:8 jou daaglikse GEBED aan Abba Vader in die Naam van Yeshua ons Messias om: “Hou VALSHEID en LEUENTAAL ver van my af…”.
- Neem jouself voor om MINDER te praat want Spreuke 10:19 verduidelik aan ons “By VEELHEID van WOORDE ontbreek die oortreding nie (die ’83 vetaling sê: met baie PRAAT bly die sonde nie uit nie) ; maar hy wat sy lippe inhou (met ander woorde minder praat), handel verstandig. In Mattheus 5:33-36 praat Yeshua oor die sweer van ‘n eed en sê Hy in vers 37: ”Laat julle JA eenvoudig JA wees en julle NEE, NEE. Wat meer gesê word as dit kom uit die bose.
- Maar daar is ook ‘n ander kant waarin jy moontlik BELIEG is deur iemand anders. En dit is hier waar ons weer terug is by VERGIFNIS – want as ons LEUENS vertel het maak SONDEBELYDENIS ons VRY en as daar aan ons LEUENS vertel is maak VERGIFNIS ons VRY. Yeshua ons Messias gee aan ons die proses om ons probleme met mense uit te sorteer in Matthew 18:15-17. Ons almal moet OEFEN om dit eerder te doen as om vir mekaar te jok of emosioneel oneerlik teenoor mekaar op te tree.
- En onthou YHVH ons God is steeds die REGVERDIGE REGTER en laat ons die oordeel aan Hom oor en Hy sal sorg dat REG en GEREGTIGHEID geskied. Dus doen ons altyd wat reg is in Sy oë en die res laat ons oor aan Hom met die seker wete dat Hy alles ten goede vir ons sal laat meewerk (Romeine 8:28).
