Skip to content

DIE BOEK OPENBARING – Hoofstuk 1:1-8

17 Oktober 2023

Die Bybel weergawes wat gebruik word in die bestudering van die BOEK OPENBARING is die volgende:

  • Die Bybel – 1933/53 vertalings;
  • Die Bybel in Praktyk – 1983 vertaling;
  • Die Complete Jewish Study Bible – Insight for Jews & Christians (in hierdie dokument genoem: Die Studie Bybel vir Jode en Christene); en
  • Die Nuwe Lewe Vertaling (NLV).

Die metode en struktuur:

  1. Elke hoofstuk word vers vir vers deurgewerk per tema; en
  2. Daarna word elke vers ontleed vanuit die kommentaar in die Bybels gebruik as bron dokumente asook die verwysings na ander Bybel gedeeltes, veral die profetiese boeke.

Die Name van God wat gebruik word:

In plaas van die Griekse Name word die oorspronklike Hebreeuse Name van God die Vader, naamlik YHVH gebruik waar die Woord HERE in die Bybel voorkom, en ons noem Homo ok ons Hemelse Vader en Abba Vader en Jesus Christus die Seun, naamlik Yeshua die Messias (wat beteken die Gesalfde van Abba Vader), en die Heilige Gees, naamlik die Ruach HaKodesh word in hierdie studie dokument gebruik.

HOOFSTUK 1

Naam & Onderwerp vd Boek

Vers 1:

  • Die openbaring van Yeshua die Messias wat YHVH, die Vader aan Hom gegee het sodat Hy aan SY diensknegte kon wys wat gou gaan gebeur.

Vers 2:

  • Hy het dit gekommunikeer deur SY engel na Sy dienskneg Johannes te gee wat ‘n GETUIE is van:
  1. Die WOORD van YHVH, die Vader en;
  2. Tot die GETUIENIS van Yeshua die Messias.

Vers 3:

  1. Geseënd is die lesers en hoorders van die woorde van hierdie profesie as hulle GEHOORSAAM wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby!

BESPREKING:

STUDIE BYBEL VIR JODE & CHRISTENE

  • Die Boek Openbaring word beskryf as ‘n simboliese verteenwoordiging van die toestande wat histories gaan ontvou tot en met die TWEEDE KOMS van die MESSIAS.
  • Baie Skrifgeleerdes is van mening dat die simboliek ooreenstem met die Pasga en Eksodus uit Egipte. Gebaseer op hierdie simboliek, is die Boek van Openbaring ‘n prentje of skadubeeld van hoe die wêreld sal wees met Yeshua die Messias se WEDERKOMS, wat moontlik soortgelyk kan wees aan die tyd voordat die Isrealiete uit Egipte ontsnap het. Hierdie keer sal dit egter ‘n wêreld gebeurtenis wees. YHVH se mense, die Jode sowel as gelowiges vanuit die nasies sal deur Hom beskerm word en sal op die ou einde ‘n groot oorwinning behaal, net soos gebeur het in die tyd van die Eksodus, toe Israel ‘n groot oorwinning oor Egipte behaal het.
  • Die Boek Openbaaring is dus van toepassing vir elke generasie, maar VERAL vir dié generasie wat lewe kort voor die WEDERKOMS van YESHUA.
  • Die Boek Openbaring is waarskynlik geskryf aan de einde van Johannes se lewe, tydens sy gevangenisskap op die eiland Patmos. Hy is deur die Romeinse regering daarheen verban omdat hulle hom daarvan beskuldig het dat hy deur sy getuienis vir Yeshua die Messias, ‘n vreemde godsdiens gepropageer het (m.a.w op ‘n georganiseerde wyse versprei het).
  • Die Boek Openbaring bevat meer as 500 verwysings na die Ou Testament (Tanakh). En dit anker dus die Boek Openbaring in die woorde van die profete van Israel.
  • Dit is ‘n feitelike en akkurate weergawe van die gebeure in die laaste dae.
  • Die getal SEWE verteenwoordig voltooiing en perfeksie in die Ou Testament.
  • YHVH het Sy skeppingswerk in ses dae voltooi en op die SEWENDE dag gerus (lees Genesis 2:1-3).
  • Die SEWENDE DAG (Shabbat wat “RUS” beteken in Hebreeus) is dus deur Hom as ‘n DAG VAN RUS ingestel (lees Eksodus 20:8-10).
  • SEWE kom 60 keer voor in die Boek Openbaring wat dui op VOLTOOIING.

DIE BYBEL in PRAKTYK

  • Die Boek Openbaring handel oor die toekoms EN die hede. Dit bring aan die een kant hoop vir die toekoms aan alle gelowiges, veral aan die wat vir hulle geloof moet ly, want dit gee die versekering dat die Messias oor die bose seëvier en dat alle gelowiges vir ewig by Hom sal lewe.
  • Daar is ook ‘n defnitiewe perspektief op die hede wat ons as gelowiges in staat stel om vandag te leef vanuit dit wat ons Messias reeds vermag het. Uit die openbaringe aan Johannes sien ons dat:
  1. Yeshua ons Messias weer gaan kom;
  2. Die bose finaal vernietig sal word; en
  3. Die dooies vir die laaste oordeel sal opstaan. En elke mens wat nog ooit gelewe het sal dan OF vir ewig lewe OF die ewige straf ingaan.
  • Ons sien in die Boek Openbaring die Messias, se identeit as DIE LAM wat OORWIN het en YHVH DIE VADER se plan vir die geskiedenis van die wêreld word geopenbaar.

 Die fokus van die Boek Openbaring is op:

  1. Yeshua die Messias;
  2. Sy terugkeer na die aarde;
  3. Sy finale oorwinning oor die sonde; en
  4. Die vestiging van Sy Koningkryk van Shalom (VREDE).
  • Openbaring is ‘n APOKALIPTIESE BOEK – dit is ‘n ou skryfstyl wat gebruik is om onthullings of openbarings te maak deur die gebruik van indrukwekkende en geheimsinnige beelde. Wat ons egter hier in gedagte moet onthou is dat die BOEK OPENBARING bedoel is om ‘n boodskap van HOOP te bring oor Yeshua ons Messias se OORWINNING oor die bose en Johannes nie die toekoms probeer voorspel het nie maar slegs opgetree het as profeet waardeur YHVH die Vader hom beveel het om openbarings soos aan hom gegee deur Yeshua die Messias, op te skrywe.
  • Yeshua het Sy opebaringe aan Johannes gegee deur middel van visioene en Johannes het dit in simboliese taal neergeskrywe. Die lesers in Johannes se tyd het ‘n raamwerk gehad om hierdie beelde te verstaan. Vandag moet ons dit ontleed deur ander gedeeltes van die Bybel te bestudeer, veral die PROFETIESE BOEKE.
  • Die gebeure waarvan ons lees in die Boek Openbaring is wel dramaties, maar ons as gelowiges wat geplant en gewortel is op ons Rots Yeshua ons Messias hoef NIKS TE VREES NIE. Daarom kan ons die toekoms met vertroue tegemoet gaan want Yeshua, die OORWINNAAR het REEDS die volle prys betaal.
  • Openbaring is ook ‘n PROFETIESE BOEK wat nie net dinge omtrent die toekoms voorspel nie, maar ook waarhede omtrent YHVH ons God verkondig oor die dinge wat Hy reeds gedoen het, steeds besig is om te doen en nog gaan doen.
  • Die dinge wat ons elke dag op die NUUS sien en hoor, is dikwels oorwegend negatief en deesdae moontlik selfs nie heeltemal die waarheid nie maar eerder bedoel om vrees en onsekerheid in te boesem. En dit laat baie mense bekommerd raak en laat hulle wonder waarheen die wêreld oppad is. Ons as gelowiges kan egter ons oë met HOOP en VERTROUE fokus op Abba Vader se VASTE en SEKER PLAN vir die TOEKOMS. ‘n Plan wat gebou is op die VASTE FONDAMENT van GOLGOTA – waar ons weet Hy ingegryp het in die verlede en die bose VERSLAAN het met die kosbare bloed van ons Mesias Yeshua aan die kruis wat die volle prys vir die sonde van die mensdom reeds betaal het en dus ELKE gelowige in Hom ten volle VRYKOOP van die bose.
  •  Dit is dus geen wonder dat Johannes GELOWIGES in vers 3 aanmoedig om die BOEK OPENBARING HARDOP te lees sodat ALMAL dit kan HOOR en die versekering kan hê, dat YHVH ons God altyd seëvier (triomfeer,oorwin) en dat ons as gelowiges in Yeshua ons Messias, wat in Hom glo en Hom gehoorsaam, in OORWINNING lewe, selfs al moet ons moontlik VERVOLGING of LYDING verduur.
  • Johannes sê aan die einde van vers 3 dat die einde van tyd soos wat ons dit ken naby is om sodoende die lesers van die BOEK Openbaring aan te moedig om te ALLE tye GEREED te wees vir die FINANLE OORDEELSVOLTREKKING en die VESTIGING van YHVH ons God se Koningkryk.
  • Ons ken nie die presiese tyd en uur nie maar ons moet ALTYD VOORBEREID wees, want ons sal nie ‘n tweede kans kry om gereed te maak nie. Die kans om vir Yeshua as Messias aan te neem en in geloof te aanvaar as ons REDDER en VERLOSSER en Hom te volg met die hulp van die Heilige Gees in ons, is aan die verbygaan.

Vers 4-6:

  • Van: Johannes
  • AAN: Die SEWE MESSIAANSE GEMEENTES in die provinsie van Asie:

Genade en SHALOM (VREDE) aan julle van:

  • die EEN wat is, wat was en wat gaan kom; (hier word verwys na YHVH die Vader)
  • van die SEWEVOUDIGE GEES voor SY troon, (dit is die Heilige Gees), en
  • van Yeshua die Messias,
  1. die GETROUE GETUIE;
  2. die EERSGEBORENE vanuit die dood en;
  3. die REGEERDER van die konings van die aarde.

Aan Hom,

  1. die een wat ons liefhet;
  2. wat ons bevry het van ons sondes deur met Sy bloed daarvoor te betaal;
  3. en wat ons gemaak het ‘n KONINGKRYK VAN PRIESTERS vir YHVH, die Vader.

Vers 6 eindig dan met: “…aan Hom (dit is die Vader, YHVH, die Heilige Gees en Yeshua die Messias) kom toe al die lof en eer en die krag (heerskappy) vir altyd en ewig. Amen

Vers 7:

  • Kyk! Hy kom op die wolke! En elke oog sal Hom sien, insluitend die wat Hom gekruisig het; en al die stamme van die Land sal oor Hom rou. Ja! Amen!

Vers 8:

  • Ek is die ALEF (die begin) en die TAV (die einde), sê YHVH die Vader, die God van die hemelse weermag (YHVH Tzva’ot in Hebreeus), die EEN wat is, wat was en wat gaan kom.

BESPREKING:

VANUIT DIE STUDIE BYBEL VIR JODE & CHRISTENE asook DIE BYBEL in PRAKTYK

Vers 4-6

  • Yeshua het opdrag aan Johannes gegee om te skryf aan die SEWE GEMEENTES, wat verteenwoordigend was van die MESSIAANSE GEMEENTES/ EKKLESIA in Grieks (en ook genoem die KERK) wat Hom as Messias geken het en vertroue in Hom gehad het. Hierdie gemeentes was in die ROMEINSE PROVINSIE Asië (vandag se Turkye). AL SEWE die GEMEENTES was op ‘n hoofroete geleë en dit sou moontlik wees vir ‘n boodskapper om die briewe vanaf die eiland Patmos waar Johannes was te neem en dan eerste by Efese aan te doen, vandaar af sou hy noordwaarts reis tot by Smirna en Pergamum, suidoos draai na Thiatira en van daar af verder gaan na Sardis, Filadelfia en Laodicea. Die roete stem preseis ooreen met die volgorde waarin die briewe ook in Openbaring hoostruk 2 en 3 bespreek word.
  • Daar word aanvaar dat al sewe die boodskappe in elke gemeente voorgelees is asook in die wyer gemeentes.
  • Johannes groet die Messiaanse Gemeentes met: Genade en Vrede (Shalom) van die DRIE EENHEID soos ons Hom ken:

EERSTENS: van die EEN wat is, wat was en wat gaan kom; (hier word verwys na YHVH die VADER). Ons lees in Eksodus 3:14-15 stel God Homself aan Moses voor as: Ehyeh Asher Ehyeh (dit is Hebreuse woorde wat beteken: Ek Is en/ sal wees wat Ek is). En Hy het verder aan Moses gesê: “Sê aan die mense van Israel, YHVH (Yahweh), die God van julle Vaders , die God van Abraham, Isak en Jakob het aan my verskyn…”

TWEEDENS van die HEILIGE GEES (wat hy hier noem die SEWEVOUDIGE GEES). Die SEWEVOUDIGE GEES waarvan ons lees in vers 4 is ‘n beskrywing van die VOLLE OMVANG van die HIELIGE GEES (die Ruach HaKodesh). Weereens sien ons hier die GETAL SEWE as ‘n getal van vokomenheid.

  • Ons lees ook in die PROFESIE in Jesaja hoofstuk 11 van YESHUA, wat soos ‘n takkie groei uit die STOMP van David se familie. ‘n Tak wat VRUGTE sal dra en Sy vreugde daarin sal vind om YHVH die Vader te gehoorsaam. Die GEES van YHVH die Vader sal op Hom rus. En dan word die SEWEVOUDIGE GEES van die Vader soos volg beskryf in vers 2: Dit is die GEES van YHVH die VADER, die Gees van WYSHEID en VERSTAND (sommige Bybel weergawes praat van INSIG), die Gees van RAAD en STERKTE (ook genoem KRAG), die Gees van KENNIS en van die VREES (ook genoem EERBIED) vir YHVH, die Vader. En kort voor Yeshua sê bediening, wanneer Hy deur Johannes die Doper gedoop word, sien ons dan ook dat die vervulling van hierdie profesie wanneer die hemele oopgaan en die Gees van YHVH die Vader soos ‘n DUIF op Yeshua neerdaal en n stem uit die hemel sê: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het (m.a.w. in wie Ek my verbly – die NLV sê: ‘n Kind so na My hart.)” Lees Mattheus 3:13-17. Yeshua sê dan ook aan Nikodemus in Johannes 3:5-6 “…Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou (dit beteken: Ek verseker jou): as iemand nie GEBORE word uit WATER en GEES nie, kan hy in die koningkryk van GOD, YHVH die Vader, NIE ingaan nie. Wat uit die vlees (die menslike liggaam) gebore is, is vlees (menslik), en wat uit die (hoofletter) Gees (m.a.w die HEILIGE GEES) gebore word , is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou sê jy moet WEER gebore word nie.” Johannes die Doper het hierdie dinge verstaan, hy sê in Mattheus 3:11 “Ek doop julle wel met WATER tot BEKERING; maar HY (m.a.w Yeshua die Messias) wat NA my kom, is STERKER as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. HY sal julle doop met die HEILIGE GEES en met VUUR.” En ons lees dan ook inderdaat in Handelinge 1:5 gee Yeshua opdrag aan Sy dissipels om na Sy hemelvaart in Jerusalem te wag: “Want Johannes (dit is Johannes die Doper) het wel met WATER gedoop, maar julle sal met die HEILIGE GEES gedoop word nie lan nà hierdie dae nie.” En ons weet TIEN dae NA YESHUA ons MESSIAS se hemelvaart is die dissipels GEVUL MET DIE HEILIGE GEES en kon hulle met krag en vreesloos die GOEIE NUUS verkondig.

DERDENS van YESHUA DIE MESSIAS, die GETROUE GETUIE. Die gemeentes is grootliks bemoedig in hulle stryd teen vervolging deur hierdie DRIE aspekte van YESHUA DIE MESSIAS:

  • Hy is die GETROUE GETUIE (of getroue Martelaar).
  • Hy is die EERSGEBORENE (die Leier wat ons voorafgaan) van die wat opgestaan het uit die dood.
  • Hy is die REGEERDER van die konings van die aarde (lees ook 1 Korinthiërs 15:24-25).
  • Die DRIE-EENHEID, YHVH die Vader, Yeshua die Seun en die Ruach Ha Kodesh, die Heilige Gees, is die BRON VAN ALLE WAARHEID (lees Johannes 14:6 & 17, 1 Johannes 2:27 en Openbaring 19:11). Daarom weet ons sonder twyfel dat Abba Vader se WOORD betroubaar is. Yeshua ons Messias het deur Sy dood en opstanding bewys dat Hy betroubaar is; dat Hy die EERSTE is wat uit die dood opgestaan het; en dat Hy na SY opstanding verhoog is en aan die regterhand van die Vader gaan sit het om te HEERS as die HEERSER oor die konings van die aarde. Yeshua die Messias word dus as ‘n ALMAGTIGE KONING uitgebeeld, een wat nie net as OORWINNAAR uir die stryd tree nie, maar ook ‘n KONING van VREDE is (Ons lees in Jesaja 9:5 Hy is die VREDEVORS, m.a.w die PRINS van VREDE (in Hebreeus: Sar Shalom). Maar Hy is ook die VERHEWE en VERHEERLIKTE, MAGTIGE GOD, YHVH, die EWIGE VADER.
  • Soos Yeshua die Messias uit die dood uit opgestaan het, SO sal AL DIE wat in Hom glo, ook opstaan tot die EWIGE LEWE. Yeshua ons Messias het Sy liefde vir ons bewys toe Hy ons deur Sy kruisdood van ons sondes bevry het. Op die wyse het ons ‘n plek in die koningkryk ontvang en word ons PRIESTERS WAT SY LIEFDE weer aan ander moet uitdra. Ons word dus ook KONINGS om namens Hom op aarde te regeer en PRIESTERS wat namens ander mense by YHVH die Vader intree.
  • Ons lees in Openbaring 1:6 dat Hy ons gemaak het ‘n KONINGKRYK VAN PRIESTERS vir YHVH, die Vader.
  • (Ons lees reeds hiervan in Eksodus 19:5-6 waar YHVH, die God van Israel sê: “As julle dan nou terdeë (goed) na My stem luister (die NLV sê: “REGTIG GEHOORSAAM IS AAN MY) en My verbond hou, sal julle My eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is Myne. En julle sal vir My ‘n komingkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders va nIsrael moet meedeel.”; en
  •  Petrus sê in 1 Petrus 2:4-10: “Kom na Yeshua die Messias, Hy wat ie LEWENDE HOEKKLIP is van die God (YHVH, die Vader) GEESTELIKE TEMPEL. Die mense het Hom afgekeur as HOEKKLIP, maar God (YHVH, die Vader) het Hom vir dié ereplek uitgekies. Laat julle as LEWENDE KLIPPE INBOU in God (YHVH, die Vader) se geestelike tempel. Julle taak is omn heilige priesters te wees wat geestelike offers bring. God (YHVH die Vader) aanvaar hierdie offers juis omdat Yeshua die Messias die HOEKKLIP is. Soos in die Skrif staan (hier verwys Petrus na Jesaja 28:16): Ek (YHVH, die Vader) lê in Sion ‘n HOEKKLIP (Yeshua, die Messias), en elkeen wat op Hom vertou (die 33 vertaling sê, die wat in Hom glo, sal nooit beskaam (skaam voel, teleurgesteld) word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die klip wat die bouers verwerp het, dit het ‘n SLUITKLIP geword; en ‘n KLIP van aanstoot en ‘n rots waaroor mense struikel – vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die WOORD ONGEHOORSAAM is, waarvoor hulle ook bestem is. Maar julle is ‘n UITVERKORE GESLAG, ‘n KONINKLIKE PRIESTERDOM, ‘n HEILIGE VOLK, ‘n volk as eiendom verkry, om te VERKONDIG die deugde (goeie eienskappe) van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot SY WONDERBARE LIG, julle wat vroeër geen volk was nie , maar nou die volk  van God (YHVH die Vader) is; aan wie toe geen barmhartigheid is nie, maar nou bewys is.”)

En dan lees ons in Openbaring 1:7

  • Elke oog sal Hom sien, insluitend die wat Hom gekruisig het – dit is moontlik dat dit nie slegs verwys na elkeen wat Hom fisies gekruisig het nie maar ook almal wat nie Sy versoenende offer dood vir hulle sondes wou aanvaar nie.
  • Johannes vertel dan ook in vers 7 van Yeshua ons Messias se terugkeer na die aarde toe. Yeshua ons Messias self het ons daarvan vertel in die Evangelies van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes en ons lees feitlik in elke brief in die Nuwe Testament daaroor. Alle mense sal Hom sien kom, en sal WEET dat dit Hy is en Hy sal oor die bose triomfeer en alle mense beoordeel. Johannes verwys na “hulle” wat Hom deurboor het want hy was teenwoordig en dus ‘n oogetuie daarvan – dit kan wees da thy verwys na die Romeinse soldate, die Jode wat vir Yeshua oorgelewer het om gekrusig te word en almal wat Hom verwerp het en met Hom gespot het terwyl Hy aan die kruis gehang het (sien Joannes 19:34-35).
  • En ons lees ook in die profete in Daniël hoofstuk 7 en in Sagaria 12 daaroor.

Vers 8

  • Ek is die Alef (begin) en die Tav (einde) (0ns weet in die Grieks is dit die Alfa en die Omega) – en dit verwys na Hom as die EEN wat bestaan het aan die begin en sal bly bestaan tot aan die einde. In Openbaring 1:8 en 21:6 verwys dit na die YHVH die Vader maar in Openbaring 22:13 verwys die worde: “Ek is die Alef en die Tav, die begin en die einde, die eerste en die laaste” na Yeshua die Messias.
  • In Openbaring 1:8 eindig hierdie gedeelte dan met YHVH die Vader wat aandui dat Hy die ALEF (in Hebreeus) en Alfa in Grieks is (m.a.w die begin) en die TAV (in Hebreeus) en Omega in Grieks is (m.a.w die einde). Hy is die EWIGE HERE en HEERSER van die VERLEDE, HEDE en TOEKOMS. Soos ons ook lees in Jesaja 41:4 “Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy (YHVH) wat die geslagte roep van die begin af; Ek, YHVH, die eerste (die Alef) en by die laaste (die TAV is Ek dieselfde.” En in Jesaja 44:6 So sê YHVH, die Koning van Israel en Sy Losser (of Verlosser), YHVH Tsa’vaot (God van die Leerskare, m.a.w die Hemelse Weermag): Ek is die eerste (die Alef), en Ek is die Laste (die TAV) en buiten My is daar geen God nie.” En in Jesaja 48:12 se Hy “Luister na My o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek (YHVH); Ek is die Eerste (die Alef), ook is Ek die Laaste (die Tav).”
  • Sonder Hom is daar NIKS wat ewig is nie, NIKS wat ons lewens kan verander nie en NIKS wat ons van die sonde kan red nie
  • Soos wat YHVH die Vader die geskiedenis en eelal beheer, SO is Hy ook van a tot z die HEERSER van on lewens.

 

 

He-Brews-Coffee-Roastery-Logo

Stay In Touch