Skip to content

MY REIS VANUIT DIE DUISTERNIS (DIE DOOD) NA SY WONDERLIKE LIG (DIE LEWE), Deel 2: YHVH die GOD van die SMAL WEG

22 April 2026

Ons gesels vandag verder oor, MY REIS VANUIT DIE DUISTERNIS (die donker, afweisgheid van geestelike lig, onkunde, ongeloof, nood en elende, die dood) NA DIE WONDERLIKE LIG (openbaring van die waarheid, wysheid, geloof, geestelike vol lewe)  VAN ABBA VADER. En ons leer HOE ons, DIE SMAL WEG deur YESHUA ons MESSIAS vind wat lei vanuit die DUISTERNIS van EGIPTE/ ‘n prentjie van die WÊRELD, na ABBA VADER en ons help om die REDE en DOEL waarvoor HY ons gemaak het te vind, te verstaan, te groei daarin tot ons volle potensiaal en ons DOEL en ROEPING suksesvol uit te voer.

Ons het verlede week gepraat oor die belangrikheid om ‘n BESLUIT te neem oor die PAD van DUISTERNIS, ook in die Woord bekend as die BREË PAD van DIE DOOD en die PAD van LIG, ook bekend as DIE SMAL PAD van DIE LEWE. Alles in ons lewens begin en eindig by die BESLUITE wat ons neem met die VRYE WIL waarmee ons HEMELSE VADER ons geskep het en daarom sal die BESLUITE wat ons neem, ons KOERS bepaal.  So om ons te help om ‘n BESLUIT te neem het ons ‘n KOSTE BEREKENING gedoen oor die PRYS en die UITKOMS van elkeen van hierdie paaie.

Vandag gaan ons gesels oor WIE ons SKEPPER GOD van LIG en LEWE is wat saam met ons beweeg op die SMAL WEG van die LEWE.

Die wêreld, insluitend GELOWIGES probeer soms ‘n “GOD” SKEP wat ons PAS en om Hom in ons verstaanbare terme te omskryf en te beperk. En daarom is dit nodig in hierdie REIS SAAM MET HOM om sommer hier heel aan die begin, eers weer te BESEF WIE HY IS!

MAAR die INLIGTING oor HOM is OORWELDIGEND en onmoontlik om sommer net vas te pen want soos ons weet is HY ONEINDIG MEER AS WAT ONS OOIT KAN DINK of BEGRYP!

Die WOORD leer ons:

  • HY IS DIE SKEPPER VAN HEMEL, AARDE en ALLES DAARIN 

Ons lees in Genesis 1:1 “In die begin het God die hemel en die aarde geskape (uit niks gemaak)”.

En die hele SKEPPING loof HOM as SKEPPER (lees Psalm 148:1-14, Job 12:7-10 en Romeine 1:20). En tog waarsku Paulus in Romeine 1:21 dat wanneer mens harte verduister word (duister/ donker gemaak word, die lig verdwyn) ons Hom nie as Skepper sal verheerlik nie.

Die Hebreeuse woord wat in Genesis 1:1 gebruik word om God aan te dui as SKEPPER is ELOHIM wat die meervoud is vir die enkelvoudige woord EL. Dus beteken EL, God en ELOHIM God in die meervoud. En ons sien dit weer wanneer GOD die mens skep en sê: “Laat ONS mense maak na ONS BEELD en GELYKENIS (voorbeeld). Lees Genesis 1:26.

Ons kry bevestiging in Genesis 1:1-3 van die teenwoordigheid van GOD die Vader en die GEES (dus die Heilige Gees) en verskeie gedeeltes in die Woord bevestig dat GOD die VADER die skeppingswerk deur die SEUN, YESHUA die MESSIAS gedoen het. (Lees as voorbeelde hiervan Spreuke 30:4, Hebreërs 1:1-2 en Openbaring 4:11).

Ons leer Hom dus van die HEEL BEGIN af in Genesis 1:1 ken as EEN GOD in DRIE soos wat Hy Homself dan ook in die res van Sy Woord aan ons openbaar as GOD die VADER, die SEUN en die HEILIGE GEES.

Die Woord VERSEKER ons egter dat Hy NIE drie afsondelike GODE is nie, maar EEN GOD. Ons lees in Deuternomium 6:4 “Hoor ISRAEL, YHVH ons God is ‘n enige (een) YHVH (die Engelse weergawe sê: “He is ONE” en in Hebreeus is die woord “ECHAD” wat dui op EEN)” En Yeshua, die Seun van God die Vader bevestig dit meer as een keer gedurende Sy periode op aarde soos veral opgeteken in die Evangelie van Johannes. Hy sê in Johannes 10:30 “EK en die VADER is EEN.” Lees ook Johannes 17:11 & 22.

Hy sê verder in Johannes 8:19d “…As julle MY geken het, sou julle ook die VADER ken. En in Johannes 12:44-45 sê Hy: “Wie in MY GLO, glo nie in MY nie, maar in HOM (die VADER) wat MY gestuur het. En wie MY aanskou (sien), aanskou (sien) HOM.” Lees ook Johannes 14:7 en 9. Hy sê dan ook verder as ‘n mens Hom haat, haat jy ook die Vader (lees Johannes 15:23-24). Paulus verduidelik dit later so in Kolossense 1:15 en 2:9: Hy (Yeshua die Messias) is die BEELD van die ONSIENLIKE (onsigbare, geestelike) GOD (die Vader) want IN HOM WOON die VOLHEID van GOD (die Vader) LIGGAAMLIK.” Yeshua verduidelik in Johannes 4:24 dat God die Vader GEES is en dus in gees en WAARHEID aanbid moet word.

Daarom kan ons mos dan verstaan hoekom hulle EEN is. YESHUA die MESSIAS is die LIGGAAM van GOD die VADER waarmee Hy Homself aan mense openbaar. Dus kan ons aanvaar dat orals waar daar verskynings van God is nie Ou Testament aan mense was, hulle vir Yeshua, die Seun van God gesien het soos byvoorbeeld in die verskynings aan Abraham in Genesis 18 en aan Moses op die Berg Sinai. En dit is waarom Yeshua ons Messias in Sy VERHEERLIKTE LIGGAAM, na Sy opstanding soos opgeteken in Lukas 24:44 aan Sy dissipels verduidelik het dat Moses in Genesis tot Deuternomium oor HOM geskryf het en so ook die profete en die psalm skrywers wat on sweet hoofsaaklik David was. Die PROFETE het verstaan dat Hy EEN is, soos opgeteken byvoorbeeld in Jesaja 9:5 waar die MESSIAS onder andere beskryf word as die PRINS van VREDE en as die EWIGE VADER.

Hierdeur besef ‘n mens dan dat GOD ons VADER as te ware self het vir ons kom sterf het met SY LIGGAAM, YESHUA, die MESSIAS.

En GOD die VADER en YESHUA die SEUN, wat EEN is, het dan natuurlik ook EEN HEILIGE GEES (1 Korinthiërs 2:10-11).

Dit maak dus heeltemal sin hoekom GOD DRIE MAAL HEILIG is soos wat ons lees in Jesaja 6:3 en Openbaring 4:8. DIE VADER is HEILIG, DIE SEUN YESHUA DIE MESSIAS is HEILIG en DIE GEES is HEILIG, “SET-APART” in Engels, AFGESONDER, en daar is GEEN onheiligheid of dusiternis IN HOM NIE (lees 1 Johannes 1:5 en 1 Petrus 1:19). 

Ons sien ook duidelik die BEELD van YESHUA ons MESSIAS in die Ou Testament, net soos wat ons Hom leer ken in die Nuwe Testament naamlik:

Hy is ons ADVOKAAT/ MEDIATOR/ MIDDELAAR. Ons sien Hom in hierdie rol in Genesis 3:8-24 toe Hy die saak behartig tussen Adam, Eva en die slang en aan elkeen hulle regverdige straf uitdeel. Ons lees ook in 1 Timotheus 2:5 sê Paulus, Yeshua die Messias is ons MIDDELAAR tussen God die Vader en die mens en Johannes beskryf Hom in  1 Johannes 2:1 as die REGVERDIGE REGTER en ons VOORSPRAAK by die VADER. 

Yeshua ons Messias is ook ons HOË PRIESTER in die ORDE van MELGISEDEK (lees Genesis 14:18, Hebrews 4:15 & 9:24). En gelowiges in HOM word beskryf as ‘n  UITVERKORE PRIESTERDOM (lees Eksodus 19:6, 1 Petrus 2:9 en Openbaring 1:5-6). 

HY IS DUS DIE SKEPPER en daarom ook DIE LEWEdie BRON van LEWE van ALLES wat BESTAAN en HY GEE aan DIÈ wat KIES om in HOM te GLO en HOM te VOLG, DIE LEWE IN OORVLOED (in alles meer as genoeg) asook die EWIGE LEWE. 

Jesaja 42 handel oor die MESSIAS, beskryf as die dienskneg van Abba Vader, die UITVERKORE EEN op wie die GEES van ABBA VADER rus. Hy sal reg (geregtigheid, regverdigheid, billikheid) bring na die nasies, Hy sal nie ‘n geknakte riet breek (‘n mens wat seergekry het) of ‘n dowwe lamppit (‘n mens wie se gees gebroke is en net flouerig brand) uitblus nie. En ons lees in vers 5: “So sê God, YHVH, wat die hemele geskape het (uit niks gemaak het) en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan (die mense) wie daarop wandel (leef). 

En ons weet Yeshua ons Messias bevestig in Johannes 14:6, HY IS DIE LEWE, en in Johannes 10:10, Hy het gekom sodat ons lewe in OORVLOED kan hê.   En dit het te make met ‘n LEWE in die LIG, VRY van die DUISTERNIS. En in Openbaring 21:6 verseker Hy ons as ons DORS is (dors na God en SY WOORD) sal Hy aan ons WATER GEE uit die FONTEIN van die LEWE, VERNIET. Hy verduidelik dit in Johannes 6:35 “Ek is die BROOD van die LEWE; wie na MY toe KOM sal NOOIT HONGER kry nie; en wie IN MY GLO, sal nooit DORS kry nie.” Maar ons sien dan ook in die volgende vers, vers 7 daar word ook iets van ons verwag, ons moet OORWIN. Ons gesels later in ons studie meer op ‘n PRAKTIESE WYSE oor HOE ons OORWIN. 

En Yeshua sê in Sy gebed in Johannes 17:3 “En dit is die EWIGE LEWE, dat hulle (gelowiges) U (God die Vader) KEN, die EEN WAARAGTIGE (egte, ware, betroubare) GOD en MESSIAS YESHUA wat U gestuur het. ”

WAT DIT VIR ONS BETEKEN

Ons is geskep in SY BEELD en GELYKENIS (voorbeeld), en dus bestaan ons, net soos HY, ook uit DRIE DUIDELIKE ONDERKEIBARE DELE, naamlik ‘n SIGBARE LIGGAAM, en ‘n ONSIGBARE SIEL en GEES!

Ons lees in Genesis 2:7 YHVH ons God het die mens se LIGGAAM uit die stof (grondstof) van die aarde gemaak en in die neus van die mens die ASEM van die LEWE GEBLAAS en die mens het ‘n LEWENDE SIEL geword. Ons sien dat Yeshua ons Messias dit ook doen na Sy opstanding, soos opgeteken in Johannes 20:22, Hy BLAAS op Sy dissiples en sê aan hulle: “Ontvang die Heilige Gees.” En Hy vertel ons later in Mattheus 10:28 dat die LIGGAAM kan doodgaan, maar NIE die SIEL nie. Die siel wag vir die laaste oordeel soos opgeteken in Openbaring 20:11-15 om die eindbestemming van elke mens se SIEL te bepaal volgens sy of haar dade tydens hulle aardse leeftyd.

Paulus verduidelik vir ons in 1 Thessalonisense 5:23 dat elke mens bestaan uit ‘n GEES, SIEL (wat insluit die hart/emosies, verstand/denke en vrye wil) en LIGGAAM wat volkome HEILIG gemaak moet word deur die GOD van VREDE en onberispelik bewaar moet word tot SY KOMS.

Paulus verduidelik ook later in Romeine 8:29-30 dat God die Vader ons ROEP om GELYKVORMIG te word aan die BEELD van YESHUA ons MESSIAS wat as die EERSGEBORENE beskou word van ons as GELOWIGES – m.a.w ons moet soos HY WORD in ons SIEL (die wyse waarop ons dink en voel en dus besluite neem met ons vrye wil en ons woorde en dade sal bepaal). Ons moet dus die VERSTAND en HART ontwikkel van ons Messias soos Paulus ook aanmoedig in Romeine 12:2, 1 Korinthiërs 2:16, Filippense 2:5. Ons lees ook reeds daarvan in Jesaja 26:3 NLV waar hy sê: “U bewaar elkeen wat op U vertou in VREDE, die mens wie se GEDAGTES op U gerig is.”

En ons weet ook vanuit Sy WOORD dat GOD se HEILIGE GEES in ons kan woon! Yeshua ons Messias vra in Sy gebed in Johannes 17:17HEILIG hulle in U WAARHEID.” En ons weet die WOORD is die WAARHEID, dus is dit hoe ons HEILIG word en die VERSTAND van ons MESSIAS onwikkelons moet ons VERSTAND daagliks met SY WOORD VUL, dan sal dit die WYSE word waarop ons DINK, VOEL, PRAAT en OPTREE. En in Johannes 17:21 vra Hy dat SY VOLGELINGE met HOM en die VADER EEN mag wees soos wat HY in die VADER is en die VADER in HOM is. Ons weet Paulus verduidelik dit later dat ons die TEMPEL van God is waarin SY HEILIGE GEES woon soos ons lees in 1 Kornthiers 6:19-20.

GOD is as die SKEPPER van ons almal, ook ons almal se VADER, maar om Hom te kan “sien” of te beleef, moet ons WEER GEBORE word volgens Johannes 3:3. Dan noem ons Hom ABBA Vader, ‘n Aramese woord wat “Pappa” beteken, ‘n woord wat Yeshua ons Messias gebruik het om die Vader aan te spreek in Sy diepste nood in die Tuin van Getsemane kort voor Sy kruisiging soos opgeteken in Markus 14:36 en wat Paulus later verduidelik deel word van ‘n benaming vir die VADER wat gebruik word deur die kinders van die Vader wat deur Sy GEES gelei word en uitroep na Hom as: “Abba Vader.” (Lees Romeine 8:14-17).

Ons gaan nog mooi hieroor gesels en hoe dit plaasvind soos ons prakties deur ons studie beweeg. Vir eers is dit net belangrik om dit in beginsel te verstaan. 

‘n PA het ‘n baie groot invloed op sy gesin. En kinders smag daarna om deur hulle pa’s liefgehê en aanvaar te word en die gebrek aan so ‘n verhouding los DIEP LETSELS op ‘n kind se hart. En die FEIT dat ons ALMAL ‘n HEMELSE VADER het wat ons ONEINDIG LEIFHET, ongeag daarvan of ons aardse pa nie in staat was om God, homself of sy eie gesin en ander mense lief te hê nie, waarskynlik deur liefdeloosheid of afwesigheid van ‘n pa in die generasies voor hom, maak dan nie meer so erg saak nie en kan ons ons ouers VERGEWE en die LIEFDE en AANVAARDING van GOD as ons VADER vir ons aanvaar en van ons WONDE genees word. Ons hoef dan nie meer te poog om ons aardse pa tevrede te stel om so sy liefde te probeer “wen” of “verdien” nie, maar ons kan RUS in die LIEFDE van ons HEMELSE VADER en YESHUA ons MESSIAS volg met die HEILIGE GEES in ons en werklik begin LEEF terwyl ons dan beter instaat sal wees om ons ouers te VERGEWE vir hulle foute en onvermoë om ons lief te hê, net soos ons liefde as ouers vir ons eie kinders tekort skiet gemeet aan ons HEMELSE VADER se LIEFDE vir ons. 

  • HY IS WIE HY IS, die BEGIN (die Alef in Hebreeus en die Alfa in Grieks) en die EINDE (die Tav in Hebreeus en die Omega in Grieks). 

Ons lees in Eksodus 3 verskyn God aan Moses in die brandende bos en sê Hy aan hom die WOORDE soos ons lees in vers 14 “EK IS WAT EK IS.” En Moses moes aan die mense van ISRAEL sê “EK IS (I AM in Engels en “Ehyeh” in Hebreeus)” het hom na hulle gestuur. En dan sê Hy verder aan Moses in vers 15: “Dit moet jy aan die kinders van ISRAEL meedeel: die HERE (Yud-Heh-Vav-Heh in Hebreeus, vervang met ADONAI omdat hulle bang was om Sy Naam uit te spreek en dalk per ongeluk te misbruik en so die derde gebod te oortree), die GOD van julle vaders, die GOD van ABRAHAM, die GOD van ISAK en die GOD van JAKOB, het My na julle gestuur. “ En dan sien ons BEVESTIG HY: “Dit is MY NAAM (YHVH) vir EWIG, en dit is MY GEDENKNAAM van gelsag tot geslag.” 

Ons sien deurlopend in die WOORD dat Hy Homself bekend stel as die GOD van ABRHAM, ISAK en JAKOB wie se naam Hy later na ISRAEL verander het en Homself dikwels net idnetifiseer as DIE GOD VAN ISRAEL (Lees Deuternomium 6:4, Jesaja 48:17, Amos 4:12 en Galasiërs 6:16). 

In Jesaja 44:6 lees ons sê YHVH, die KONING van ISRAEL en SY LOSSER (Hy wat hulle loskoop), YHVH van die LEËRSKARE (die HEMEL WEERMAG): “Ek is die EERSTE (die Alef in Hebreeus), en EK is die LAASTE (die Tav in Hebreeus), en buiten My is daar GEEN God nie. En dit word bevestig in Openbaring 1:8, 21:6 & 22:13. En daarom ken Hy ook die EINDE van ALLE dinge reeds van die BEGIN af soos ons lees in Jesaja 46:10.

HY IS DIE LEWENDE EN EWIGE GOD WAT BESTAAN VAN ALTYD AF EN ALTYD SAL BESTAAN (Lees Deuternomium 33:27, Psalm 90:2, Mattheus 16:16 en Handelinge 14:15).

Hy is ALOMTEENWOORDIG en Hy WEET ALLES van ons af, insluitend wat ons DINK. Ons lees in Psalm 139,  NLV skryf David, Hy DEURSOEK en KEN ons, Hy weet of ons sit of opstaan, HY KEN ons GEDAGTES, HY WEET elke oomblik waar ons is, selfs voordat ons PRAAT, WEET HY wat ons gaan sê. HY BESKERM ons van voor en van agter en HY SEËN ons. Daar is GEEN plek waar SY GEES nie teenwoordig is en wat ons van Hom af weg kan vlug nie, HY is in die HEMEL en in die DODERYK, HY is in die OOSTE en die VERRE WESTE selfs daar sal Sy hand ons lei en SY REGTERHAND ons ondersteun en Hy is in die DUISTERNIS en die LIG want HY maak alles LIG. Selfs in die moederskoot as ongebore babas SIEN en VORM HY ons nog voordat ons gebore is en ons HELE LEWE is opgeteken in SY BOEK en ELKE DAG wat ons sal LEWE is daarin bepaal (met ander woorde die lengte van ons lewens).

En in Hebreërs 4:13 lees ons “Daar is geen skepsel (niks wat Hy gemaak het) onsigbaar voor Hom nie, maar ALLES is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het. En ons lees ook dikwels in die Nuwe Testament dat Yeshua geweet het wat mense dink en hulle daarvolgens geantwoord het (lees Mattheus 9:4, Lukas 5:22-23 en Johannes 2:24). Lees ook Openbaring 4:6 waar die LAM (‘n verwysing na Yeshua ons Messias) wat geslag is, beskryf word met SEWE OË, wat die SEWE GEESTE van GOD die Vader is wat uitgestuur is op die aarde.

  • HY IS DIE LIG EN DAAR IS GEEN DUISTENRIS IN HOM NIE

God verklaar dat daar LIG moet wees op DAG EEN van die SKEPPING maar Hy skep eers die aardse LIGBRONNE, die son, maan en sterre op DAG VIER. Dus is HY self die LIG (lees Genesis 1:1-3 en 14-19). Dit word oor en oor bevesig in die WOORD dat HY DIE LIG IS en ons sien in Openbaring op die NUWE AARDE in die NUWE JERUSALEM sal die HEERLIKHEID van God die VADER die LIG in JERUSALEM wees en die LAM, Yeshua die Seun sal die stad se LAMP wees. Daar sal geen maan, son of sterre meer wees nie en dit sal nooit NAG/ DONKER word nie (lees Johannes 1:1-3, Jakobus 1:17, 1 Johannes 1:5 en Openbaring 21:23 & 22:1-5). 

Jesaja 9:2 het geprofeteer or die LIG wat sou kom om op die mense te skyn wat in DIEP DUSITERNIS leef. En in Jesaja 42:6 lees ons Yeshua sal gegee word as VERBOND van die volk as ‘n LIG van die nasies om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker te lei, uit die gevangenes dié wat in die DUISTENRIS sit.“ Ons sien ook hierdie profesie in Jesaja 61:1-3 en weet Yeshua het bevestig dat Hy gekom het om dit te doen in Lukas 4:18. Ons lees dan ook met Sy benydenis op die agtste dag na Sy geboorte in Lukas 2:32 word daar deur Simeon geprofeteer dat Yeshua: “’n LIG sal wees tot VELIGTING van die nasies en tot heerlikheid van die volk ISRAEL.”

Johannes 1:9 beskryf Yeshua as die WARE LIG wat in die wêreld ingekom het. En ja dan weet ons natuurlik ook daar is ‘n vals lig, die bose een, Satan en sy medewerkers wat hulle as die lig probeer voordoen om so mense te mislei (lees 2 Korinthiërs 11:14). 

En in Johannes 8:12 bevestig Yeshua dat Hy die LIG van die wêreld is wat mense help om uit die dusitenris uit te kom (lees ook Johannes 9:5 en 12:46). Ons sien iets van hierdie SIGBARE LIG wanneer Hy kort voor Sy kruisiging op die berg verheerik word en SY GESIG soos die son geskyn het en SY KLERE spierwit soos LIG geword het (lees Mattheus 17:2). 

Wanneer ons in Hom GLO sal ons NIE in die DUISTERNIS bly nie (lees Johannes 12:46) En ons word geroep om in Sy LIG te leef (lees Efesiers 5:8 en 1 Johannes 1:6-7). Hierdie LIG van Hom skyn in Sy volgelinge se HARTE in deur die KENNIS van Hom wat ons deur die WOORD opdoen volgens 2 Korinthiërs 4:6, want Sy WOORD is ‘n LIG en ‘n LAMP volgens Psalm 119:105. En wanneer Sy volgelinge in die LIG LEEF, word hulle SY KINDERS VAN DIE LIG en word ook vir ander ‘n LIG wat herkenbaar is as SY LIG (lees Mattheus 5:14-16 en 1 Thessalonisense 5:5).

In 2 Korinthiërs 4:4 vertel Paulus dat die GOEIE NUUS van God die Vader se redding deur Yeshua die Messias soos ‘n LIG op mense skyn, maar die vyand het die vermoë om mense se oë daarvoor te verblind sodat hulle dit nie kan sien nie en dan ongelowig bly. En ons sien dan juis dat Yeshua die Messias wat aan Paulus verskyn op die pad na Damaskus, om Paulus, toe nog genoem Saulus, se blinde oë oop te maak, aan hom die opdra gee vir die VERKONDIGING van die GOEIE NUUS aan mense om “hulle oë te open, dat hulle van die DUSITERNIS tot DIE LIG kan BEKEER en van die mag van die Satan to God (die Vader) sodat hulle deur die GELOOF in My (Yhsua die Messias) VERGIFNIS van sondes enn erfdeel onder die heiliges kan ontvang (m.a.w die ewige lewe kan ontvang).  Lees Handelinge 26:15-18. 

  • HY IS ‘n VERTERENDE VUUR

Ons lees in Eksodus 3:2 verksyn God aan Moses in ‘n doringbos wat brand soos vuur maar nie die doringbos uitbrand nie. En in die woestyn trek God snags voor die volk uit in ‘n kolom van VUUR (Eksodus 13:21). En in Eksodus 19:18 verskyn Hy op die Berg Sinai in VUUR toe Hy die Tien Gebooie aan die volk kommunikeer. En ons lees in Deuternomium 4:24 YHVH jou God is ‘n VERTERENDE VUUR. En dit word bevestig in Hebreërs 12:29. En in Daniël hoofstuk 3  loop Hy in die VUUR saam met Daniël se drie vriende Sadrag, Mesag en Abednego en hulle is ten volle beskerm teen die vlamme. In Maleagi 3:2 word beskryf dat Hy met Sy wederkoms sal kom soos VUUR (Lees ook Mattheus 3:12 en Hebreërs 10:27). En ons weet Yeshua word met Sy wederkoms beskryf met OË soos ‘n VUURVLAM in Openbaring 19:12. Lees ook Openbaring 1:14.

Die WOORD word in Jeremia 23:29 as ‘n VUUR beskryf. En daarom maak dit ook sin dat daar VUUR uit die TWEE GETUIES se monde kom in Openbaring 11:5 Dit is dus DIE WOORD wat hulle verkondig en gebruik as verdediging teen hulle vyande.

Die ENGELE word ook beskryf as BOODSKAPPERS van VUUR met swaarde van VUUR (Lees Genesis 3:24, Psalm 104:4 en Hebreërs 1:7).

En dan weet ons ook YESHUA ons MESSIAS, DOOP GELOWIGES met VUUR en die HEILIGE GEES wat ook geasosieer word met VUUR! En dan verkondig mense SY WOORD van VUUR, VREESLOOS en met SY KRAG! (lees Lukas 12:49 en Handelinge 2:3 & 4:28-31).

Ons lees ook ons GELOOF word gelouter (suiwer, reinig) met VUUR en ons WERK vir die KONINGKRYK gaan GETOETS word met VUUR (lees 1 Korinthiërs 3:13-15 en 1 Petrus 1:7).

GOD, wat ‘n VERTERENDE VUUR is word dus beskryf as BEIDE VREESAANJAEND as jy Sy vyand is en GOED as jy Sy kind is en Yeshua ons Messias, dus God self, adviseer ons om Hom te vrees (lees Genesis 35:5, Mattheus 10:28, Filippense 2:12-13 en Hebreërs 10:27).

He-Brews-Coffee-Roastery-Logo

Stay In Touch