Skip to content

MY REIS VANUIT DIE DUISTERNIS (DIE DOOD) NA SY WONDERLIKE LIG (DIE LEWE), Deel 15: YHVH die GOD van die SMAL WEG

5 Augustus 2026

Ons gesels vandag verder oor, MY REIS VANUIT DIE DUISTERNIS (die donker, afwesigheid van geestelike lig, onkunde, ongeloof, nood en elende, die dood) NA DIE WONDERLIKE LIG (openbaring van die waarheid, wysheid, geloof, geestelike vol lewe)  VAN ABBA VADER. En ons leer verder HOE ons, DIE SMAL WEG deur YESHUA ons MESSIAS vind wat lei vanuit die DUISTERNIS van EGIPTE/ ‘n prentjie van die WÊRELD, na ABBA VADER en ons help om die REDE en DOEL waarvoor HY ons gemaak het te vind, te verstaan, te groei daarin tot ons volle potensiaal en ons DOEL en ROEPING suksesvol uit te voer.

Ons gesels nog oor WIE ons SKEPPER GOD van LIG en LEWE is wat saam met ons beweeg op die SMAL WEG na DIE EWIGHEID.

Ons het nou reeds vanuit ons studie in SY WOORD bevestig:

HY IS DIE SKEPPER VAN HEMEL, AARDE en ALLES DAARIN (Opsomming van Deel 2)

  • ELOHIM God in die meervoud. EEN GOD in DRIE soos wat Hy Homself dan ook in die res van Sy Woord aan ons openbaar as GOD die VADER, die SEUN en die HEILIGE GEES.
  • Hy is dus DRIE MAAL HEILIG. DIE VADER is HEILIG, DIE SEUN YESHUA DIE MESSIAS is HEILIG en DIE GEES is HEILIG, AFGESONDER en daar is GEEN onheiligheid of duisternis IN HOM NIE.
  • YESHUA die MESSIAS, as die LIGGAAM van GOD die VADER is ons ADVOKAAT/ MEDIATOR/ MIDDELAAR, ons VOORSPRAAK by die VADER asook die REGVERDIGE REGTER.
  • Yeshua ons Messias is ook ons HOË PRIESTER in die ORDE van MELGISEDEK.
  • HY IS DUS DIE SKEPPER en daarom ook DIE LEWE – die BRON van LEWE van ALLES wat BESTAAN en ook ons ALMAL se VADER en HY GEE aan DIÈ wat KIES om in HOM te GLO en HOM te VOLG, DIE LEWE IN OORVLOED (in alles meer as genoeg) asook die EWIGE LEWE. 

HY IS WIE HY IS, die BEGIN van ALLES en die EINDE van ALLE DINGE

  • Die GOD van ABRAHAM, die GOD van ISAK en die GOD van JAKOB/ ISRAEL.
  • SY NAAM, YHVH is vir EWIG, en dit is SY GEDENKNAAM van gelsag tot geslag.
  • HY is YHVH, die KONING van ISRAEL en SY VERLOSSER.
  • Hy is YHVH van die LEËRSKARE (die HEMEL WEERMAG).
  • Daar is buiten Hom GEEN ander God nie.
  • HY IS DIE LEWENDE EN EWIGE GOD WAT BESTAAN VAN ALTYD AF EN ALTYD SAL BESTAAN.
  • Hy is ALOMTEENWOORDIG en Hy WEET ALLES.

HY IS DIE ENIGSTE WARE LIG EN DAAR IS GEEN DUISTERNIS IN HOM NIE

  • HY is die WARE LIG wat reeds vanaf DAG EEN van die SKEPPING af SKYN terwyl die AARDSE LIGBRONNE, die son, maan en sterre eers op DAG VIER geskep is.
  • SY LIG skyn op mense wat in DIEP DUISTERNIS leef en so open Hy hulle blinde oë en lei hulle uit die gevangenis.
  • SY LIG SKYN in ons deur SY WOORD want SY WOORD is ‘n LIG en ‘n LAMP wat ons lei uit die duisternis uit en ons help om in die LIG te LEEF.
  • Die GOEIE NUUS van God die Vader se REDDING deur Yeshua die Messias skyn soos ‘n LIG op mense.

 HY is ‘n VERTERENDE VUUR, daarom is:

  • SY WOORD VUUR.
  • SY ENGELE is BOODSKAPPERS van VUUR met swaarde van VUUR.
  • HY DOOP GELOWIGES met die VUUR van SY HEILIGE GEES.
  • HY SUIWER ons GELOOF met VUUR en HY TOETS ons WERK vir die KOINGKRYK met VUUR.

HY IS DIE WOORD (Opsomming van Deel 3)

  • HY SKEP DEUR TE SPREEK.
  • SY WOORD IS DIE WAARHEID en dus IS HY DIE WAARHEID.
  • SY WOORD SAL VIR EWIG BESTAAN.
  • HY HOU ALLES IN STAND DEUR SY WOORD.
  • SY WOORD IS DIE GOEIE NUUS VIR ALLE MENSE.

HY is SOEWEREIN (Opsomming van Deel 4)

  • Hy is OPPERMAGTIG, die HOOGTSTE GESAG in die hemel en op aarde.
  • En NIKS kan gebeur sonder dat Hy dit wil of toelaat nie.
  • En alles wat HY DOEN het ‘n DOEL en REDE vir dié wat HOM LIEFHET en SY ROEPING vir hulle lewens aanvaar. Vir dié wat HOM dus GEHOORSAAM en VOLG, sal Hy ALLES (ook dit wat met hulle gebeur wat sleg is) ten GOEDE laat meewerk.

 HY is die ALMAGTIGE GOD (Opsomming van Deel 5)

  • Hy is dus die perfekte SKUILPLEK en TOEVLUG waarop ons kan VETROU.
  • Hy is DIE EWIGE ROTS, ‘n VASTE FONDASIE, die REDDER, ons VERLOSSER en ons BESKERMER.
  • Sy NAAM is YHVH, ‘n STERK TORING waarin ons kan hardloop en BESKUT word teen alle gevare.
  • Aan die wat na SY STEM LUISTER en HOM VOLG (Hom gehoorsaam), gee HY DIE EWIGE LEWE en niemand kan ons uit SY HAND ruk nie.
  • Hy VERSTERK ons en BEWAAR ons van die bose.
  • Hy is GROOT en KRAGTIG en SY VERSTAND (denkvermoë, insig, intellek) is ONEINDIG.
  • Hy is die EWIGE GOD, YHVH, die SKEPPER van ALLES en Hy word nooit moeg of mat (vermoeid, kragteloos, afgemat/ uitgeput na gees of liggaam) nie.
  • SY ALMAG en VERSTAND kan nie ten volle verstaan word nie.
  • YESHUA ons MESSIAS is hierdie ALMATIGE GOD wat met SY WEDERKOMS deur elke oog gesien sal word.
  • Hierdie ALMAGTIGE GOD is REGVERDIG en SY WEË IS WAARAGTIG (betroubaar).

HY IS DIE BRON VAN ALLE VERSTAND EN WYSHEID EN HY GEE WYSHEID, INSIG/ BEGRIP AAN DIE MENS

  • Sy SKEPPING GETUIG van WYSHEID wat te hoog en te groot vir enige mens is om te verstaan.
  • ALLES werk volmaak saam.
  • Hy het alles MOOI GEMAAK op SY TYD.
  • Die mense kan nie die werke van God volkome (heeltemal, geheel en al) ondersoek of verstaan nie want dit is te groot vir ons menslike verstand en wysheid.
  • Hy GEE egter WYSHEID aan die mens wat Hom daarvoor vra.
  • God se WYSHEID is ten EERSTE REIN (suiwer, onbevlek, onbesmet), dan VREDELIEWEND, VRIENDELIK, GESEGLIK (inskiklik), VOL BARMHARTIGHEID (sag, met meegevoel teenoor ander) en GOEIE VRUGTE, ONPARYDIG (nie bevooroordeeld nie, regverdig teenoor alle partye) en ONGEVEINS (opreg).
  • YESHUA die MESSIAS, die SEUN van GOD, kan ons VERSTAND OPEN sodat ons die WAARAGTIGE (die EGTE, WARE, BETROUBARE) GOD die VADER en YESHUA die SEUN kan ken, DIE WAARAGTIGE GOD, en die EWIGE LEWE.

 HY REGEER oor SY SKEPPING

  • HY IS DIE SKEPPER, EIENAAR en KONING van ALLES en HEERS dus vir EWIG as die EWIGE KONING.
  • HY stel ALLE vorms van OUTORITEIT (wettige mag en gesag) in die hemel en op aarde aan.
  • Die konings van die aarde staan onder SY GESAG, selfs al is hulle ongelowig, sal hulle SY MEESTERPLAN uitvoer sodat SY WOORD WAT GESPREEK IS WAAR SAL WORD.
  • Van elke aardse koning, ingesluit elke man, aangestel as koning en heerser oor sy gesin word verwag om GEHOORSAAM te wees aan GOD se WOORD en WET, SY WIL, om REG en GEREGTIGHEID te laat geskied binne sy gesin en om op te tree met God se soort wysheid en inegriteit wat Hy ons in Sy WOORD leer.
  • Hy ROEP elke mens as deel van die LIGAAM van YESHUA ons MESSIAS en stel ons aan in ons spesifieke ROEPINGS waarvoor Hy ons elkeen geskep het en stel ons instaat om ons ROEPINGS (die doel en rede vir ons lewens) uit te voer.
  • Wanneer strukture van gesag hulle ONDERWERP aan SY GESAG, IN LYN MET SY WOORD, is daar VREDE in ‘n land, gesinne, werksplekke en gemeentes.

 HY IS ‘n GOD van ORDE (Opsomming van Deel 6)

  • Hy skep ORDE, LIG en OORVLOEDIGE LEWE op die aarde.
  • Sy WET (Sy Woord in Genesis tot Deuternomium, opgesom in die TIEN GEBOOIE) en VERORDINGE (voorskrifte insluitend Sy Feeste en wetlike bepalings) skep ORDE en verseker VREDE in die VERHOUDING tussen Hom en die mens asook tussen mense onderling.
  • Hy skep ook ORDE deur die daarstelling van MAGSTRUKTURE met MESSIAS YESHUA as die HOOF van ELKE MAN, en die MAN as die HOOF van die VROU, en GOD die VADER as die HOOF van YESHUA die MESSIAS.
  • ELKE MENS word GEROEP om hom of haar te ONDERWERP aan die MAGTE (gesagsfigure en gesagstrukture) wat oor hom of haar AANGESTEL is (of dit nou jou man, ouers, regeerders, leiers of bestuurder is), want daar is geen MAG (geen gesag of outoriteit/ wettige mag) behalwe van GOD nie, en die wat daar is, is deur GOD INGESTEL en die DOEL daarvan is om ORDE en VREDE te bewerkstellig.

HY IS REGVERDIG

  • Hy hou ELKE mens VERANTWOORDELIK vir sy of haar eie KEUSES en elkeen moet dus die GEVOLGE van hulle eie KEUSES dra want wat jy SAAI sal jy OES.
  • Hy seën die nageslag van REGVERDIGE MENSE (mense wat in Hom GLO en in gehoorsaamheid aan SY WOORD en WIL leef) tot in die duisendste geslag.
  • Hy laat GEEN sonde ongestraf bly nie en daarom sal die ONREGVERDIGE MENS se dade sy nageslag negatief beïnvloed tot in die derde of vierde generasie. Maar as iemand in hierdie generasie opstaan uit die slegte invloed van sy of haar voorouers en REGVERDIG leef (veral ‘n manlike persoon omdat Abba Vader aan die man die gesag gee as beskermer van sy gesin) sal Abba sy nageslag seën tot in die duisendste geslag.
  • ELKE mens wat tot insig kom, oor sy of haar sondes en begryp wat die hartseer gevolge daarvan is vir hom/ haarself en hulle BEKEER van AL hulle sondes – dit ERKEN en BELY, VERGIFNIS daarvoor ONTVANG en WEG DRAAI daarvan, en AL GOD se INSETTINGE (instellings, gebooie) ONDERHOU en REG en GEREGTIGHEID DOEN (DOEN wat REG is volgens God se WOORD en SY WIL), sal sekerlik ‘n VOL LEWE op aarde leef en die EWIGE LEWE ingaan.
  • God die Vader het GEEN behae daarin dat enige mens op aarde moet ly as gevolg van hulle sondes of die ewige dood moet sterf nie, Hy is die mens se VERLOSSER en wil hê dat ALLE MENSE GERED word en tot KENNIS van die WAARHEID kom en EWIG LEWE.
  • Wanneer ons die SMAL WEG KIES deur ons VERLOSSER YESHUA ons MESSIAS, ontvang ons ‘n NUWE HART en ‘n NUWE mens gees want ons word NUWE MENSE IN HOM en dan gee Hy aan ons SY HEILIGE GEES wat ons leer en lei op die smal weg van GEHOORSAAMHEID aan ABBA VADER. Ons stap dus van daaraf nooit meer alleen nie, ons RAADGEWER en BEMOEDIGER stap ellke dag en in alle omstandighede saam met ons.

HY OORDEEL REGVERDIG (Opsomming van Deel 7-9)

  • Hy is die REGVERDIGE REGTER van die ganse aarde.
  • Hy is ‘n BARMHARTIGE REGTER wat nie mense straf waneer ons ons bekeer (‘n verandering/ vernuwing van hart en gedagte ondergaan) en weg draai van ons verkeerde weg nie. Dit is die GOEIE NUUS!
  • Hy het tydens SY EERSTE KOMS die mens kom RED en hierdie GOEIE NUUS van REDDING deur ons VERLOSSER YESHUA die MESSIAS is beskikbaar vir alle mense om hulle KEUSE te maak tussen LEWE en seën en DOOD en vloek.
  • DIE REGVERDIGE REGTER (Yeshua die Messias, aangestel deur YHVH die Vader), sal tydens SY TWEEDE KOMS kom om die aarde te OORDEEL. Dit behels DIE EERSTE OPSTANDING VAN GELOWIGES en die BEOORDELING en BELONING van hulle getrouheid en werk vir die KONINGKRYK volgens die GAWES en ROEPING wat aan elkeen gegee is en die VERSLAAN van die AARDSE VYANDE wat teen Hom opstaan onder leiding van die antimessias/ antichris en die vals profeet, wat ook die eerste mense is wat in die POEL van VUUR (algemeen bekend as die Hel) gewerp sal word.
  • Daarna begin die DUISEND JARIGE VREDESRYK/ KONINGKRYK VAN YESHUA DIE MESSIAS en die gelowiges wat deel vorm van die EERSTE OPSTANDING sal saam met Hom heers. Dit eindig met die finale verslaan van die Satan wat ook in die Poel van Vuur gewerp word waar die antimessias/ antichrist en die vals profeet ook reeds is.
  • Dit word gevolg met die LAASTE GROOT WIT TROON OORDEEL waartydens ALLE mense wat nog ooit geleef het beoordeel sal word volgens hulle dade. Die wie se name in die BOEK van die LEWE van die LAM geskryf staan sal die EWIGHEID ingaan saam met YHVH die Vader en die Lam (Yeshua die Messias) en die wie se name nie in die BOEK VAN DIE LEWE van die Lam opgeskryf staan nie, sal dan die TWEEDE DOOD sterf in die Poel van Vuur. Die DOOD en DODERYK sal dan as LAASTE VYANDE van God ook in die POEL van VUUR gewerp word.

HY BEPAAL DIE PERFEKTE TYD VIR ALLES (Opsomming van Deel 10)

  • ALLES het sy bepaalde uur, en vir ELKE SAAK onder die hemel is daar ‘n tyd.
  • En daarom moet ons wag op Hom, en sterk wees en wag op Sy PERFEKTE TYDSBEREKENING wat altyd die REGTE TYD is.
  • En Hy laat alles op die REGTE TYD ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet en geroep is volgens Sy doel vir hulle lewens.

 HY is die GOD van LIEFDE, die BRON van ROTSVASTE LIEFDE

  • HY IS YHVH, ‘n God wat BARMHARTIG en GENADIG is.
  • Hy het GEDULD met mense en HY IS LOJAAL.
  • HY BLY GETROU.
  • HY BLY VOL LIEFDE oor al die geslagte heen van die wat Hom liefhet deur Hom te GEHOORSAAM.
  • HY VERGEEF alles wat hulle verkeerd gedoen het, maar Hy laat sonde egter nie sommer net verby gaan nie dus laat Hy nie sonde ongestraf bly nie want HY IS ‘n REGVERDIGE GOD.
  • HY DISSIPLINEER en STRAF die wat Hy liefhet want Hy weet sonde VERNIETIG mense.
  • Hy los ons dus nie om ‘n slaaf van sonde te bly nie, Hy VERLOS ons van die greep wat sonde op ons het.

 HY SEËN MENSE EN DIERE (Opsomming van Deel 11)

  • Om VRUGBAAR te wees, te VERMEERDER en die aarde te VUL.
  • Hy gee aan mense HEERSKAPPY oor die diere en die aarde.
  • Hy SEËN SY KINDERS (almal wat Hom liefhet en Hom dus gehoorsaam en dien) deur SY NAAM op hulle te plaas, (amper soos ‘n vrou die van, van haar man aanneem wanneer hulle trou, of ‘n kind wat aangeneem word sy aanneem ouers se van ontvang as bewys dat hy of sy nou deel is van hulle gesin en familie). Hierdie SEËN gee aan SY KINDERS deel aan Sy BESKERMING en SORG, SY TEENWOORDIGHEID en GENADE asook SY VREDE.
  • Hy gee die volgende seëninge wanneer ons GOED LUISTER na SY STEM en SY GEBOOIE sorgvuldig (noukeurig, presies, nougeset) hou: seën in die stad en in die veld, kinders, vee, vrugte, koring, drywesap en olie (alles wat ons nodig het), genoeg kos, veiligheid en oorwinning oor ons vyande, voorspoed en sukses in ons beroepe en lewens.

 HY VOORSIEN AAN DIE BEHOEFTES VAN MENSE EN DIERE (Opsomming van Deel 12-13)

  • Hy VOORSIEN kos en water vanuit die aarde vir mense en diere.
  • Hy VERSADIG die dors en honger siele van mense met goeie dinge.
  • Hy is ons HERDER en ons kom niks kort nie.
  • Hy voorsien aan ons werk, beskerming en veiligheid.
  • Hy voorsien aan ons geestelike behoeftes, Hy red ons, verlos ons van ons vyande, help ons en VERBIND gebroke harte.
  • Hy BEANTWOORD ons GEBEDE wat in lyn is met Sy wil en voorspoed vir die toekoms vir ons inhou.
  • Hy is nie ‘n aansiener van persoon nie, dit beteken Hy hou nie meer van een mens as wat Hy van ‘n ander hou nie en Hy trek niemand voor nie. Hy seën mense volgens hulle GELOOF in Yeshua ons Messias ons REDDER deur die prys wat Hy deur Sy bloed vir ons betaal het om ons los te koop van die mag wat sonde oor ons gehad het en ons GETROUHEID aan HOM deur die onderhouding van SY WOORD. En dus is dit vir ELKE MENS moontlik om in hierdie VERHOUDING met Hom te staan en SY OORVLOEDIGE VOORSIENING te geniet AS ons KIES om in Hom te GLO en GETROU te LEEF aan HOM.
  • Ons moet dus DANKBAAR wees vir wat YHVH aan ons elkeen VOORSIEN en nie dit wat Hy aan ander gee BEGEER NIE, want Hy gee aan elkeen van ons dit wat vir ons reg en goed is en ons instaat stel om ons ROEPING en DOEL uit te voer. Ons moet dus GEHOORSAAM wees aan SY TIENDE GEBOD wat ons waarsku om NIE TE BEGEER wat ander het nie en WAAK daarteen om ons met ander te VERGELYK en ONTEVREDE te wees met wat Hy aan ons VOORSIEN.

 HY IS DIE GOD WAT BY SY MENSE WOON (Opsomming van Deel 14)

  • Hy maak mense aan die begin na Sy beeld en gelykenis, man en vrou het Hy hulle gemaak en geplaas in die Tuin van Eden en Hy is deurlopend teenwoordig by hulle en in direkte interaksie met hulle.
  • En selfs na Adam en Eva se ongehoorsaamheid aan Hom voorsien Hy aan hulle ‘n tydelike oplossing om weer in Sy teenwoordigheid te kom en ‘n belofte van ‘n meer permanente opsie deur ‘n REDDER wat sou kom om die kop van die slang (die groot draak, ook genoem die duiwel en die Satan) te vermorsel.
  • En ons sien Sy deurlopende interaksie met mense in die Ou Testament deur die bou van ‘n TABERNAKEL en later ‘n TEMPEL wat Hom, ‘n HEILIGE GOD kon skei van die mens met ‘n SWAAR GORDYN sodat Sy HEILIGHEID wat brand soos ‘n HEILIGE VUUR, nie die mens in sy sondige toestand sou vernietig nie.
  • En dit het voortgeduur totdat Hy in die PERSOON van Yeshua die Seun van YHVH verskyn as die Redder van die mens, om die mens LOS te KOOP met SY KOSBARE BLOED van die slawerny aan die sonde en dus uit die mag van die slang (die groot draak, ook genoem die duiwel en die Satan) VRY te maak. En so is die SWAAR GORDYN wat die mens van Hom moes skei middeldeur geskeur en die mens wat hierdie VOLKOME PRYS vir sy of haar sonde aanvaar, nou weer die voorreg het om in YHVH, die ALMAGTIGE GOD (ELOHIM, die DRIE-ENIGE GOD) se TEENWOORDIGHEID te verskyn en DIREK met HOM, ons SKEPPER en HEMELSE VADER te KOMMUNIKEER in die NAAM van YESHUA ons MESSIAS (ons VERLOSSER en REDDER) deur SY HEILIGE GEES wat binne in ons WOON as SY LEWENDE TEMPELS.
  • Wanneer ons die EERSTE DOOD sterf, wat die einde beteken van die AARDSE LIGGAAM, gaan ons SIEL en GEES na HOM in die PARADYS in afwagting van die EERSTE OPSTANDING wat sal plaasvind tydens die TWEEDE KOMS van YESHUA as KONING van die konings en MEESTER van die meesters en GELOWIGES in Hom VERHEERLIKTE LIGGAME sal ontvang en saam met HOM sal WOON in die DUISENDJARIGE VREDESRYK en daarna in die EWIGHEID saam met HOM (Yeshua die Lam van God) en SY VADER, ons HEMELSE VADER, waarin hulle die TEMPEL sal wees van die NUWE JERUSALEM.

Ons gesels dan vandag verder oor hierdie WONDERLIKE GOD van die SMAL WEG

HY IS DIE GOD WAT SY MENSE LEER HOE OM ‘N VOL EN GELUKKIGE LEWE TE LEEF, NOU REEDS OP AARDE EN TOT IN EWIGHEID

 Hierdie LEER PROSES van YHVH ons GOD het DRIE FASES:

 1. HY LEER ONS

Die woord “LEER” word soos volg omskryf in die HAT Woordeboek:

  • Dit wat GELEER word, LEERSTELLINGS (grondbeginsels), ‘n aantal REËLS (voorskrifte, bepalings, wette, verordeninge/ wetlike bepalings), TEORIEË (grondreëls van ‘n wetenskap om waargenome feite te verklaar), DOGMA (leerstellings wat neergelê word deur ‘n ourotiteit as onweerlegbaar), ORTODOKS (nougesette godsdienstige, tradisionele of filosofiese leerstellings en voorskrifte).
  • Dit word genoem: ONDERWYS, ONDERRIG, LES GEE, VAARDIGHEID in iets opdoen, KENNIS OORDRA, PREEK.
  • Dit behels om: met die VERSTAND IN TE NEEM en jou EIE te MAAK; in die GEHEUE OP TE NEEM en VAS TE LÊ en INSIG te ONTWIKKEL.

Ons lees in Jesaja 48:17-18 sê YHVH aan ISRAEL: “….jou VERLOSSER, die HEILIGE VAN ISRAEL: EK IS YHVH jou God, WAT JOU LEER WAT HEILSAAM IS (dit wat geluk en  voorspoed bring, nuttig/ waardevol en seënryk is), wat jou LEI OP DIE WEG wat jy MOET GAAN. Ag as jy maar na MY GEBOOIE GELUISTER HET, dan sou jou VREDE wees soos ‘n rivier en jou GEREGTIGHEID soos die golwe van die see; dan sou jou NAKOMELINGE gewees het  soos die sand, en die wat uit jou liggaam  voortkom, soos die korreltjies daarvan; sy naam sou nie uitgeroei of verdelg word voor My aangesig nie!”

En in Jeremia 33:3 sê YHVH aan die profeet: “ROEP MY aan, en EK SAL jou ANTWOORD en jou BEKEND MAAK GROOT en ONDEURGRONDELIKE DINGE (dinge wat die menslike verstand nie kan begryp nie) wat jy nie weet nie.” 

Dawid het God as sy LEERMEESTER geken, hy sê in Psalm 25:4-5 “YHVH, maak my U WEË BEKEND; LEER MY U PAAIE. LEI my in U WAARHEID en LEER my, want U is die GOD van my HEIL (my redding en veiligheid). U verwag ek die hele dag.”  En in Psalm 32:8-9 skryf Dawid ‘n Psalm van ONDERWYSING en lees ons van YHVH ons GOD as LEERMEESTER die volgende: “EK WIL jou ONDERRIG (jou oplei) en jou LEER AANGAANDE DIE WEG wat jy MOET GAAN; EK WIL RAAD GEE; MY OOG SAL OP jou WEES. Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel (‘n esel/ donkie gekruis met ‘n perd) wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet TEM (mak maak) met TOOM en TEUEL (‘n leertoestel waarmee ‘n dier beheer word), anders kom hy nie naby jou nie.”

Ons lees ook in Psalm 94:12-13: “WELGELUKSALIG (gelukkig en geseënd) is die man, o YHVH, wat U ONDERRIG en wat U LEER uit U WET (Torah, Instruksies in Genesis tot Deuternomium) om hom RUS te GEE van die DAE van TEËSPOED (onheil/ groot ongeluk, mislukking, ramp), totdat die kuil (Psalm 55:24 praat van die put van vernietiging wat moontlik na die graf en die doderyk verwys) vir die goddelose gegrawe word.”

Spreuke hoofstuk 2 gee aan ons ‘n goeie oorsig van dit wat YHVH ons GOD ons wil LEER en die REDES daarvoor. Ons lees hier die volgende:

  • My seun, as jy MY WOORDE AANNEEM (aanvaar) en MY GEBOOIE by jou BEWAAR (dit hou/ onderhou en doen), sodat jy jou OOR laat LUISTER na WYSHEID, jou HART neig (wend/ draai) tot VERSTAND (die vermoë om te verstaan/ te begryp); (vers 1-2).
  • ja, as jy na die INSIG ROEP, na die VERSTAND jou STEM verhef (hard uitroep) (vers 3).
  • as jy daarna SOEK soos na silwer en dit NASPOOR soos verborge skatte, dan sal jy die VREES van YHVH VERSTAAN en die KENNIS van GOD VIND want YHVH GEE WYSHEID, uit SY MOND KOM KENNIS en VERSTAND, (vers 4-6).
  • en HY BEWAAR (sorg vir) HULP vir die OPREGTES, HY IS ‘n SKILD vir die wat REGSKAPE (eerlik, opreg, deugsaam/ goed) WANDEL (leef), deurdat HY die PAAIE van die REG BEWAAK en die WEG van SY gunsgenote (die wat deel in Sy guns en genade) BEWAAR; (vers 7-8).
  • dan sal jy GEREGTIGHEID en REG VERSTAAN en REGVERDIGHEID ELKE GOEIE PAD. (vers 9).
  • Want WYSHEID sal in jou HART kom, en KENNIS vir jou SIEL (hart, verstand/ gedagtes) LIEFLIK wees; OORLEG (oordenking) sal oor jou WAG HOU, VERSTAND sal jou BEWAAK om jou TE RED van die weg van die slegte, van die mens wat valse dinge spreek, van die wat die PAAIE van OPREGTHEID verlaat om op weë van duisternis te wandel (te leef), die wat hulle verheug (vreugde vind) in kwaaddoen, wat juig oor die valse streke van die slegte, van wie die paaie verkeerd is, en wat afwyk in hulle spore; (vers 10-15).
  • om jou te RED van die VREEMDE VROU, van die ONTUGTIGE (sedelose/ onkuise) wat met haar WOORDE VLEI wat die vriend van haar jeug verlaat en die VERBOND van haar GOD VERGEET; want haar huis sink weg na die DOOD en haar paaie na die skimme (afgestorwenes/ dooies); ALMAL wat by haar INGAAN, kom nie terug nie en BEREIK die PAAIE van DIE LEWE NIE (vers 15-19).
  • sodat jy kan wandel (kan leef) op DIE WEG van die GOEIES en die PAAIE van die REGVERDIGES kan HOU; want DIE OPREGTES sal die LAND (die nuwe aarde, lees Psalm 37:22) BEWOON, en die REGSKAPENES (eerlikes, opregtes, goeies) daarin OORBLY, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.” (vers 20-22).

En ons BESTE VOORBEELD van YHVH ons GOD as ons LEERMEESTER is natuurlik YESHUA ons MESSIAS self, DIE WOORD VAN GOD DIE VADER wat VLEES GEWORD HET soos ons lees in Johannes 1:14 en INDERDAAT GOD DIE VADER SELF IS soos ons lees in Jesaja 9:5 en Kolosense 1:15-16.

Mattheus 7:28-29 sê: “En toe Yeshua hierdie WOORDE geëindig het (met verwysing na die einde van die BERGPREDIKASIE oor die OORDEEL, aanhoudende GEBED, die SMAL en die BREË POORT, VALS PROFETE en HOOR en DOEN), was die skare VERSLAE (verstom/ verwonderd) or SY LEER; want HY HET hulle GELEER soos een wat GESAG het, en  nie soos die skrifgeleerdes nie.” Lees ook Mattheus 13:54 & 22:33, Markus 1:22 & 6:2, Lukas 4:32 en Johannes 7:46.

Die Bybel in Praktyk verduidelik: die godsdienstige leiers bekend as die SKRIFGELEERDES, het uit die ou geskrifte aangehaal en die woorde van gesaghebbende leermeesters uit die geskiedenis gebruik om hulle sienings en interpretasies te ondersteun. Yeshua IS SELF die WOORD en het daarom met Sy eie gesag gepraat en nie nodig gehad om enige iemand anders se woorde aan te haal nie.

Ons sien YESHUA se LERINGE dwarsdeur die EVANGELIES waarin HY SY DISSIPELS en ander mense GELEER het met:

  • SALIGSPREKINGE (uitsprake van redding, seën en hoogste geluk, lees Mattheus 5:1-12).
  • Die BERG PREDIKING (waarin Yeshua getrouheid en gehoorsaamheid aan God die Vader beklemtoon, lees Mattheus hoofstuk 5-7 en Lukas 6:17-49).
  • GELYKENISSE (verhale uit die daaglikse lewe wat godsdienstige waarhede of morele lesse verduidelik/ makliker verstaanbaar maak, lees Mattheus hoofstuk 13, 20, 21 & 25, Markus 4 & 12 en Lukas hoofstuk 7,8 & 10-20) en;
  • PROFETIESE REDE (verduidelikings) oor die EINDTYD (lees Mattheus hoofstuk 24-25, Markus 13, Lukas 12:42-48, 19:11-27 en Lukas 21:5-36).

En daarom noem hulle Hom RABBI, wat beteken LEERMEESTER. In Johannes 1:50 sê Natánael vir Hom: “RABBI, U IS DIE SEUN van GOD, U IS DIE KONING VAN ISRAEL!”  Lees ook Johannes 3:2, 4:31, 6:25, 11:8 & 20:16 en Markus 11:21.

En nadat Yeshua ons Messias opgestaan het en voor SY hemelvaart lees ons in Lukas 24:44-45 het HY Sy dissipels se VERSTAND GEOPEN om die SKRIFTE, die Woorde wat oor Hom gekryf is in die WET van Moses, dus die Torah (Genesis tot Deuternomium), die Profete en die Psalms wat vervul moes word, te VERSTAAN.

En ons weet Yeshua het Sy disipels voorberei daarop dat Hy na die Vader moes gaan maar Hy het BELOWE dat die HEILIGE GEES na hulle gestuur sou word as LEERMEESTER.

En ons sien reeds in die Ou Testament in Nehemia 9:20a beskryf Nehemia die HEILIGE GEES as ons LEERMEESTER, ons lees hier: “En U GOEIE GEES het U GEGEE om hulle (die volk in die woestyn na die uittog uit Egipte) te ONDERRIG,…” Die verskil was dat YHVH in die Ou Testament slegs in geselekteerde mense SY HELIGE GEES geplaas het vir ‘n SPESIFIEKE DOEL soos ons ook lees in Eksodus 31:1-11, Numeri 11:17, 1 Samuel 10:6 & 10, 2 Konings 2:15 en Jesaja 63:11. Maar vandag het elke GELOWIGE VOLGELING van YESHUA die MESSIAS die VOORREG om die HEILIGE GEES te ontvang as LEERMEESTER soos ons lees in Handelinge hoofstuk 2 en Joël 2:28-32.

Ons lees in Johannes 14:16-17 & 26 sê Yeshua: “En EK sal (tot) die Vader BID, en Hy sal julle ‘n ander TROOSTER (wat opbeur en bemoedig) GEE om BY julle TE BLY tot in EWIGHEID: die GEES van die WAARHEID wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit HOM nie SIEN en HOM nie KEN nie; maar julle KEN HOM, omdat HY BY julle BLY en IN julle sal wees….die TROOSTER, die HEILIGE GEES, wat die VADER in MY NAAM sal STUUR, HY SAL julle ALLES LEER en sal julle HERINNER aan ALLES wat EK vir julle gesê het.”

En ons lees ook in 1 Johannes 2:20 & 27b “En julle het die SALWING (geestelike krag) van die HEILIGE (YHVH ons God) en WEET ALLES en die SALWING wat julle van HOM ONTVANG HET, BLY IN julle, en julle het nie nodig dat iemand julle LEER nie; maar soos dieselfde SALWING julle aangaande ALLES LEER,… ”

En dan weet ons natuurlik ook die HEILIGE GEES LEER ons in LYN met DIE WOORD van YHVH ons GOD. Yeshua ons Messias sê in Johannes 16:13-15 …wanneer HY GEKOM het, die GEES van WAARHEID, sal HY julle IN DIE HELE WAARHEID LEI; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar ALLES wat HY HOOR, sal HY SPREEK en die TOEKOMSTIGE DINGE aan julle VERKONDIG. HY sal MY VERHEERLIK, omdat HY dit sal neem uit wat aan MY BEHOORT, en aan julle VERKONDIG. ALLES wat die VADER HET, IS MYNE; daarom het EK gesê dat HY dit sal neem uit wat aan MY BEHOORT, en aan julle VERKONDIG.“  Dus bevestig Yeshua ons Messias duidelik hier dat Hy self God die Vader is en dus is ALLES wat in die Ou Testament opgeskryf is SY WOORDE en BEHOORT dit aan HOM!  Lees ook Johannes 17:10.

Paulus bevestig in 2 Timotheus 3:16-17 “Die HELE SKRIF (die WOORD) is deur GOD (die Vader) ingegee en is NUTTIG tot LERING, tot WEERLEGGING (om te bewys dat iets nie waar is nie) tot TEREGWYSING (vermaning/ om erstig te waarsku), tot ONDERWYSING (onderrigting) in die GEREGTIGHEID (om te DOEN wat REG is volgens GOD se WIL en WOORD), sodat die mens van GOD (die mense wat in Hom GLO en HOM VOLG en dus aan HOM BEHOORT) VOLKOME kan wees, vir ELKE GOEIE WERK VOLKOME TOEGERUS.” En in Romeine 15:4 sê Paulus: “Want ALLES wat tevore geskrywe is, is tot ons LERING tevore geskrywe, sodat ons deur LYDSAAMHEID (geduld en berusting) en BEMOEDIGING van die SKRIF (die WOORD van GOD) HOOP kan hê.” Lees ook Romeine 4:23-24, 1 Korinthiërs 9:9-10 en 10:6 & 11.

En in 1 Petrus 2:2 sê Petrus: “…en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die ONVERVALSTE MELK van die WOORD, dat julle daardeur kan OPGROEI (grootword). En dan kom daar ‘n tyd dat ons gereed moet word vir VASTE SPYS (die meer gewigtige sake van die Woord) sodat ons GEESTELIK VOLWASSE MENSE kan word soos Paulus verduidelik in 1 Korinthiërs hoofstuk 3.

2. HY TOETS ONS

Die woord “TOETS” word soos volg omskryf in die HAT Woordeboek:

  • ‘n PROEF (ondersoek/ noukeurige/ kritiese nagaan/ streng beoordeling/ navorsing) om GEHALTE (suiwerheid, waarde) te bepaal.
  • ‘n Algemene ONDERSOEK om ‘n TOETS te DEURSTAAN (te verduur en te slaag/ kwaliteit of bekwaamheid/ vermoë om te hanteer/ die GESKIKTHEID vir ‘n BEPAALDE DOEL te bewys);
  • Streng TOETSE van KRITIEK (streng beoordeling) en WAARHEID.
  • VOORLOPIGE EKSAMENS om leerlinge/ student se KENNIS te ondersoek.
  • ‘n GEHALTE ONDERSOEK om EGTHEID te bepaal.

Dan is daar ook “BEPROEWING” wat te make het met:

  • Om op die RPOEF te stel deur LYDING (smart/ groot verdriet/ hartseer, ellende/ nood/ ramp, liggaamlike pyn/ geestelike uitdagings).
  • Om BETROUBAARHEID en DEEGLIKHEID te TOETS.

Paulus het verstaan ons LEER deur LYDING, hy sê in Romeine 5:3-4 “…ons roem (verbly ons) ook in die VERDRUKKINGE (onderdrukking met geweld waar vryhede en voorregte weggeneem word), omdat ons weet dat die VERDUKKING LYDSAAMHEID (geduld en berusting) bewerk (tot gevolg het/ laat ontwikkel) en die LYDSAAMHEID BEPROEFDHEID (betroubaarheid) en die BEPROEFDHEID HOOP; en die HOOP BESKAAM nie, omdat DIE LIEFDE VAN GOD in ons HARTE uitgestort is deur die HEILIGE GEES wat aan ons GEGEE is.”  En Petrus leer ons ook hierdie waarheid in 1 Petrus 3:14 en Jakobus in Jakobus 1:2-3.

Ons lees in Jeremia 17:10 “Ek, YHVH, DEURSOEK die HART, TOETS die NIERE (simbolies vir emosies), om aan ELKEEN te GEE volgens sy WEË, volgens die VRUG (die resultaat, die gevolg) van sy HANDELINGE (dade, optrede).” En in Psalm 26:2 vra Dawid aan God om hom te TOETS, te BEPROEF en sy NIERE (emosies) en HART (gedagtes) te keur (te beoordeel).

En in Openbaring 2:23 in die BRIEF aan die GEMEENTE van THIATIRE sê YEHSUA: “…en AL die GEMEENTES sal WEET dat dit EK IS wat NIERE (emosies) en HARTE (gedagtes) DEURSOEK en EK sal aan elkeen gee volgens sy werke (dade).” En in Psalm 26:2 vra Dawid aan God om hom te TOETS, te BEPROEF en sy NIERE (emosies) en HART (gedagtes) te keur (te beoordeel). 

Ons lees in Psalm 66:10-12 “Want U het ons GETOETS, o GOD, U het ons GELOUTER (gesuiwer, gereinig) soos ‘n mens silwer louter. U het ons in die (vang) net gebring, ‘n swaar las op ons heupe gelê. U het mense oor ons hoof laat ry (mense ons laat vertrap); ons het in die vuur en in die water gekom (God vorm Sy volk deur beproewing en lyding), maar U het ons UITGELEI IN DIE OORVLOED.” 

Spreuke 17:3 sê: “.Die SMELTKROES (vuurvaste houer vir die smelt van metale) is vir die silwer en die OOND vir die goud, maar YHVH TOETS die HARTE.” En in Maleagi 3:3 lees ons ‘n profesie oor Yeshua ons Messias se TWEEDE KOMS:  “En Hy sal sit: ‘n SMELTER en REINIGER van silwer, en HY sal die seuns van Levi (die PRIESTERS, met verwysing hier na die PRIESTERS wat deel gevorm het van JUDA, dus die Suidryk) REINIG en LOUTER soos goud en soos silwer, sodat hulle aan YHVH in GEREGTIGHEID ‘n offer sal bring (dat hulle sal DOEN wat REG is). ”

Paulus verduidelik in 1 Korinthiërs 10:13 “Geen VERSOEKING (verleiding) het julle aangegryp (aangeval) behalwe ‘n menslike nie (verleiding eie aan die mens se sondige natuur); maar God is GETROU, wat nie sal TOELAAT dat julle bo julle kragte VERSOEK word nie; maar HY sal SAAM met die VERSOEKING ook die UITKOMS GEE, sodat julle dit sal kan VERDRA (verduur, uitstaan ly, deurstaan).” ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Josef wat weerstand gebied het teen Potifar se vrou se verleiding en uiteindelik vir haar weggehardloop het soos ons lees in Genesis hoofstuk 39. GOD GEE dus aan ons ‘n ONTSNAPPINGSROETE maar ons moet KIES om dit te neem want ons weet die VLEES (ons ou sondige natuur) gaan die sonde KIES! Dus VERSOEK GOD ons nie soos Jakobus verduidelik in hoofstuk 1:12-16, MAAR HY kan VERSOEKING TOELAAT om te TOETS of ons al GELEER HET en GEWILLIG IS om die VLEES te VERSLAAN deur WEG TE HARDLOOP vir VEROSEKING of dit TEEN TE STAAN en of ons STEEDS GEWILLIG DAARAAN TOEGEE. Paulus gee ook later aan Timotheus hierdie advies om te VLUG vir sonde in 1 Timotheus 6:3-12. Soms dink ons, ons sal die VESOEKING kan “hanteer” maar God weet VERSOEKING is te sterk vir ons, daarom is die ADVIES in SY WOORD: WEES WAAKSAAM (wakker, oplettend, op jou hoede) en VLUG (hardloop weg vir gevaar) of STAAN DIT TEEN (soos ons ook lees in 1 Petrus 5:8-9), maar soms is VLUG die beste en daarom moet ons LUISTER na die ADVIES van die HEILIGE GEES oor die BESTE WEG wat ons moet volg.

Hebreers 4:12 verduidelik aan ons dat YHVH ons GOD se WOORD, LEWEND, KRAGTIG en  SKERPER is as enige TWEESNYDENDE SWAARD, en die vermoë het om deur: “te dring tot die skeiding van SIEL en GEES en van GEWRIGTE en MURG (dus die LIGGAAM) en dit is ‘n BEOORDEELAAR van die OORLEGGINGE (oorwegings) en GEDAGTES van die HART.” En daarom verstaan ons dat TOETSING/ BEPROEWING met die DOEL van DISSIPLINERING ‘n SEER PROSES is. Ons kan dit vergelyk met ‘n OPERASIE om ‘n KWAADAARDIGE GEWAS uit te sny, dis nie lekker nie, maar dis NOOODSAAKLIK vir OORLEWING, sodat ons ‘n OORVLOEDIGE LEWE kan geniet en die EWIGE LEWE verkry!

Ons lees ook in Hebreërs 4:13 “En daar is GEEN SKEPSEL (lewende wese, mens) onsigbaar voor Hom nie, maar ALLES is oop en bloot voor die oë van HOM met wie ons te doen het.” Dit word bevestig in vele gedeeltes in die Evangelies waarin ons lees: “En Hy (Yeshua) HET GEWEET wat hulle DINK.” Lees Mattheus 9:4, 12:25 & 22:18, Lukas 5:22 & 11:17-22, Johannes 2:24-25 en 16:19. HY WEET dus wat ons DINK en HY WEET WIE en WAT ons is, maar HY PLAAS ons onder DRUK of laat VERSOEKINGS en TOETSE in ons lewens toe sodat ons ons eie tekortkominge en die ou sondige natuur wat nog teenwoordig is SELF kan SIEN want ons is dikwels BLIND vir ons eie gedrag! Wanneer ons dan daarvan BEWUS word, kan ons KIES om iets daaraan te doen, want die ontwikkeling van INSIG in ons eie probleme en ons aandeel daarin, is ‘n VOORVEREISTE vir VERANDERING en HERSTEL.

In 1 Thessalonisense 2:4 sê Paulus: “…soos ons deur God waardig geag is dat die EVANGELIE (die GOEIE NUUS) aan ons toevertou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag (tevrede te stel nie), maar GOD wat ons HARTE BEPROEF.” En Jakobus sê in hoofstuk 1:2-4 & 12 “Ag dit louter VREUGDE my broers (medegelowiges), wanneer julle in allerhande VERSOEKINGE val, omdat julle weet dat BEPROEWING van julle GELOOF LYDSAAMHEID (geduld en berusting) bewerk (tot gevolg het, ontwikkel). Maar die LYDSAAMHEID moet tot VOLLE VERWERKLIKING (tot werklikheid) kom, sodat julle VOLMAAK en SONDER GEBREK kan wees en in NIKS KORTKOM nie…SALIG (gelukkig en geseënd) is die man wat VERSOEKING VERDRA (verduur, uitstaan ly, deurstaan), want as hy die TOETS DEURSTAAN het, sal hy die KROON van die LEWE ONTVANG (dus die EWIGE LEWE) wat die MEESTER (Yeshua) BELOOF het aan die wat HOM LIEFHET.” Lees Openbaring 2:10.

Ons lees ook in 1 Petrus 1:3-7 “GESEËND is die GOD en VADER van onse MEESTER YESHUA die MESSIAS wat in SY grote barmhartigheid ons die WEDERGEBOORTE GESKENK het tot ‘n LEWENDE HOOP deur die OPSTANDING van Yeshua die Messias uit die dood, sodat  ons ‘n ONVERGANKLIKE en ONBESMETTE ERFENIS kan verkry, wat in die hemele BEWAAR is vir ons wat in die KRAG van GOD bewaar word deur die GELOOF tot die SALIGHEID (tot redding) wat GEREED is om GEOPENBAAR te word in die LAASTE TYD. Daarin VERHEUG julle jul, al word julle nou – as dit nodig is – ‘n kort tydjie BEDROEF onder ALLERHANDE BEPROEWINGE, sodat die BEPROEFDHEID (egtheid) van julle GELOOF, wat baie KOSBAARDER is as goud wat vergaan maar deur VUUR GELOUTER word, BEVIND mag word tot LOF en EER en HEERLIKHEID by die OPENBARING (die WEDERKOMS) van YESHUA die MESSIAS;” En in 1 Petrus 4:12-13 sê Petrus: “Geliefdes (medegelowiges), verbaas julle nie oor die VUURGLOED van VERVOLGING onder julle wat tot julle BEPROEWING dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle GEMEENSKAP (intiem deel het) het aan die LYDE (smart, pyn, lyding) van die MESSIAS, moet julle BLY WEES, sodat julle ook by die OPENBARING van SY HEERLIKHEID (SY WEDERKOMS) met BLYDSKAP kan JUBEL.” 

Yeshua ons Messias gee aan ons die OPDRAG om te OORWIN!!! Ons lees in Openbaring hoofstuk 2-3 in die boodkappe aan al SEWE GEMEENTES dat DIE WAT OORWIN BELONINGS sal ontvang. So wat moet ons OORWIN? Die DINGE van die VLEES (die ou sondige natuur)! Paulus verduidelik dit ook in Effesiers 6:10-19, ons is in ‘n OORLOG teen die VLEES en die BOSE MAGTE waarvan die vlees ‘n slaaf is! Gelowiges is LOSGEKOOP deur die BLOED van YESHUA ons MESSIAS maar op aarde BENODIG ons GOD se VOLLE WAPENRUSTING want ons MOET steeds VEG teen die vlees (ons ou sondige natuur) en die versoekinge van die vlees tot die BLOED LOOP want die vlees en die bose magte gee nie maklik op nie! Daarom beskryf die skrywer van die Boek Hebreërs in hoofstuk 12:4 dit as ‘n STRYD om WEERSTAND te bied TEEN die sonde tot die BLOED LOOP. Ons kan ook sê tot ons OORWINNING daaroor behaal het!

3. GOD DISSIPLINEER ONS

Die woord “DISSIPLINE” word soos volg omskryf in die HAT Woordeboek:

  • GEHOORSAAMHEID aan GESAG;
  • ORDELIKE GEDRAG (volgens gestelde reëls);
  • TUG (oefening, ontwikkeling van die siel/ hart en gedagtes en gees om GEHORSAAMHEID en STENG ORDE te VERSEKER om VERKEERDE NEIGINGS te BEHEERS – meester daaroor te wees/ dit te OORWIN; om GESAG te AANVAAR deur straf op te lê);
  • BESTRAWING (straf oplê/ ondergaan, berispe/ teregwys/ vermaan/ ernstig waarsku oor verkeerde gedrag en die gevolge daarvan en aanspooring tot verbetering en die voordele daarvan) om ORDE te BEWAAR (te behou, te verseker).

En “DISSIPLINEER” word soos volg omskryf:

  • Onder TUG bring;
  • GEHOORSAAMHEID aan te kweek (te laat groei, ontwikkel).

In Job 5:17-18 lees ons: “…GELUKKIG is die man wat GOD kasty (liggaamlike straf toedien tot verbetering van gedrag); verwerp daarom die TUGTIGING van die ALMAGTIGE nie. Want Hy doen smart aan, maar VERBIND ook; HY verbrysel, maar SY HANDE MAAK GESOND.”

In Spreuke hoofstuk 3 word YHVH ons GOD se DISSIPLINE PROSES en die VOORDELE daarvan soos volg verduidelik in vers 1-12:

  • “My seun, vergeet my ONDERWYSING nie, en laat jou HART MY GEBOOIE bewaar (gehoorsaam); want dit sal lengte van dae en jare van lewe en VREDE vir jou vermeerder (vers 1-2).
  • Laat LIEFDE en TROU (standvastigheid, getrouheid) jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou HART, dan sal jy GENADE vind en ‘n goeie INSIG in die oë van GOD (die Vader) en die mense (vers 3-5).
  • VERTOU op YHVH met jou HELE HART en steun nie op jou eie insig nie (vers 5).
  • KEN HOM in AL jou WEË, dan sal Hy jou paaie gelykmaak (vers 6).
  • Wees nie WYS in jou eie oë nie; VREES YHVH, en wyk af van die kwaad; dit sal GENESING wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou GEBEENTE (vers 7-8).
  • VEREER YHVH uit jou GOED en uit die EERSTELINGE van AL jou INKOMSTE; dan sal jou skure vol word van OORVLOED en jou parskuipe oorloop van mos (ongegiste drywesap) (vers 9-10).
  • My seun, verag die tug (die straf om gedrag te verbeter) van YHVH nie, en laat Sy kastyding (teregwysing wat met lyding gepaard kan gaan) nie jou weersin (afkeer) wek nie (moenie jou verset nie/ Hom teëstaan nie), want YHVH tugtig hom wat HY LIEFHET, ja, soos ‘n VADER die seun in wie hy ‘n welbehae het (vers 11-12).

Spreuke 22:6 stel dit so: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg (die NLV sê: .Leer ‘n jongmens om die REGTE PAD te KIES.); dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”

En Spreuke 12:1 waarsku ons: “Een wat die TUG LIEFHET, het KENNIS LIEF; maar wie die TEREGWYSING HAAT, is dom (het min verstand).”

Spreuke 13:24 verduidelik aan ons die verband tussen DISSIPLINE en LIEFDE, ons lees hier: “Wie sy roede (lat/ rotang/ lyfstraf) terughou, haat sy seun; maar hy wat hom LIEFHET, besoek (beproef) hom met TUGTIGING.”

Die Bybel in Praktyk verduidelik: Dit si nie vir ‘n ouer maklik om die kind wat hy liefhet te dissiplineer nie, maar dit is noodsaaklik. Die heel grootstte verantwoordelikheid wat God op ‘n ouer lê, is om sy kind te versorg en te lei. As dit nie met dissipline gepaardgaan nie, wonder ‘n mens oor die ouer se liefde, want dit lyk dan asof hy nie oor die karaktervorming van sy kind begaan is nie. Dissipline voorkom tragedies. As kinders nie reggehelp word nie kan hulle nie tussen reg en verkeerd onderskei nie en kan daar nie rigting in hulle lewens wees nie.

En dit word verkseie kere in Spreuke herhaal:

  • Spreuke 19:18 sê “TUGTIG jou seun, want daar is HOOP; maar laat dit nie in jou opkom om hom dood te maak nie (moet hom dus nie doodslaan nie en mens kan dus moontlik sê moenie slaan wanneer jy kwaad is nie, maar tug in liefde).”
  • Spreuke 22:15 sê “As die SOTHEID (dwaasheid, onverstandigheid) vassit in die HART (gedagtes) van die seun, die TUGROEDE (streng tug wat uitgeoefen word) sal dit daaruit verwyder.”
  • Spreuke 23:13-14 sê “Hou die TUG nie terug van die seun nie; as jy hom met die ROEDE (lat/ rotang) slaan, sal hy nie sterwe nie. Jy sal hom wel met de roede slaan, maar sy LEWE van die doderyk RED.” Ons sien hierdie selfde beginsel in Mattheus 18:34, in die straf wat toegepas word op die onregverdige amptenaar wat wou hê dat die koning sy skuld afskryf, maar nie bereid was om sy medeamptenaar se skuld af te skryf nie (‘n gelykenis wat oor vergifnis gehandel het) en 1 Korinthiërs 5:5 waar streng dissipline in die gemeente toegepas is deur Paulus.
  • Spreuke 29:15 & 17 sê “Die ROEDE en die BESTRAFFING GEE WYSHEID; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande…TUGTIG jou seun, dan sal hy jou RUS gee en aan jou siel (jou hart en verstand) VREUGDE verskaf.”

Paulus gee in Efesiërs 6:1-4 aan kinders en ouers die volgende aanbevelings: “Kinders, julle moet jul ouers GEHOORSAAM wees in die Meester (Yeshua), want dit is REG. EER jou vader en jou moeder – dit is die EERSTE GEBOD met ‘n BELOFTE – sodat dit met jou GOED mag gaan en jy LANK mag LEWE op de aarde. En vaders, moenie julle kinders vertoorn (kwaad maak, terg/ hulle opstandig maaak nie) nie, maar VOED hulle op in die TUG en VERMANING van Meester Yeshua.

Die Bybel in Praktyk verduidelik: Ouers en kinders het ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. Kinders moet hulle ouers eer en respekteer selfs as hulle veeleisend of onredelik is. Ouers moet hulle kniders met liefde grootmaak, selfs as hulle ongehoorsaam en onaangenaam is.

Paulus verduidelik die SEER maar ook die VOORDELE van die DISSIPLINERINGSPROSES in 2 Korinthiërs 7:8-11, “Want al het ek julle ook deur die brief BEDROEF (hartseer, teneergedruk) gemaak, is ek nie jammer nie, al was ek ook (aanvanklik) jammer. Want ek sien dat daardie brief, al was dit vir ‘n kort tydjie, julle BEDROEF gemaak het. Nou is ek BLY, nie omdat julle BEDROEF WAS nie, maar omdat julle BEDROEF was TOT BEKERING, want julle was BEDROEF VOLGENS DIE WIL VAN GOD, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie. Want die DROEFHEID volgens die WIL van GOD werk (lei tot) ‘n ONBEROULIKE (waaroor geen berou, spyt of droefheid gevoel word nie) BEKERING TOT REDDING, maar die DROEFHEID van die wêreld werk (lei tot) die DOOD. Want kyk, juis dit, dat julle BEDROEF geword het volgens die WIL van GOD – wat ‘n groot ywer (geesdrif, entoesiasme) het dit in julle gewerk (tot gevolg gehad), ja, VERANTWOORDING (die neem van aanspreeklikheid/ aanvaarding van verantwoordleikheid), VERONTWAARDIGING (gegriefdheid, ergenis oor dit wat teen God se wil is), VREES, VERLANGE, YWER (geesdrif, entoesiasme), BESTRAFFING (om straf te ondegaan). In ALLES het julle BEWYS dat julle in die saak REIN (suiwer, onbevlek, onbesmet) is.” Hulle was dus bereid om hulle sondes te erken en te bely en tot inkeer te kom.

En in Hebreërs 12:5-16 word ons GEROEP om VAS te STAAN in BEPROEWING volgens die VOORBEELD van YESHUA ons MESSIAS. Ons lees hier:

  • “En julle het die VERMANING heeltemal VERGEET. Wat tot julle as seuns spreek (en dan haal die skrywer Spreuke 3:11-12 aan): My seun, ag die TUGTIGING van YHVH nie gering nie en beswyk nie (moenie inmekaarsak) nie as jy deur Hom BESTRAF word nie; want YHVH TUGTIG hom wat HY LIEFHET en HY KASTY (dien liggaamlike straf toe tot verbetering van die gedrag van) elke seun wat Hy aanneem (vers 5-6). 
  • As julle die TUGTIGING VERDRA (verduur, uitstaan ly, deurstaan), behandel God (die Vader) julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader (wie se pa hom) nie TUGTIG nie? Maar as julle sonder TUGTIGING is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. (vers 7-8). 
  • Verder, ons het ons vaders na die vlees (liggaamlik) as kastyders (liggaamlike straf toedieners om gedrag te verbeter) gehad, en ons het vir hulle ontsag (eerbied) gehad; moet ons nie VEEL MEER aan die VADER van die geeste (ons geestelike Vader) onderworpe wees en LEWE nie? Want hulle (ons aardse vaders) het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete (so goed as wat hulle kon) GETUGTIG; maar HY (God die Vader) tot ons BESWIL (in ons belang, tot ons voordeel) sodat ons SY HEILIGHEID kan deelagtig word (vers 9-10). 
  • Nou lyk ELKE TUGTIGING of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van DROEFHEID; (maar) LATER lewer dit egter ‘n VREDEVOLLE VRUG van GEREGTIGHEID vir die wat daardeur GEOEFEN is (vers 11). 
  • Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lid raak nie, maar liewer GESOND GEMAAK word. (vers 12-13). 
  • Jaag die VREDE na met ALMAL, en die HEILIGMAKING (geestelike reininging, totstandkoming van ‘n nuwe lewe) waarsonder niemand YHVH sal sien nie; en pas op dat niemand in die GENADE van GOD VERAGTER (agteruitgaan, hulle lewensstandaard verlaag) nie, dat geen BITTER WORTEL opskiet en ONRUS (spanning, angs, oproerigheid/ verset/ opstandigheid) verwek en baie hierdeur BESOEDEL word nie (vers 14-15). 
  • Laat niemand ‘n hoereerder (‘n egbreker) wees nie, of ‘n onheilige (goddelose) soos Esau , wat vir een spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.” (vers 16).

En dit word BEVESTIG deur Yeshua ons Messias in die boodskappe aan die SEWE GEMEENTES in Openbaring 3:19 en spesifiek aan die Gemeente van Laodicea waarin Hy sê: “ALMAL wat Ek LIEFHET, bestraf (berispe, wystereg) en tugtig Ek. Wees dan ywerig (vol geesdrif, entoesiasties) en BEKEER jou.”

He-Brews-Coffee-Roastery-Logo

Stay In Touch