13 Mei 2026 Ons is gesels vandag verder oor, MY REIS VANUIT DIE DUISTERNIS (die…
DIE WAARHEID oor die KRUISIGING en die SIMBOOL van die KRUIS, Deel 25: Die laaste konings van Juda – BALLINGSKAP/ GEVANGENESKAP van 70 JAAR weens ONGEHOORSAAMHEID en REBELLIE
14 Januarie 2026
Ons het laas in September 2025 gesels oor die TWYFEL wat onder gelowiges ontstaan het gedurende die laaste aantal jare oor die metode van KRUISIGING van YESHUA ons MESSIAS asook die SIMBOOL van die KRUIS. Die rede vir die onderbreking was die die Fees Seisoen 3 boodskappe. Ons gaan dus vandag voort waar ons in September opgehou het.
Die Teks gedeeltes wat in hierdie boodskappe aangehaal word kom hoofsaaklik vanuit die 1933 vertaling in Afrikaans. Verder word die HEBREEUSE LETTERS vir die NAAM van God die Vader soos aangedui in die oorspronklike vertalings as YHVH (Yod-Heh-Vav-Heh) gebruik waar die woord HERE in hoofletter in ons AFRIKAANSE BYBEL VERTALINGS voorkom. Die rede hiervoor is dat daar onsekerheid heers oor die uitspraak van die Naam van God die Vader omdat die klinkers in die Hebreeuse geskrifte weggelaat is weens vrees vir die misbruik van Sy Naam en gevolglike oortreding van die derde gebod van God. Ons verwys ook na Hom as Abba Vader en die Hebreeuse vertaling Yeshua die Messias word gebruik, in plaas van die Afrikaanse Bybel vertalings van Sy Naam, Jesus Christus wat uit die Grieks vertaal is.
Ons gesels vandag oor die laaste konings van die SUIDRYK (Juda en Benjamin vandag bekend as die Jode), vanaf die jaar 924 tot 597 voor die geboorte van Yeshua die Messias. En ons fokus vandag op die 17de tot 20ste konings van die Suidryk, in 2 Konings 23:31 tot hoofstuk 25 en 2 Kronieke 36.
Jóahas, die seun van koning Josia was 23 jaar oud toe hy in sy pa se plek koning geword het en hy het net drie maande in Jerusalem geregeer en die naam van sy ma was Hamútal, ‘n dogter van Jeremia (let wel, nie Jeremia die profeet nie) en sy was van Libna (‘n stad naby Lagis in die gebied van Juda). En hy het GEDOEN wat VERKEERD was in die oë van YHVH, net soos sy voorgslagte. Maar Farao Nego het hom in Ribla in die land van Hamat gevange gehou (Hamat was in die antieke naby ooste, noord van Damaskus en het die grens gevorm van die Beloofde Land waar die Kanaäniete gewoon het en was ‘n prominente staat wat ‘n kriteise rol gespeel het in handel en militêre operasies in Bybele tye en is vandag geleë in Sirieë. Jerobeam II, die koning van Israel/ die Noordryk het dit oorgeneem maar dit is later deur die Assiriërs afgeneem, lees 2 Konings 14:28 en 18:34 & 19:13) en die land (is) ‘n boete opgelê van honderd talente silver (dit is 3,5 ton silver) en ‘n talent goud (34 kg goud).
Sefanja, en Jeremia was die profete gedurende Jóahas se regerings periode.
En Farao Nego het Èljakim, die seun van Josia, koning gemaak en sy naam verander na Jójakim. Farao Nego het vir Jóahas saam met hom geneem na Egipte en daar het hy gesterf (lees 2 Konings 23:30-34 asook 2 Kronieke 36:1-4).
Jójakim is op 25 jarige oudedom aangestel as koning oor Juda en het vir 11 jaar in Jerusalem regeer. En hy moes silwer en goud van die volk af invorder en dit omsit in geld en aan Farao Nego gee volgens sy opdrag. En sy ma se naam was Sebúdda, ‘n dogter van Pedája uit Ruma (Ruma was gelee in die gebied van Benjamin, naby Gibea en Mispa ongeveer 8 km vanaf Jerusalem). En hy het GEDOEN wat VERKEERD was in die oë van YHVH net soos sy vaders voor hom gedoen het (lees 2 Konings 23:36-37).
Tydens sy regering het koning Nebukadnésar van Babel teen Juda opgetrek en koning Jójakim het homeself vir drie jaar aan hom onderwerp maar daarna het hy teen koning Nebukadnesar gerebelleer. Toe stuur YHVH die bendes van die Chaldeërs (Galdeërs) teen hom (die Chaldeërs het in die suide van Babilon gewoon wat vandag bekend staan as die suide van Irak. Hulle het ‘n belangtrike rol gespeel in die ontwikkeling van die Neo/ Nuwe Babiloniese Ryk ook genoem die Tweede Babiloniese Ryk met hulle hoofstad Babilon en dus is hulle ook Babiloniërs genoem) en die bendes van die Arameërs en van die Moabiete en die bendes van Ammon (is deur YHVH gestuur) om Juda te verdelg (uit te roei en te vernietig) volgens die WOORD wat YHVH gespreek het deur sy dienaars, die profete. En die REDE word aangegee in 2 Konings 24:3-4 om Juda “van Sy aangesig te verwyder vanweë die SONDES van MANASSE (die 14de koning van Juda), volgens ALLES wat hy GEDOEN het en ook die ONSKULDIGE BLOED wat hy VERGIET het, sodat hy Jerusalem met ONSKULDIGE BLOED GEVUL het; daarom wou YHVH NIE VERGEWE NIE (so hier sien ons die vervulling van wat Jesaja aan Manasse gesê het in 2 Konings 21:9-16).
En ons lees in 2 Kronieke 36:6-7 Nebukadnésar het teen Jójakim opgetrek en hom met koperkettings geboei en na Babel vervoer. En hy het ook van die voorwerpe van die huis (die tempel) van YHVH na Babel gebring en in sy tempel in Babel gesit.
Habbakuk en Jeremia was die profete gedurende Jójakim regerings periode.
En Jójakim is oorlede en sy seun Jojagin het in sy plek koning geword en die Faroa het nie verder meer uit sy land uitgetrek (in ‘n veldtog/ ‘n militêre intog teen hulle) nie want die koning van Babel het van die spruit van Egipte af tot by die Eufraatrivier ALLES GENEEM wat aan die koning van EGIPTE behoort het (2 Konings 24:5-7 en 2 Kronieke 36:5-8).
Jojagin was 18 jaar oud toe hy koning geword het en hy het drie maande en tien dae in Jerusalem regeer. En sy ma se naam was Nehusta, ‘n dogter van Elnatan van Jerusalem. En hy het GEDOEN wat VERKEERD was in die oë van YHVH, net soos sy vaders gedoen het. In dié tyd het die dienaars (die leër/ weermag) van Nebukadnesar, die koning van Babel, na Jerusalem opgetrek en die stad beleër in 609 vC (gesag oor die stad geneem) en Jojagim en sy ma en sy dienaars (lyfwagte) en sy owerstes (offisiere) en sy hofdienaars (amptenare) en die koning van Babel (Nebukadnésar) het hom gevange geneem in die agste jaar van sy (Nebukadnésar regering. En Nebukadnésar het al die skatte van die huis (tempel) van YHVH en die skatte van die huis van die koning uitgebring en al die goud van die voorwerpe afgesny wat Salomo, die koning van ISRAEL, gemaak het in die tempel van YHVH soos YHVH aan hom opdrag gegee het (lees 1 Konings 7:48-50 waarin die TEMPEL TOERUSTING bespreek word en Jesaja 39:6 en Jeremia 20:5 waarin die wegvoer na Babel en die vernietiging daarvan geprofeteer word). En koning Nebukadnésar het die HELE JERUSALEM weggevoer en al die owerstes (die offisiere/ leiers) en al die mense van vermoë (die rykes en geleerdes), tienduisend ballinge (gevangenesse) en al die smede (mense wat met metale gewerk het), en slotmakers (vakmanne); niemand het oorgebly nie behalwe, die ARM MENSE van die land (2 Konings 24:8-16 en 2 Kronieke 36:8-10).
En ons lees later weer van koning Jojagin in 2 Konings 25:27-29. Die koning wat vir Nebukadnésar na sy dood opgevolg het, Ewil Mordak het in die 37ste jaar van Juda se 70 jaar in ballingskap (gevangeniskap) vir koning Jojagin begenadig en hom uit die gevangenis vrygelaat. En so aan hom ‘n hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was. Jojagin kon sy gevanenis klere uittrek en het so lank as wat hy gelewe het aan die koning van Babel se tafel geëet en ‘n permanente toelaag van die koning ontvang vir sy daaglikse behoeftes. Lees ook Jeremia 52:31-33. Hierdie was ‘n simbool van God se genade en hoop wat steeds vir Juda (en Benjamin, die Suidryk) beskikbaar was. Dit was ‘n voorloper van hulle vrylating wat in 539 vC na hulle volle 70 jaar gevangenisskap sou plaasvind.
Jeremia was die profeet gedurende koning Jojagim se regering asook gedurende die volgende en laaste koning van Juda naamlik Sedekia.
Sedekia, was die oom van Jojagim wie se naam Matanja was, maar verander is deur koning Nebukadnésar na Sedekia en hy het hom aangestel in Jojakim se plek. Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het en hy het 11 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma se naam was Hamútal, ‘n dogter van Jeremia (nie Jeremia die profeet nie) uit Libna, dus was hy die broer van koning Jóahas. En hy het GEDOEN wat VERKEERD was in die oë van YHVH, net soos Jojakim gedoen het. (2 Konings 24:17-20).
En ons lees in 2 Kronieke 36:12-16 God het die profeet Jeremia gestuur om met koning Sedekia te praat (lees Jeremia 21:1-7, 27:12 tot hoofstuk 28:17, hoofstuk 32:1-5, 37:1-10 en 38:14-28) maar hy was hardnekkig (koppig en onversetlik) en het sy HART VERHARD (m.a.w hy het nie berou getoon nie/ hy was nie jammer oor sy dade nie), sodat hy hom nie tot YHVH, die God van ISRAEL, bekeer het nie en hy het teen koning Nebukadnésar rerebelleer. Ook al die owerstes (die hoofde/ leiers) van die priesters en die volk het BAIE ONTROU gehandel volgens al die GRUWELS (die afskuwelikhede) van die heidene (die ongelowiges), en die huis van YHVH (die Tempel) wat Hy in Jerusalem geheilig het, verontreining (dit ontwy).
En nog steeds het YHVH, die God van hulle vaders aangehou (vroeg en laat, voortdurend) om Sy boodskappers na hulle te stuur want Hy het medelye (meegevoel) met Sy volk en Sy woning (Sy Tempel) gehad. Hy het vir hulle en sy Tempel omgegee. Maar hulle het die boodskapers van God uitgelag en God se woorde verag (geminag) en met Sy profete gespot, totdat die GRIMMIGHEID (woede) van YHVH teen Sy volk opgekom (losgebreek) het, totdat daar GEEN GENESING meer was nie (die straf was onheroeplik, dit kon nie meer teruggetrek word nie).
En ons lees dan in 2 Kronieke 36:17 “So het Hy (YHVH) dan die koning van die Chaldeërs (Galdeërs/ Babiloniërs) teen hulle laat optrek, en dié het hulle jong manne met die swaard in die huis van hulle heiligdom gedood en geen jongman of jongmeisie, oue of gryse, verskoon (oorgesien) nie; Hy (YHVH) het ALLES in sy (koning Nebukadnésar) se hand gegee.
Ons lees meer detail hiervan in 2 Konings 25:1-7. En in die 9de jaar van Sedekia se regering, in die tiende maand op die tiende, het Nebukadnésar die koning van Babel gekom met sy hele leër, teen Jerusalem en daarteen laer (kamp) opgeslaan en daarteen skanse (‘n beleëringswal) rondom gebou. En die stad is beleër (gesag is daaroor geneem) tot die 11de regeringsjaar van koning Sedekia. Op die 9de van die vierde maand van daardie jaar, toe die HONGERSNOOD sterk was in die stad en die mense van die land geen brood gehad het nie, is in die stad ingebreek (‘n opening is in die muur gebreek), en al die krygsmanne (die soldate) is in die nag deur die poort, tussen die twee mure wat by koning Sedekia se tuin is, terwyl die Chaldeërs (Galdeërs/ Babiloniërs) rondom die stad was, en die koning het getrek op pad na die Vlakte toe (lees die profesie hieroor in Esegiël hoofstuk 12). Maar die leër van die Chaldeërs (Galdeërs/ Babiloniërs) het hom agternagejaag en hom in die vlaktes van Jerigo ingehaal en sy hele leër (weermag) is van hom af verstrooi (uitmekaar gejaag). En hulle het koning Sedekia gevang en hom na koning Nebukadnésar in Babel gebring. En hulle het die seuns van koning Sedekia voor sy oë geslag (op ‘n boedige wyse doodgemaak). En koning Sedekia se oë verblind (sy oë is uitgesteek) en hom met koperkettings gebind (geboei) en hom na Babel gebring. Lees ook Jeremia hoofstuk 29 en 52.
Hierdie is verskriklik, maar dit herinner ‘n mens aan Johannes 10:10a – die bose kom om te steel en te slag en te verwoes wanneer ons nie in Abba Vader se skuilplek bly deur gehooraam aan Hom te leef nie. Die profeet Jeremia het koning Sedekia keer op keer gewaarsku maar hy wou nie luister en omdraai terug na Abba Vader se weë nie, en omdat hy homself nie aan die GESAG en TUGTIGING van YHVH wou onderwerp nie is hy oorgegee aan die wrede koning Nebukadnésar van Babel.
En dan lees ons in 2 Konings 25:8-12 in die 5de maand op die 7de dag in die 19de regeringsjaar van Nebukadnésar die koning van Babel het Nebusarádan, die hoof van die lyfwag van koning Nebukadnésar in Jerusalem aangekom. EN hy het die huis (die Tempel) van YHVH en die huis van die koning verbrand asook AL die huise in Jerusalem (lees Hosia 8:14). Dit het gebeur in Julie 587 vC. EN die hele leër (weermag) van die Chaldeërs (Galdeërs/ Babiloniërs) wat by die hoof van die lyfwag was het die mure van Jerusalem omgegooi (m.a.w die beskemring weggeneem). En die res van die volk wat in die stad oorgebly het, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop (of oorgegee) het – die oorblyfsel van die menigte – het Nebusarádan weggevoer in ballingskap (gevangenisskap). Maar uit die AREMES van die land het Nebusarádan sommige laat agterbly as WYNBOERE en as LANDBOUERS. Lees ook Jeremia 40:7.
Verder het die Chaldeërs (Galdeërs/ Babiloniërs) die koper pilare wat in die huis (die Tempel) van YHVH was (lees Jeremia 34:1-2 & 39:1-2, 2 Konings 25:17 en 1 Konings 7:15-18) en die afspoelwaentjies (1 Konings 7:27) en die kopersee (1 Konings 7:23) wat in die huis van YHVH was, STUKKEND GEBREEK (m.a.w die ingang na die tempel is verwoes asook die toerusting wat gebruik is vir die was van die priesters voordat hulle in die heiligdom kon ingaan, wat ‘n voorstelling is van die FEES van ONGESUURDE BRODE wat te make het daarmee om aan ons ou natuur te sterf en daalgiks sonde belydenis te doen van sondes wat per ongeluk gedoen is in ‘n onbewaakte oomblik). Dit is nogal interessant want dit is van dié dinge wat in die hedendaagse toepassing van Christelike godsdiensrige sisteme ook in die slag gebly het en mense sien nie meer die nodigheid daarvan dat die ou sondige natuur moet sterf en dat daaglikse sonde belydenis gedoen moet word vir sondes wat per ongeluk gedoen word soos wat ‘n mens nog in proses is om die pad van heiligmaking te stap en daagliks groei en ontwikkel in gehoorsaamheid saam met die Heilige Gees in die voetspore van Yeshua ons Messias, die Een wat volkome gehoorsaam aan die Vader geleef het as ons voorbeeld op aarde.
Ons lees verder in 2 Konings 25:14 ook het hulle weggeneem het die potte en skoppe en messe en rookpanne en al die KOPERGEREEDSKAP waarmee diens verrig is (volgens Eksodus 27:3). En dan lees ons in 2 Konings 25:18-21 Nebusarádan het vir Seraja die hoofpriester geneem en Sefanja die tweede priester in bevel en die drie drumpelwagters (die mense wat waggestaan het by die ingang van die Tempel). En uit die stad het hy geneem een hofdienaar (’n offisier) wat oor die krygsmanne (die soldate) aangestel was en vyf uit die wat in die stad aanwesig was wat die koning se aangesig gesien het (m.a.w in sy binnekring was, sy vertouelinge) en die skrywer van die leerowerste (die sekretaris van die hoof van die leër/ weermag) wat die mense van die land vir krygsdiens (weermag diens) opgeroep het, 60 van die manne van die land wat in die stad aanwesig was. En hy het hulle na koning Nebukadnésar van Babel in RIBLA (’n stad in Hamat) geneem. En koning Nebukadnésar het hulle almal neergeslaan en gedood in Ribla, in die land HAMAT. En JUDA (die Suidryk, insluitend die kleiner stam van Benjamin, vandag bekend as die Jode) is uit sy land geneem en in ballingskap (gevangenisskap) weggeneem. Lees ook Jeremia hoofstuk 21 en 52.
Maar steeds sien ons ‘n klein hoeveelheid mense (‘n oorblyfsel) word in Jerusalem agtergelaat en Nebukadnésar stel Gedalja oor hulle aan, maar hy word later deur ‘n paar manne onder leiding van ISMAEL, die seun van Netanja, vemoor en die volk trek na Egipte uit vrees vir die Chaldeërs (Galdeërs/ Babiloniërs). Lees 2 Konings 25:22-25 en Jeremia hoofstuk 40-44. Ons sien dus weer hier in plaas daarvan om hulle hulp te soek by die LEWENDE GOD, gaan soek hulle hulp in Egipte by die mense wat maar deur al die eue hulle vyande was! YHVH waarsku hulle deur die profeet Jeremia om nie te vlug na Egipte nie maar hulle wou nie luister nie en het later in groot elende verval.
En ons lees dan in 2 Kronieke 36:20-23 Die mense van Juda wat nie doodgemaak is nie, is in ballingskap (gevangeniskap) na Babel weggevoer in die jaar 586 vC en hulle het vir koning Nebukadnesar en sy seuns slawe geword totdat die koningkryk van PERSIË gekom het (Daniel was een van die gevangenisse van Juda in die regeringstyd van koning Jojakim en daarom was dit hy wat koning Nebukadnésar se droom oor die standbeeld met God se hulp verklaar het en met die oorname van die Babiloniese ryk deur koning Darius van die Mediërs en Perse was Daniël in sy diens, Daniël hoofstuk 5-6). En dit (die balllingskap van Juda) het so gebeur sodat die Woord van YHVH soos deur die profeet Jeremia gespreek, vervul kon word: die Suidryk (Juda en Benjamin) sou in ballingskap bly totdat die land vir sy SABATTE VERGOED is, in totaal 70 jaar. Ons lees in Levitikus 26:32-35 & 43 “Ja, Ek (YHVH) sal self die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan. En Ek (YHVH) sal julle onder die volke verstrooi en ‘n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ‘n wildernis en julle stede puinhope word. Dan sal die LAND vir sy SABATTE VERGOEDING kry, al die dae van sy verwoesting, terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die LAND RUS…” Die rede vir die 70 jaar ballingsskap was dus om die land te laar RUS volgens YHVH se instruksies wat elke sewe jaar moes plaasvind sodat die land sy vrugbaarheid kon behou (Lees Levitikus 25 en Jeremia 25:9-12 en 29:10.
En ons lees dan verder in 2 Kronieke 36:22-23 in die eerste jaar van koning Kores (die opvolger van koning Darius), van Persië, het YHVH, die gees van Kores opgewek sodat die Woord wat YHVH deur die mond van die profeet Jeremia gespreek het vervul kon word, sodat hy ‘n oproep deur sy hele koningskryk laat gaan het om te sê: “Al die koningkryke van die aarde het YHVH, die God van hemel en aarde, aan my gegee, en Hy het my opgedra (aan my opdrag gegee) om vir Hom ‘n huis (‘n Tempel) te bou in Jerusalem wat in JUDA is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort – mag YHVH sy God met hom wees, en laat hom optrek!”
Die Bybel in Praktyk veruidelik: Juda en ISRAEL word met mekaar vergelyk soos Manasse met Agab en die slotsom is JUDA, soos ISRAEL het die VERBOND van God verbreek en die OORDEEL (soos uitgespel in Deuternomium 27-28) oor hulself gebring. God se OORDEEL is ALTYD gekoppel aan die KEUSES wat mense self maak. Ons moet Sy OORDEEL met erns beskou, en ons HARTE moet tot Hom bekeer. Dit blyk dat dit die probleem was met die volk volgens Jeremia 44:15-19, mense se harte het nie aan God behoort nie maar aan hulle afgode en hulle wou hulle eie wil volg, nie God se wil nie. Ons kan God nie bluf met ‘n skynbekering en dan in die geheim met ons ou sondige praktyke en lewens probeer voortgaan nie. Die WOORD van God is bedoel om ons AAN TE GRYP en ons tot LEWENSVERANDERENDE OPTREDE aan te spoor.
Paulus sê aan ons in 2 Timotheus 3:16 ALLES in die Woord is opgeskryf vir ons tot LERING en tot ONDERWYSING in GEREGTIGHEID (om te leef volgens die wil van God sodat ons ‘n lewe van liefde en vrede kan lei). Mag ons dus leer uit die foute van die konings van JUDA (die Suidryk wat bestaan het uit Juda en Benjamin en vandag steeds bestaan en bekendstaan as die JODE) en ISRAEL (die Noordryk, die tien stamme onder Efraim wat geasimileer het in die nasies in) en ons BEKEER tot die LEWENDE GOD van ISRAEL en Hom liefhê met ons hele hart, siel en verstand en ons naaste soos onsself en ons daarom nie regs of links van SY WEG nie.
Die SMAL WEG, deur YESHUA ons MESSIAS, die ENIGSTE en WARE WEG en die WAARHEID en die LEWE.
- Hierdie PAD na die VADER BEGIN by die KUISIGING van YESHUA ons MESSIAS op die KRUIS (die simbool in die Tabernakel is: die koper brandoffer altaar), en
- Daarna die AFLÊ van die EIE EK deur die DOOP en DAAGLIKSE SONDEBELYDENIS van nie-doelbewuste sondes (die simbool in die Tabernakel is: die koper waskom),
- Daarna die EET van die BROOD van die LEWE/ DIE DAAGLIKSE INNEEM van die WOORD en die leef van ‘n GEHOORSAME LEWE in lyn met die WOORD (die simbool in die Tabernakel is: die goue tafel met twaalf ongesuurde toonbrode), en
- Dan volg die DOOP MET die HEILIGE GEES en met VUUR (die simbool in die Tabernakel is: die goue menorah/ sewe tak lampstaander),
- Gevolg deur deurlopende GEBED (die simbool in die Tabernakel is: die goue wierook altaar) en
- Dan die instap in die TROONKAMER van ABBA VADER waar ons nou reeds in GEHOORSAAMHEID aan SY LIEFDESWET LEEF, opgeskryf in ons HARTE en dus in ons gedagtes, die GESAG/ OUTORITEIT van YESHUA ons MESSIAS opneem en VERTROU op ons VADER se volmaakte VOORSIENING vir ons elke dag (die simbool in die Tabernakel: die goue verbondsark met die Tien Gebooie, die staf van Äaron en die pot manna daarin), en
- Ons VADER se GENADE ontvang deur ons MESSIAS, die VOLMAAKTE LAM van DIE VADER (die simbool in die Tabernakel is: die goue verbondsdeksel/ genoem die VERSOENDEKSEL of “Mercy Seat” in Engels).
Ons het nou die Ou Testament ondersoek vanaf Genesis to Deuternomium, bekend as die TORAH, die PROFETE en die KONINGS van die SUIDRYK (Juda en Benjamin) asook die KONINGS van die NOORDRYK (die tien stamme onder Ephraim). En voordat ons ‘n opsomming maak van alles wat ons daaruit geleer het oor die KRUIS SIMBOOL en die KRUSIGING van YESHUA ons MESSIAS gaan ons eers ondersoek wat die NUWE TESTAMENT vir ons daaroor leer.
